Levitikus 23

23
Feesdae
1 Die Here het vir Moses gesê: 2“ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘My feesdae, die feesdae van die Here wat julle as heilige byeenkomste moet uitroep, is die volgende: 3 Ses dae lank moet werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit 'n buitengewone Sabbat, 'n heilige byeenkoms. Julle mag geen werk doen nie. Dit is 'n Sabbat vir die Here, waar julle ook al woon.
4“ ‘Die feesdae van die Here, die heilige byeenkomste wat julle moet uitroep op hulle vaste tye, is die volgende:
5 “ ‘ In die eerste maand, op die veertiende van die maand teen laatmiddag is dit die Pasga van die Here. 6Op die vyftiende dag van hierdie maand begin die Fees van Ongesuurde Brood vir die Here. Sewe dae lank moet julle ongesuurde brood eet. 7Op die eerste dag moet julle 'n heilige byeenkoms hou. Julle mag geen gewone take verrig nie. 8Sewe dae lank moet julle daagliks 'n offergawe vir die Here bring. Op die sewende dag is daar 'n heilige byeenkoms. Julle mag geen gewone take verrig nie.’ ”
9Die Here het vir Moses gesê: 10“ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer julle in die land kom wat Ek vir julle gaan gee en julle die graanoes insamel, moet julle die eerste gerf van julle graanoes na die priester bring. 11Hy moet die gerf voor die Here aanbied dat dit tot julle voordeel strek. Op die dag ná die Sabbat moet die priester dit aanbied. 12Op die dag wanneer julle die gerf aanbied, moet julle 'n jaaroud lam sonder gebrek as •brandoffer vir die Here bring 13met die bepaalde •graanoffer van twee tiendes van 'n efa gesifte meel met olyfolie gemeng, as 'n offergawe aan die Here, 'n geurige offer, asook die bepaalde •drankoffer van 'n kwart hin wyn. 14Brood en geroosterde en vars graan mag julle nie tot op daardie bepaalde dag eet nie, totdat julle die offer vir julle God gebring het. Dit is 'n vaste voorskrif wat vir altyd vir julle nageslagte geld, waar julle ook al woon.
15“ ‘ Vanaf die dag ná die Sabbat, vanaf die dag waarop julle 'n gerf as gewyde gawe bring, moet julle die dae aftel: Sewe volle weke moet dit wees. 16Julle moet vyftig dae tel tot op die dag ná die sewende Sabbat. Bring dan 'n nuwe graanoffer vir die Here. 17Van die plekke waar julle woon, moet julle twee brode as gewyde gawe saambring, wat van twee tiendes van 'n efa gesifte meel berei moet word. Dit moet met suurdeeg gebak word as eerste opbrengs van die oes vir die Here. 18Saam met die brood moet julle ook sewe jaaroud lammers sonder gebrek, een jong bul en twee ramme as offers aanbied. Dit moet brandoffers vir die Here wees, saam met die bepaalde graan- en drankoffers – 'n offergawe, 'n geurige offer vir die Here. 19Julle moet as 'n •reinigingsoffer een bokram offer, en twee jaaroud lammers as 'n •maaltydoffer. 20 Die priester moet hulle – die twee lammers – saam met die brood van die oes se eerste opbrengs, voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Dit is 'n heilige gawe aan die Here wat die priester toekom.
21“ ‘Julle moet op daardie bepaalde dag 'n byeenkoms saamroep. Dit moet vir julle heilig wees; julle mag geen gewone take verrig nie. Dit is vir altyd 'n vaste voorskrif vir julle nageslagte, waar julle ook al woon. 22 Wanneer julle die graanoes op julle lande insamel, mag jy nie die kant van jou land skoon afoes nie, en jou oesreste mag jy nie optel nie. Vir die weerloses en •vreemdelinge moet jy dit agterlaat. Ek is die Here jou God.’ ”
23Die Here het vir Moses gesê: 24 “Sê vir die Israeliete, ‘Die eerste dag van die sewende maand moet vir julle 'n buitengewone Sabbat wees, 'n herdenkingsdag, aangekondig met geskal, 'n heilige byeenkoms. 25Julle mag geen gewone take verrig nie en julle moet 'n offergawe vir die Here bring.’ ”
26Die Here het vir Moses gesê: 27 “Onthou net, die tiende dag van hierdie sewende maand is die •Dag van Versoening. Julle moet 'n heilige byeenkoms hou. Julle moet julle verootmoedig en vir die Here 'n offergawe aanbied. 28Julle mag nie enige werk op dié bepaalde dag doen nie, want dit is die Dag van Versoening om vir julle voor die Here julle God versoening te doen. 29 Ja, enige persoon wat hom nie op dié bepaalde dag verootmoedig nie, moet uit sy volk verwyder word; 30en enige persoon wat enige werk doen op dié bepaalde dag – Ek sal daardie persoon uitwis uit die geledere van sy volk. 31Geen werk mag julle doen nie. Dit is 'n vaste voorskrif wat vir altyd vir julle nageslagte geld, waar julle ook al woon. 32Vir julle is dit 'n buitengewone Sabbat, en julle moet julle die aand van die negende van die maand verootmoedig. Julle moet van sononder tot sononder julle Sabbat vier.”
33Die Here het vir Moses gesê: 34 “Sê vir die Israeliete, ‘Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit die Huttefees – sewe dae lank tot eer van die Here. 35Op die eerste dag is daar 'n heilige byeenkoms. Julle mag geen gewone take verrig nie. 36 Sewe dae lank moet julle daagliks 'n offergawe vir die Here bring. Op die agtste dag moet julle 'n heilige byeenkoms hou en ook 'n offergawe vir die Here bring. Dit is 'n gewyde rusdag, julle mag geen gewone take verrig nie.
37“ ‘Dit is die feesdae van die Here wat julle as heilige byeenkomste moet uitroep om offergawes aan die Here te bring: brandoffers, graanoffers, maaltydoffers en drankoffers soos wat daar vir elke feesdag vereis word, 38afgesien van die gewone Sabbatte van die Here, julle gewone gawes, al julle gelofte-offers en al julle vrywillige offers wat julle aan die Here gee.
39“ ‘Onthou net, op die vyftiende dag van die sewende maand, wanneer julle die opbrengs van die land insamel, moet julle die fees van die Here sewe dae lank vier. Die eerste dag van die fees is 'n buitengewone Sabbat en die agtste dag is 'n buitengewone Sabbat. 40Op die eerste dag moet julle vrugte van lowerryke bome neem saam met palmtakke, die takke van welig groeiende bome en rivierwilgers, en voor die Here julle God sewe dae lank vrolik wees. 41Julle moet dit as 'n fees ter ere van die Here vier sewe dae lank in die jaar. Dit is 'n vaste voorskrif wat vir altyd vir julle nageslagte geld. In die sewende maand moet julle hierdie fees vier. 42Julle moet in hutte woon sewe dae lank. Al die gebore Israeliete moet in Israel in hutte woon, 43sodat julle nageslagte kan weet dat Ek die Israeliete in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland laat wegtrek het. Ek is die Here julle God.’ ”
44 Moses het toe die feesdae van die Here aan die Israeliete bekend gemaak.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid