LUKAS 16:19-31

LUKAS 16:19-31 Bybel vir almal (ABA)

“Daar was 'n ryk man wat pragtige klere gedra het. Hy het elke dag die beste dinge in die wêreld geniet. Maar by sy hek het daar 'n arm bedelaar gelê. Sy naam was Lasarus. Hy was vol sere. Lasarus het gewens hy kan eet van die kos wat van die ryk man se tafel afval. Die honde het altyd gekom en hulle het Lasarus se sere gelek. Toe het die arm bedelaar gesterf, en die engele het hom weggedra om by Abraham te wees. Die ryk man het ook gesterf, en hulle het hom begrawe. Toe die ryk man wakker word in die doderyk, het hy baie pyn gehad. Hy het daar ver vir Lasarus by Abraham gesien. Die ryk man roep toe en sê: ‘ Vader Abraham, jy moet asseblief jammer wees vir my en jy moet vir Lasarus stuur sodat hy die punt van sy vinger met water kan natmaak en my tong kan koud maak, want ek het baie pyn in hierdie vuur.’ Toe sê Abraham: ‘Kind, jy moet onthou dat jy in jou lewe op die aarde al die lekker dinge gehad het. Lasarus het die slegte dinge gehad. Nou troos God hier vir Lasarus, maar jy het pyn. En daar is ook 'n diep kloof tussen ons en julle. Die mense wat hier is, kan nie na julle toe gaan nie. En die mense daar by julle kan ook nie na ons toe kom nie.’ Die ryk man het gesê: ‘Ek vra mooi, stuur dan asseblief vir Lasarus na my pa se huis, want ek het vyf broers. Hy moet hulle waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyn kom nie.’ Toe sê Abraham vir die ryk man: ‘Jou broers het die boeke van Moses en die boeke van die profete, jou broers moet na húlle luister.’ Maar die ryk man het geantwoord: ‘Nee, vader Abraham, as een van die mense wat dood is, na my broers toe gaan, dan sal hulle verander en doen wat God wil hê.’ Maar Abraham het gesê: ‘As hulle nie doen wat die boeke van Moses en die profete sê nie, dan sal hulle ook nooit luister na iemand wat weer begin lewe het nie.’ ”

LUKAS 16:19-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN daar was 'n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. En daar was 'n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het. En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek. En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam. Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. En by dit alles is daar tussen ons en julle 'n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie. En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur — want ek het vyf broers — om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie. Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.

LUKAS 16:19-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Daar was 'n ryk man wat duur en deftige klere gedra en elke dag feestelik en weelderig geleef het. En daar was 'n arm man met die naam Lasarus wat by die deur van die ryk man gelê het in die hoop dat hy van die oorskiet van die ryk man se tafel te ete sou kry. Hy was oortrek van die swere en selfs die honde het daaraan kom lek. “Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep: ‘Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.’ Maar Abraham sê: ‘My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte. Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig. En buitendien is daar 'n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.’ Toe sê hy: ‘Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se huis toe. Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’ Maar Abraham sê: ‘Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.’ Hy antwoord egter: ‘Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.’ Maar hy sê vir hom: ‘As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan.’ ”

LUKAS 16:19-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Daar was 'n ryk man wat klere van purperstof en fyn linne gedra en elke dag swierig feesgevier het. Voor die ingang van sy huis het 'n bedelaar met die naam Lasarus gelê. Hy was oortrek van swere, en het daarna gesmag om iets te ete te kry wat van die ryk man se tafel afgeval het, maar slegs die honde het sy swere kom lek. Toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra om teen die bors van Abraham te rus. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe. En toe hy, van waar hy in Hades gefolter word, sy oë ophef, sien hy Abraham in die verte, met Lasarus teen sy bors. Hy het geroep, ‘Vader Abraham! Wees my genadig, en stuur Lasarus om die punt van sy vinger in water te doop en my tong af te koel, want ek ly in hierdie vlam.’ Maar Abraham antwoord, ‘Kind, onthou dat jy gedurende jou lewe die goeie ontvang het, soos wat Lasarus die slegte ontvang het. Nou word hy hier getroos, maar jy word gepynig. En buitendien is daar 'n groot kloof tussen ons en julle gevestig, sodat diegene wat hiervandaan na julle wil oorgaan, nie kan nie, en diegene wat daar is, ook nie na ons kan oorkom nie.’ Toe sê die ryk man, ‘Dan smeek ek u, Vader, stuur hom na my pa se huis, want ek het nog vyf broers. Hy kan hulle dan waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’ Maar Abraham sê, ‘Hulle het Moses en die Profete. Laat hulle na dié luister.’ ‘Nee, vader Abraham,’ antwoord hy, ‘maar hulle sal hulle bekeer as iemand uit die dood na hulle gaan.’ Hy het egter vir hom gesê, ‘As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle selfs as iemand uit die dood opstaan, nie oortuig word nie.’ ”

LUKAS 16:19-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daar was 'n sekere ryk man wat met purper en fyn linne geklee was en elke dag weelderig gevaar het; En daar was 'n sekere bedelaar met die naam van Lasarus, wat vol swere by sy poort neergelê is, En hulle wou gevoed word met die krummels wat van die ryk man se tafel afgeval het, en die honde het gekom en sy swere gelek. En dit het gebeur dat die bedelaar gesterwe en deur die engele in die boesem van Abraham gedra is; en die ryk man het ook gesterwe en is begrawe; En in die doderyk slaan hy sy oë op terwyl hy in pyniging was, en sien Abraham van ver af en Lasarus in sy boesem. En hy het uitgeroep en gesê: Vader Abraham, ontferm U oor my en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan doop en my tong kan afkoel; want ek word gepynig in hierdie vlam. Maar Abraham sê: Seun, onthou dat jy in jou lewe jou goeie dinge ontvang het, en so ook Lasarus die slegte; maar nou word hy getroos, en jy word gepynig. En behalwe dit alles is daar tussen ons en julle 'n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan na julle wil oorgaan, nie kan nie; hulle kan ook nie na ons oorgaan nie, wat daarvandaan sou kom. Toe sê hy: Ek bid u dan, vader, dat u hom na die huis van my vader stuur. Want ek het vyf broers; dat Hy vir hulle kan getuig, dat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie. Abraham sê vir hom: Hulle het Moses en die profete; laat hulle na hulle luister. En hy sê: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle toe gegaan het, sal hulle hul bekeer. En hy sê vir hom: As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle ook nie oortuig word nie, al sou iemand uit die dode opstaan.

LUKAS 16:19-31 Die Boodskap (DB)

“Kom Ek vertel julle nog ’n storie. Eendag was daar ’n ryk man. Hy het baie duur klere gedra en elke dag soos ’n koning geleef. Dan was daar ook ’n baie arm man. Sy naam was Lasarus. Hy het nie ’n sent op sy naam gehad nie. Later was hy so swak en uitgehonger dat hy heeltyd daar voor die ryk man se huis gelê het. Arme Lasarus; hy het dikwels gedroom hoe hierdie ryk man vir hom die oorskietkos uit sy huis bring om te eet. Maar selfs dit was hom nie beskore nie. Sy enigste vriende was die rondloperhonde wat nou en dan die swere aan sy lyf kom lek het. Kort voor lank is Lasarus dood. Maar toe het ’n koninklike ontvangs in die hemel hom te beurt geval. Die engele het hom kom haal en reguit na Abraham toe gedra. “’n Ruk later is die ryk man ook dood. Maar daar was geen engel om hom hemel toe te dra nie. Nee, hy het sy oë in die doderyk oopgemaak. Dit was verskriklik. Pyn en lyding was sy voorland. So in sy lyding sien hy eendag vir Abraham daar ver aan die ander kant raak. En ook vir Lasarus wat by Abraham sit. Hy roep toe hard uit: ‘Vader Abraham, kry my tog jammer. Stuur asseblief vir Lasarus met ’n slukkie water vir my. Selfs net ’n druppeltjie water op my tong sal genoeg wees. Hierdie vuur is verskriklik. Ek kan die pyn nie langer uithou nie!’ “Maar Abraham sê vir hom: ‘Dink so ’n bietjie terug. Daar op die aarde het jy alles gehad wat jou hart begeer. Maar Lasarus het net swaargekry. Nou is die rolle omgekeer. Nou is Lasarus gelukkig, en jy ly baie. Weet jy, dis nou te laat om iets daaraan te doen. In elk geval: tussen ons en julle is ’n yslike kloof wat niemand kan oorsteek nie. So, ons kan nie vir jou water bring nie. Jy kan ook nie hiernatoe kom nie.’ “Toe sê die man: ‘Dan smeek ek u om ten minste net vir Lasarus na my huis toe te stuur. U sien, ek het nog vyf broers. En hulle is ook vinnig op pad na hierdie plek van lyding toe. Laat Lasarus hulle asseblief gaan waarsku voor dit te laat is.’ “‘Hoekom? Hulle het mos die Bybel,’ het Abraham geantwoord. ‘Hulle moet maar net luister na wat God daar in die wet en deur sy profete vir hulle sê.’ “‘Ag, vader Abraham, dit sal soveel beter wees as iemand wat reeds hier aan die ander kant van die dood leef na hulle toe gaan en hulle waarsku. Dan sal hulle hulle boeglam skrik en begin luister,’ sê die man toe. “‘Nee, jy’s verkeerd,’ het Abraham vinnig geantwoord. ‘As hulle hulle nie aan God se Woord steur nie, sal niks anders hulle oortuig nie, nie eens iemand wat uit die hemel daar by hulle opdaag nie.’”

LUKAS 16:19-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het gesê: “Daar was ’n ryk man wat pragtig aangetrek het en sorgeloos in weelde geleef het. Voor sy deur het ’n siek bedelaar genaamd Lasarus gelê. Terwyl Lasarus daar gelê en begeer het om van die oorskiet van die ryk man se tafel te kon kry, het die honde aan sy oop sere kom lek. Uiteindelik is die bedelaar dood, en hy is deur die engele weggedra om by Abraham te wees. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe. Hy het sy oë in die doderyk oopgemaak en terwyl hy gefolter word, het hy Lasarus in die verte by Abraham gesien. “Die ryk man het geroep: ‘Vader Abraham, ontferm u oor my! Stuur vir Lasarus hierheen om die punt van sy vinger in water te steek en my tong af te koel, want ek ly verskriklik in hierdie vlamme!’ “Maar Abraham het vir hom gesê: ‘Kind, onthou gedurende jou leeftyd het jy alles gehad wat jy wou hê, en Lasarus niks. Maar nou is hy hier en word vertroos, en jy word gepynig. En buitendien is daar ’n groot kloof wat ons skei. Enigeen wat van hier na julle wil oorgaan, word op die rand gestuit, en niemand van daar af kan na ons toe oorkom nie.’ “Toe sê die ryk man: ‘Asseblief, vader Abraham, stuur hom na my pa se huis toe. Want ek het vyf broers, en ek wil hê hy moet hulle waarsku teen hierdie plek van pyniging sodat hulle nie hier beland wanneer hulle sterf nie.’ “Maar Abraham het gesê: ‘Hulle het Moses en die profete om hulle te waarsku. Jou broers kan hulle geskrifte enige tyd lees wanneer hulle wil.’ “Die ryk man het geantwoord: ‘Nee, vader Abraham! Maar as iemand uit die dood na hulle gestuur word, sal hulle tot inkeer kom.’ “Maar Abraham het gereageer: ‘As hulle nie na Moses en die profete luister nie, sal hulle ook nie luister nie selfs al sou iemand uit die dood opstaan.’”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid