Maleagi 1

1
Opskrif
1'n Profesie. Dit is die woord van die Here tot Israel by monde van Maleagi.
God se liefde vir Israel
2“Ek het julle lief,” sê die Here, maar julle vra: “Hoe het U ons lief?” Die uitspraak van die Here is: “Is Esau nie Jakob se broer nie? Tog het Ek Jakob lief, 3maar van Esau het Ek 'n afkeer en Ek het van sy bergland 'n verlate plek gemaak, sy erfdeel 'n plek vir die woestynjakkalse.”
4 Ja, Edom sê: “Ons is verpletter, maar ons sal weer die puinhope opbou.” Maar so sê die Here, Heerser oor alle magte: “Húlle kan maar bou, maar Ék sal afbreek. Hulle sal die goddelose gebied genoem word, en die volk vir wie die Here vir altyd vervloek het.” 5Met julle eie oë sal julle dit sien en julle sal self erken: “Die Here is groot buite die grense van Israel.”
Traagheid in die diens aan God
6 “'n Seun respekteer 'n vader, en 'n dienaar sy heer. As Ek dan 'n vader is, waar is die respek wat My toekom? As Ek die Opperheer is, waar is die ontsag vir My?” Die Here, Heerser oor alle magte, sê: “Dit geld vir julle, priesters, wat my Naam minag! Maar julle vra, ‘Hoe minag ons u Naam?’ 7 Julle bied besoedelde voedsel aan op my altaar en dan vra julle nog, ‘Hoe het ons U verwerp?’ Omdat julle dink dat die tafel van die Here maar geminag kan word! 8 As julle 'n blinde dier as offer aanbied, is dit mos nie verkeerd nie, en as julle 'n mank of siek dier aanbied, is dit mos nie verkeerd nie! Bied so iets vir jou •streekgoewerneur aan! Sal hy jou aanvaar, sal hy goedgesind wees teenoor jou?” vra die Here, Heerser oor alle magte. 9Sou julle God dan nou gunstig stem dat Hy ons genadig kan wees, terwyl julle so iets doen? Sal Hy deur júlle toedoen goedgesind wees? Die Here, Heerser oor alle magte het dit gesê.
10 “Was daar maar iemand onder julle wat die tempeldeure kon toesluit, sodat julle nie die vuur op my altaar verniet aan die brand steek nie. Ek is julle nie goedgesind nie,” sê die Here, Heerser oor alle magte. “'n Offer uit julle hand is nie vir My aanvaarbaar nie. 11 Immers, van waar die son opkom tot waar hy ondergaan, is my Naam groot onder die nasies en op elke plek word reukwerk en 'n rein offer aangebied vir my Naam, want my Naam is groot onder die nasies,” sê die Here, Heerser oor alle magte. 12“Maar julle ontheilig my Naam aangesien julle dink, die tafel van die Heer is besoedel, en oor wat dit bied, dink julle, sy voedsel kan maar geminag word. 13En dan sê julle, ‘Kyk, watter moeite is dit nie!’ En julle skat dit gering, ” sê die Here, Heerser oor alle magte. “Julle bring diere wat geroof en mank en siek is, en bied dit as 'n offergawe aan! Moet Ek dit uit julle hand aanvaar?” vra die Here. 14“Vervloek is iemand wat bedrieg deur 'n gelofte af te lê, maar 'n verminkte dier aan die Heer offer, terwyl daar 'n manlike dier in sy kudde is. Ek is immers die groot Koning,” sê die Here, Heerser oor alle magte, “en my Naam wek ontsag by die nasies. ”

Tans Gekies:

Maleagi 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid