Levitikus 15

15
Voorskrifte oor onrein afskeidings
1Die Here het met Moses en Aäron gepraat en vir hulle gesê: 2“Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer vog by enige man se geslagsorgaan uitvloei, is dit •onrein, 3en dit maak hom ook onrein solank die afskeiding duur. Of die afskeiding nou by sy geslagsorgaan uitvloei, en of sy geslagsorgaan verstop raak vanweë die afskeiding, dit maak hom onrein. 4 Elke bed waarop die man met 'n afskeiding lê, word onrein en enigiets waarop hy sit, word onrein. 5Iemand wat aan sy bed raak, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. 6Iemand wat op 'n voorwerp sit waarop die man met die afskeiding gesit het, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. 7Iemand wat aan die man met die afskeiding raak, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. 8Wanneer die man met die afskeiding op 'n rein persoon spoeg, moet daardie persoon sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. 9 Enige saal waarop die man met die afskeiding ry, is onrein, 10en elkeen wat raak aan iets wat onder hom was, is tot die aand onrein. Iemand wat dit optel, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. 11Elkeen aan wie die man met die afskeiding raak sonder dat hy sy hande gewas het, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. 12 'n Kleipot waaraan die man met die afskeiding raak, moet gebreek word, en elke houtvoorwerp moet met water afgespoel word.
13“ ‘Wanneer die man met die afskeiding skoon is van sy afskeiding, moet hy self sewe dae vir sy reiniging aftel. Hy moet sy klere was en sy liggaam met lopende water afspoel. Dan is hy rein. 14Op die agtste dag moet hy twee tortelduiwe of twee jong duiwe neem en wanneer hy voor die Here by die ingang van die •Tent van Ontmoeting aankom, moet hy dit vir die priester gee. 15Die priester moet dit offer, die een as 'n •reinigingsoffer en die ander as 'n •brandoffer. Die priester moet voor die Here vir hom versoening doen vir sy afskeiding.
16“ ‘ Wanneer 'n man 'n saadstorting het, moet hy sy hele liggaam met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. 17Enige kledingstuk en enige leervoorwerp waarop daar saad is, moet met water afgespoel word en sal tot die aand onrein wees. 18 Wanneer 'n man met 'n vrou gemeenskap het en saad stort, moet hulle hulle met water afspoel. Hulle is onrein tot die aand.
19“ ‘ Wanneer 'n vrou 'n afskeiding het en die afskeiding is bloed uit haar liggaam, is die tydperk van haar onreinheid sewe dae. Elkeen wat aan haar raak, is onrein tot die aand. 20 Enigiets waarop sy gedurende die tydperk van haar onreinheid lê, is onrein en enigiets waarop sy sit, is onrein. 21Elkeen wat aan haar bed raak, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. 22Elkeen wat aan enigiets raak waarop sy gesit het, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. 23As hy raak aan iets wat op die bed is, of aan enigiets waarop sy sit, is hy onrein tot die aand. 24As 'n man tog met haar gemeenskap het, sodat haar onreinheid op hom kom, sal hy sewe dae lank onrein wees. Enige bed waarop hy lê, sal ook onrein wees.
25“ ‘Indien dit sou gebeur dat 'n vrou buite die tyd van haar menstruasie vir 'n lang tyd bloei of dat sy langer as haar menstruasie bloei, is sy onrein vir die duur van haar onrein afskeiding soos wanneer sy menstrueer: Sy is onrein. 26Enige bed waarop sy gedurende haar afskeiding lê, is soos die bed waarop sy tydens haar menstruasie lê, en enigiets waarop sy sit, is ook onrein soos wat dit sou wees tydens die onreinheid van haar menstruasie. 27Elkeen wat daaraan raak, is onrein. Hy moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy is tot die aand onrein. 28Indien sy skoon is van haar afskeiding, moet sy self sewe dae aftel. Daarna is sy rein. 29 Op die agtste dag moet sy twee tortelduiwe of twee jong duiwe neem en hulle na die priester by die ingang van die Tent van Ontmoeting bring. 30Die priester moet die een as 'n reinigingsoffer en die ander as 'n brandoffer bring. So doen die priester voor die Here vir haar versoening vir haar onrein afskeiding.’
31“Hou die Israeliete weg van dit wat hulle onrein maak, sodat hulle nie deur hulle onreinheid sterf wanneer hulle my •tabernakel wat in hulle midde staan, onrein maak nie.
32“Dit is die voorskrifte vir 'n man wat 'n afskeiding het en wat saad stort en daardeur onrein word, 33vir 'n vrou wat ongesteld is tydens menstruasie, vir 'n man of vrou met 'n afskeiding, en vir 'n man wat by 'n onrein vrou slaap.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid