Maleagi 3

3
1 “Kyk, Ek gaan my boodskapper stuur
en hy sal 'n pad voor My gereedmaak.
Onverwags sal hy na sy •tempel kom,
die heer na wie julle soek,
die boodskapper van die verbond
na wie julle uitsien.
Kyk, hy gaan kom, ”
sê die Here, Heerser oor alle magte.
2 Wie kan die dag van sy koms verduur,
wie kan staande bly wanneer hy verskyn?
Ja, daardie dag is
soos die vuur van die smelter
en soos die loog van wassers.
3Hy sal gaan sit as iemand
wat silwer smelt en suiwer.
Hy sal die Leviete reinig
en hulle soos goud en silwer suiwer.
Hulle sal aan die Here behoort,
en offers in geregtigheid bring.
4 Dan sal Juda en Jerusalem
se offers weer vir die Here
aangenaam wees,
soos in die ou dae,
soos in vroeër jare.
5 “Ek sal na julle toe kom vir die oordeel en Ek sal sonder om te huiwer 'n getuie wees teen towenaars, egbrekers en wie vals sweer; teen hulle wat dagloners, weduwees en vaderlose kinders verdruk en hulle wat •vreemdelinge wegwys en nie ontsag vir My het nie,” sê die Here, Heerser oor alle magte.
Beloftes van seën
6“Ek, die Here, het immers nie verander nie. Maar julle Jakobskinders kry nie end nie. 7 Sedert die tyd van julle voorouers wyk julle van my voorskrifte af en kom dit nie na nie. Keer terug na My, dan sal Ek na julle terugkeer,” sê die Here, Heerser oor alle magte. “Maar julle vra, ‘Hoe moet ons terugkeer?’ 8Mag 'n mens God besteel? Maar julle besteel My! En dan vra julle nog, ‘Hoe besteel ons U?’ Van tiendes en •wydingsgeskenke! 9 Daar rus 'n vloek op julle, maar vir My bly julle beroof, julle hele nasie. 10 Bring die volle tiende na die voorraadkamer sodat daar voedsel in my huis kan wees. Toets My hierin,” sê die Here, Heerser oor alle magte, “of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak en oorvloedige seën oor julle sal uitstort nie. 11 Ek sal vir julle die sprinkane berispe, sodat hulle nie die opbrengs van julle landerye verwoes nie, en die druiwestok in die wingerd sal vir julle nie sonder vrugte wees nie,” sê die Here, Heerser oor alle magte. 12 “En al die nasies sal julle gelukkig noem, omdat julle 'n begeerlike land sal wees,” sê die Here, Heerser oor alle magte.
Vermaning om getrou te bly
13“Julle laat harde woorde oor My val,” sê die Here. “En dan vra julle, ‘Wat het ons vir mekaar oor U gesê?’ 14 Julle het gesê, ‘Dit is heeltemal nutteloos om God te dien en wat baat dit ons as ons die verpligtinge teenoor Hom nakom en in rouklere loop voor die Here, Heerser oor alle magte? 15Daarom noem ons nou die verwaande mense gelukkig, want die kwaaddoeners beleef nie net voorspoed nie, maar hulle daag God uit en kom nog daarmee weg ook.’ ”
16Daarop het dié wat vir die Here ontsag het, met mekaar geredeneer. Die Here het goed geluister en dit gehoor. Dit is toe in sy teenwoordigheid in 'n gedenkboek opgeteken tot voordeel van diegene wat ontsag vir die Here en respek vir sy Naam het.
17 “Hulle sal aan My behoort,” sê die Here, Heerser oor alle magte, “hulle sal my persoonlike eiendom wees op die dag wat Ek voorberei. Ek sal deernis met hulle hê, soos 'n man deernis het met sy seun wat vir hom werk. 18Dan sal julle weer die verskil sien tussen regverdiges en wetteloses, tussen wie God dien en wie Hom nié dien nie.

Tans Gekies:

Maleagi 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid