Lukas 16

16
Gelykenis van die oneerlike bestuurder
1Jesus het ook vir sy dissipels gesê: “Daar was 'n ryk man wat 'n bestuurder gehad het, en dié is by hom daarvan aangekla dat hy sy besittings verkwis. 2Hy het hom toe ingeroep en vir hom gesê, ‘Wat is dit wat ek van jou hoor? Doen verslag van jou bestuur van sake, want jy kan nie langer my bestuurder wees nie.’ 3 Die bestuurder het by homself gedink: Wat moet ek doen, noudat my eienaar my bestuurderskap van my wegneem? Spit kan ek nie, en ek is te skaam om te bedel. 4Ek weet wat ek gaan doen, sodat die mense my in hulle huise sal ontvang wanneer ek as bestuurder ontslaan is. 5Hy het toe sy eienaar se skuldenaars een vir een ingeroep. Vir die eerste een het hy gevra, ‘Hoeveel skuld jy my eienaar?’ 6En hy het geantwoord, ‘Honderd bat olyfolie.’ Hy sê toe vir hom, ‘Vat jou skuldbrief en gaan sit en skryf gou vyftig.’ 7Hierna het hy vir 'n ander een gevra, ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Hy antwoord, ‘Honderd kor koring.’ Vir hom sê hy, ‘Vat jou skuldbrief en skryf tagtig.’ 8Die eienaar het die oneerlike bestuurder toe geprys, omdat hy verstandig opgetree het, want die kinders van hierdie wêreld tree verstandiger teenoor mekaar op as die kinders van die lig. 9 Ek sê vir julle, ‘Maak vir julle vriende deur middel van die oneerlike Mammon, sodat, wanneer dit tot 'n einde kom, hulle julle in die ewige wonings mag ontvang.’ 10 Wie in die geringste betroubaar is, is ook betroubaar waar dit om baie gaan, en wie in die geringste oneerlik is, is ook oneerlik waar dit om baie gaan. 11As julle dan nie betroubaar was wat die oneerlike Mammon betref nie, wie sal julle met die ware rykdom vertrou? 12En as julle nie betroubaar was met 'n ander se goed nie, wie sal vir julle gee wat julle toekom? 13 Geen huiskneg kan twee base dien nie, want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”
14Die •Fariseërs, wat geldgierig was, het na al hierdie dinge geluister, en smalend oor Hom gepraat. 15Hy sê toe vir hulle: “Dit is julle wat julleself voor die mense regverdig voordoen, maar God ken julle harte. Want dit wat deur mense hoog aangeskryf word, is 'n gruwel voor God. 16 Tot en met Johannes het die Wet en die Profete gegeld, maar van toe af word die evangelie van die •koninkryk van God verkondig, en elkeen probeer met alle mag daar ingaan. 17 Maar dit is makliker vir die hemel en die aarde om tot niet te gaan as dat een strepie van die Wet wegval.
18 “Elkeen wat van sy vrou skei en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk, en hy wat met 'n vrou trou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk.”
Die ryk man en Lasarus
19“Daar was 'n ryk man wat klere van purperstof en fyn linne gedra en elke dag swierig feesgevier het. 20Voor die ingang van sy huis het 'n bedelaar met die naam Lasarus gelê. Hy was oortrek van swere, 21en het daarna gesmag om iets te ete te kry wat van die ryk man se tafel afgeval het, maar slegs die honde het sy swere kom lek. 22Toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra om teen die bors van Abraham te rus. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe. 23En toe hy, van waar hy in Hades gefolter word, sy oë ophef, sien hy Abraham in die verte, met Lasarus teen sy bors. 24Hy het geroep, ‘Vader Abraham! Wees my genadig, en stuur Lasarus om die punt van sy vinger in water te doop en my tong af te koel, want ek ly in hierdie vlam.’ 25Maar Abraham antwoord, ‘Kind, onthou dat jy gedurende jou lewe die goeie ontvang het, soos wat Lasarus die slegte ontvang het. Nou word hy hier getroos, maar jy word gepynig. 26En buitendien is daar 'n groot kloof tussen ons en julle gevestig, sodat diegene wat hiervandaan na julle wil oorgaan, nie kan nie, en diegene wat daar is, ook nie na ons kan oorkom nie.’ 27Toe sê die ryk man, ‘Dan smeek ek u, Vader, stuur hom na my pa se huis, 28want ek het nog vyf broers. Hy kan hulle dan waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’ 29Maar Abraham sê, ‘Hulle het Moses en die Profete. Laat hulle na dié luister.’ 30‘Nee, vader Abraham,’ antwoord hy, ‘maar hulle sal hulle bekeer as iemand uit die dood na hulle gaan.’ 31Hy het egter vir hom gesê, ‘As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle selfs as iemand uit die dood opstaan, nie oortuig word nie.’ ”

Tans Gekies:

Lukas 16: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid