Lukas 16:19-31

Lukas 16:19-31 AFR20

“Daar was 'n ryk man wat klere van purperstof en fyn linne gedra en elke dag swierig feesgevier het. Voor die ingang van sy huis het 'n bedelaar met die naam Lasarus gelê. Hy was oortrek van swere, en het daarna gesmag om iets te ete te kry wat van die ryk man se tafel afgeval het, maar slegs die honde het sy swere kom lek. Toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra om teen die bors van Abraham te rus. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe. En toe hy, van waar hy in Hades gefolter word, sy oë ophef, sien hy Abraham in die verte, met Lasarus teen sy bors. Hy het geroep, ‘Vader Abraham! Wees my genadig, en stuur Lasarus om die punt van sy vinger in water te doop en my tong af te koel, want ek ly in hierdie vlam.’ Maar Abraham antwoord, ‘Kind, onthou dat jy gedurende jou lewe die goeie ontvang het, soos wat Lasarus die slegte ontvang het. Nou word hy hier getroos, maar jy word gepynig. En buitendien is daar 'n groot kloof tussen ons en julle gevestig, sodat diegene wat hiervandaan na julle wil oorgaan, nie kan nie, en diegene wat daar is, ook nie na ons kan oorkom nie.’ Toe sê die ryk man, ‘Dan smeek ek u, Vader, stuur hom na my pa se huis, want ek het nog vyf broers. Hy kan hulle dan waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’ Maar Abraham sê, ‘Hulle het Moses en die Profete. Laat hulle na dié luister.’ ‘Nee, vader Abraham,’ antwoord hy, ‘maar hulle sal hulle bekeer as iemand uit die dood na hulle gaan.’ Hy het egter vir hom gesê, ‘As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle selfs as iemand uit die dood opstaan, nie oortuig word nie.’ ”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 16:19-31

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid