Levitikus 16

16
Dag van Versoening
1 Die Here het met Moses gepraat ná die dood van Aäron se twee seuns, toe hulle voor die Here nader gekom en gesterf het. 2 Die Here het vir Moses gesê: “Praat met jou broer, Aäron. Hy mag nie enige tyd in die heiligdom agter die voorhangsel voor die versoendeksel ingaan wat op die ark is nie, sodat hy nie sterf nie, want Ek verskyn in die wolk bo die versoendeksel.
3“ Aäron moet met die volgende in die heiligdom ingaan: 'n jong bul as •reinigingsoffer en 'n ram as •brandoffer. 4 Hy moet 'n heilige priesterrok van linne aantrek, 'n linnebroek oor sy onderlyf dra, hom met 'n linnelyfserp omgord en vir hom 'n linnetulband ombind. Dit is heilige klere. Hy moet sy lyf met water afspoel en dit dan aantrek. 5 Uit die volksvergadering van die Israeliete moet hy twee bokramme vir 'n reinigingsoffer en 'n skaapram vir 'n brandoffer neem. 6 Aäron moet die bul vir die reinigingsoffer wat vir homself bedoel is, naderbring en versoening doen vir hom en sy huis. 7Hy moet die twee bokramme neem en hulle voor die Here by die ingang van die •Tent van Ontmoeting laat staan. 8 Aäron moet oor die twee bokke lootjies trek: een lootjie vir die Here en die ander vir Asasel. 9Aäron moet die bok wat vir die Here geloot is, naderbring en as 'n reinigingsoffer offer. 10 Maar die bok wat vir Asasel geloot is, moet hy lewend voor die Here laat staan om die versoeningshandeling op hom uit te voer en hom dan vir Asasel na die woestyn te stuur.
11“ Nadat Aäron die bul vir die reinigingsoffer wat vir homself bedoel is, nadergebring het om versoening te doen vir hom en sy huis, moet hy die bul keelaf sny as 'n reinigingsoffer vir homself. 12 Hy moet die vuurpan neem, vol kole vuur wat van die altaar voor die Here af kom, asook twee hande vol fyngestampte geurige reukwerk, en daarmee agter die voorhangsel ingaan. 13Hy moet die reukwerk voor die Here op die kole gooi. Die wolk rook uit die reukwerk sal die versoendeksel wat oor die Getuienis is, verberg, sodat hy nie sterf nie. 14 Hy moet van die bul se bloed neem en dit met sy vinger op die voorkant van die versoendeksel sprinkel. Voor die versoendeksel moet hy met sy vinger sewe maal van die bloed sprinkel.
15“ Daarna moet hy die bok wat vir die reinigingsoffer van die volk bedoel is, keelaf sny en die bloed agter die voorhangsel inneem. Hy moet met die bloed doen wat hy met die bul se bloed gedoen het en dit op die versoendeksel en ook voor die versoendeksel sprinkel. 16 So doen hy versoening vir die heiligdom vanweë die •onreinheid van die Israeliete en hulle oortredings, ja, al hulle sondes. Net so doen hy dit vir die Tent van Ontmoeting wat tussen hulle met hulle onreinheid opgeslaan is. 17 Geen mens mag in die Tent van Ontmoeting wees wanneer hy ingaan om in die heiligdom versoening te doen nie, totdat hy uitkom en klaar versoening gedoen het vir homself, sy huis en die hele geloofsgemeenskap van Israel.
18“ Daarna moet hy uitgaan na die altaar wat voor die Here is en ook daarvoor versoening doen. Hy moet van die bul se bloed en van die bok se bloed neem en dit aan al die horings van die altaar smeer. 19Hy moet van die bloed met sy vinger sewe maal op die altaar sprinkel en dit reinig en heilig, vanweë die onreinheid van die Israeliete.
20“Wanneer die versoening vir die heiligdom, die Tent van Ontmoeting en die altaar afgehandel is, moet hy die lewendige bok naderbring. 21 Aäron moet sy twee hande op die kop van die lewendige bok lê, en dan oor die bok belydenis doen van al die skuld van die Israeliete, en al hulle oortredings, ja, al hulle sondes. Hy moet die sondes so op die kop van die bok lê en hom dan, deur 'n man wat vooraf aangewys is, die woestyn in stuur. 22 Die bok dra op hom al hulle skuld na 'n onherbergsame gebied. Die man moet die bok in die woestyn loslaat.
23“ Aäron moet in die Tent van Ontmoeting ingaan en die linneklere uittrek wat hy aangetrek het toe hy die heiligdom binnegegaan het. Hy moet dit daar laat, 24 sy liggaam met water afspoel op 'n heilige plek en sy klere aantrek. Dan moet hy uitgaan en sy brandoffer en die brandoffer vir die volk bring om vir homself en vir die volk versoening te doen. 25 Die vet van die reinigingsoffer moet hy op die altaar verbrand.
26“ Die man wat die bok vir Asasel losgelaat het, moet sy klere was en sy liggaam met water afspoel. Eers dan mag hy weer in die kamp ingaan.
27“ Die bul vir die reinigingsoffer en die bok vir die reinigingsoffer, waarvan die bloed in die heiligdom ingeneem is om versoening te doen, moet uit die kamp uitgeneem en met vuur verbrand word: hulle velle, hulle vleis en hulle pensmis. 28 Die man wat dit verbrand het, moet sy klere was en sy liggaam met water afspoel. Eers dan mag hy weer in die kamp ingaan.
29 “ Dit is 'n voorskrif wat altyd vir julle geld: Die tiende dag van die sewende maand moet julle julle verootmoedig en nie julle daaglikse werk doen nie, die gebore Israeliete sowel as die •vreemdelinge wat tussen julle woon. 30 Want op daardie dag moet Aäron vir julle versoening doen om julle te reinig van al julle sondes. Voor die Here moet julle rein wees. 31 Dit geld vir julle as 'n buitengewone Sabbat. Julle moet julle verootmoedig. Dit is 'n voorskrif wat altyd geld. 32 Die priester wat in die plek van sy vader as priester gesalf en gewy is, moet die versoening doen. Hy moet linneklere aantrek, die klere van die heiligdom, 33 en vir die Allerheiligste versoening doen. Vir die Tent van Ontmoeting en die altaar moet hy versoening doen. Hy moet ook vir die priesters en al die mense van die geloofsgemeenskap versoening doen. 34 Dit is 'n voorskrif wat altyd vir julle geld: Een keer per jaar moet daar vir die Israeliete versoening gedoen word vir al hulle sondes.”
Aäron het toe gedoen wat die Here Moses beveel het.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid