Levitikus 17

17
Net een offerplek
1Die Here het met Moses gepraat en vir hom gesê: 2“Praat met Aäron en sy seuns en met al die Israeliete en sê vir hulle, ‘Dit is wat die Here beveel het: 3 As daar enigiemand van die huis van Israel is wat 'n bees, 'n skaap of 'n bok binne of buite die kamp keelaf sny, 4en wat dit nie na die Tent van Ontmoeting bring om dit vir die Here as offer aan te bied voor die •tabernakel van die Here nie, sal dit teen daardie man as bloedskuld gehou word. Hy het bloed vergiet en daardie man moet heeltemal van sy mense afgesny word.’ 5 Dit is sodat die Israeliete hulle offerdiere wat hulle gewoonlik in die oop veld slag, vir die Here na die ingang van die •Tent van Ontmoeting moet bring, na die priester toe, en dat hulle dit as •maaltydoffers vir die Here moet slag. 6 Die priester moet die bloed teen die altaar van die Here by die ingang van die Tent van Ontmoeting sprinkel en die vet verbrand as 'n aangename geur vir die Here. 7 Hulle mag nie weer hulle offerdiere slag vir die •veldgode, agter wie hulle aan hoereer nie. Dit is 'n voorskrif wat altyd geld vir hulle en hulle nageslag. 8 Vir hulle moet jy sê, ‘As daar enigiemand van die huis van Israel is, en van die •vreemdelinge wat tydelik by julle woon, wat 'n •brandoffer of maaltydoffer wil bring, 9en dit nie na die ingang van die Tent van Ontmoeting neem om dit vir die Here te offer nie, sal daardie man van sy mense afgesny word.’ ”
Bloedverbod
10“ As daar enigiemand uit die huis van Israel is, of van die vreemdelinge wat tydelik by hulle woon, wat enige bloed eet, sal Ek teen daardie persoon draai wat die bloed eet en Ek sal hom heeltemal van sy mense afsny. 11 Omdat die lewe van 'n liggaam in die bloed is, het Ék vir julle die bloed gegee om by die altaar te gebruik, om versoening vir julle lewens te doen. Dit is immers die bloed wat deur die lewe vir 'n persoon versoening doen. 12 Daarom het Ek vir die Israeliete gesê, ‘Niemand onder julle mag bloed eet nie. Die vreemdeling wat tydelik by julle woon, mag ook nie bloed eet nie.’ 13As daar enigiemand onder die Israeliete is, en van die vreemdelinge wat tydelik by julle woon, wat wild of 'n voël jag wat geëet mag word, moet hy die bloed daarvan laat uitloop en dit met grond bedek, 14want dit is elke dier se lewe. Sy bloed is sy lewe, daarom het Ek vir die Israeliete gesê, ‘Julle mag glad nie die bloed van enige dier eet nie, want die lewe van elke dier is sy bloed. Elkeen wat dit eet, sal afgesny word.’ 15 Enigiemand onder die gebore Israeliete en die vreemdelinge wat iets eet wat doodgegaan het of verskeur is, moet sy klere was en homself met water afspoel. Hy sal •onrein wees tot die aand. Dan is hy rein. 16As hy nie sy klere was en sy liggaam met water afspoel nie, sal hy sy skuld moet dra.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid