Levitikus 22

22
Voorskrifte oor heilige gawes
1Die Here het vir Moses gesê: 2“ Praat met Aäron en sy seuns, sodat hulle die •heilige gawes wat die Israeliete aan My toewy, met eerbied hanteer en my heilige Naam nie ontheilig nie. Ek is die Here. 3 Sê vir hulle, ‘As daar onder toekomstige geslagte enigiemand van julle nakomelinge is, wat terwyl hy •onrein is, naby die heilige gawes kom wat die Israeliete aan die Here gewy het, moet daardie persoon uit my teenwoordigheid verwyder word. Ek is die Here. 4 Enige man uit die nageslag van Aäron wat 'n velsiekte of afskeiding het, mag totdat hy rein is, nie van die heilige gawes eet nie. Iemand wat aan enigiets raak wat deur 'n lyk verontreinig is, of 'n man wat 'n saadvloeiing gehad het, 5 of 'n man wat aan enige kruipende dier geraak het waardeur hy onrein geword het, of aan 'n mens deur wie hy op enige wyse onrein geword het – 6 so iemand sal onrein wees tot die aand toe. Hy mag nie van die heilige gawes eet nie. Maar as hy sy liggaam met water afgespoel 7 en die son ondergegaan het, is hy rein. Daarna mag hy van die heilige gawes eet, want dit is sy brood. 8 Iets wat doodgegaan het of verskeur is, mag hy nie eet nie sodat hy nie daardeur onrein word nie. Ek is die Here. 9 Die priesters moet die verpligtinge nakom wat Ek oplê. Hulle moet nie skuld op hulle laai en sterf omdat hulle die heilige gawes ontheilig het nie. Ek, die Here, heilig hulle.
10“ ‘ Geen onbevoegde persoon mag eet wat heilig is nie. 'n Priester se bywoner of dagloner mag nie eet wat heilig is nie. 11Maar wanneer 'n priester met sy geld iemand as sy besitting koop, mag so iemand daarvan eet; en slawe wat in sy huis gebore is, hulle mag ook van sy brood eet. 12Wanneer die dogter van 'n priester met 'n onbevoegde persoon getroud is, mag sy nie meer van die •wydingsgeskenk van heilige gawes eet nie. 13Maar wanneer die dogter van 'n priester 'n weduwee word, of verstoot word, en sy geen nageslag het nie en na haar vader se huis terugkeer soos in haar jeug, mag sy van haar vader se brood eet. Geen onbevoegde persoon mag daarvan eet nie. 14 Wanneer iemand onopsetlik iets eet wat heilig is, moet hy die heilige gawe aan die priester teruggee en 'n vyfde byvoeg. 15 Die priesters mag nie die heilige gawes van die Israeliete wat hulle as wydingsgeskenke aan die Here gee, ontheilig nie. 16 Wanneer hulle die heilige gawes eet, sal hulle skuld wat boetedoening vereis op die Israeliete laai, want Ek, die Here, heilig dit.’ ”
17 Die Here het vir Moses gesê: 18“Praat met Aäron en sy seuns en met al die Israeliete en sê vir hulle, ‘Enige man uit die huis van Israel en uit die •vreemdelinge in Israel wat sy offer bring – naamlik enige van die gelofte- of vrywillige offers wat hulle as •brandoffer vir die Here bring – 19moet 'n manlike dier sonder gebrek uit die beeste, die skape of die bokke bring, sodat dit tot julle voordeel strek. 20Geen dier met 'n liggaamsgebrek mag julle bring nie, want dit sal nie tot julle voordeel strek nie. 21Wanneer iemand vir die Here 'n •maaltydoffer uit die grootvee of die kleinvee aanbied om 'n gelofte te vervul, of as 'n vrywillige offer, moet dit sonder gebrek wees om aanvaar te word. Dit mag geen liggaamsgebrek hê nie, 22nie blindheid of 'n beenbreuk of verminking of vratte of 'n swerende uitslag of skurfsiekte nie. Sulke diere mag julle nie vir die Here aanbied nie. Julle mag dit nie as 'n offergawe op die altaar van die Here lê nie. 23'n Bees of 'n stuk kleinvee met 'n abnormale lang of kort ledemaat – as vrywillige offer mag jy dit bring, maar vir 'n gelofte sal dit nie aanvaar word nie. 24'n Dier met papgedrukte, vergruisde, afgetrekte of afgesnyde testikels mag julle nie vir die Here bring nie. In julle land mag julle dit nie doen nie. 25Ook uit die hand van 'n buitelander mag julle nie enige van hierdie diere as voedsel vir julle God aanbied nie, want hulle is vermink, met 'n liggaamsgebrek. Hulle sal nie tot julle voordeel aanvaar word nie.’ ”
26Die Here het vir Moses gesê: 27“ Wanneer 'n bees of skaap of bok gebore word, moet dit sewe dae lank by sy ma bly, maar van die agtste dag af en daarna is dit aanvaarbaar as 'n offergawe aan die Here. 28 Julle mag nie 'n koei of 'n ooi en haar kleintjie op dieselfde dag slag nie. 29 Wanneer julle 'n •dankoffer vir die Here slag, moet julle dit offer sodat dit tot julle voordeel strek. 30 Dit moet op dieselfde dag geëet word. Julle mag niks daarvan laat oorbly tot die volgende oggend nie. Ek is die Here.
31“ ‘ Julle moet my bevele nakom en dit uitvoer. Ek is die Here. 32 Julle mag my heilige Naam nie ontheilig nie, sodat Ek onder die Israeliete as die Heilige geld. Ek, die Here, heilig julle, 33 Ek, wat julle uit Egipteland laat wegtrek het om vir julle 'n God te wees. Ek is die Here.’ ”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid