Levitikus 14

14
Reinigingsvoorskrifte vir velsiekte
1Die Here het met Moses gepraat en vir hom gesê: 2“ Dit is die voorskrifte wat geld vir iemand met velsiekte op die dag van sy reiniging: Hy moet na die priester gebring word. 3Die priester moet na hom toe uitgaan buite die kamp. Die priester moet hom ondersoek en as hy vind dat die aangetaste persoon van velsiekte genees is, 4 moet hy opdrag gee dat twee lewendige rein voëls, 'n stukkie sederhout, 'n karmosynrooi toutjie en 'n marjoleintakkie gebring word vir die een wat hom wil laat reinig. 5 Die priester moet opdrag gee dat die een voël se kop oor 'n kleipot met vars water afgesny word. 6Die lewendige voël moet hy neem, en die stukkie sederhout, die karmosynrooi toutjie en die marjoleintakkie saam met die lewendige voël doop in die bloed van die ander voël waarvan die kop oor vars water afgesny is. 7 Hy moet die bloed sewe maal sprinkel oor die persoon wat hom van die velsiekte wil laat reinig en hom dan rein verklaar. Daarna moet hy die lewendige voël oor die oop veld loslaat. 8 Die een wat hom wil laat reinig, moet sy klere was, al sy hare afskeer en homself met water afspoel. Hy is dan rein en mag daarna in die kamp kom, maar hy moet sewe dae lank buite sy tent bly. 9Op die sewende dag moet hy weer al sy hare afskeer – sy kop, sy baard en sy wenkbroue. Ja, hy moet al sy hare afskeer. Hy moet sy klere was en sy lyf met water afspoel. Hy is dan rein. 10 Op die agtste dag moet hy twee jong ramme sonder gebrek en een jaaroud ooitjie sonder gebrek neem, asook 'n •graanoffer van drie tiendes van 'n efa gesifte meel wat met olyfolie gemeng is en een log olyfolie. 11Die priester wat die reiniging voltrek, moet die man wat hom wil laat reinig daarmee voor die Here laat staan by die ingang van die •Tent van Ontmoeting. 12 Die priester moet een van die jong ramme neem en dit saam met die log olyfolie naderbring as 'n •hersteloffer. Hy moet dit voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. 13 Die man moet die jong ram keelaf sny waar die •reinigingsoffer en die •brandoffer keelaf gesny word, op 'n heilige plek, want soos die reinigingsoffer, kom die hersteloffer die priester toe. Dit is besonder heilig. 14 Die priester moet van die hersteloffer se bloed neem en dit aan die persoon wat hom wil laat reinig se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon smeer. 15Daarna moet die priester die log olyfolie neem en daarvan in die palm van sy linkerhand uitgooi. 16Die priester moet sy regterwysvinger in die olyfolie in sy linkerpalm doop en met sy vinger sewe maal daarvan voor die Here sprinkel. 17Van die olyfolie wat in sy handpalm oor is, moet die priester aan die persoon wat hom wil laat reinig se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon, bo-oor die bloed van die hersteloffer, smeer. 18Die res van die olyfolie in die priester se handpalm moet hy aan die persoon wat hom wil laat reinig, se kop smeer en sodoende vir hom versoening doen voor die Here. 19 Die priester moet dan die reinigingsoffer bring en versoening doen vir die een wat hom van sy •onreinheid wil laat reinig. Daarna moet hy die brandoffer keelaf sny. 20 Die priester moet die brandoffer en graanoffer op die altaar offer. So doen die priester vir hom versoening. Hy is dan rein.
21“ Maar as die persoon arm is en dit nie kan bekostig nie, moet hy vir 'n hersteloffer een jong ram as gewyde gawe neem om vir hom versoening te doen, asook 'n tiende van 'n efa gesifte meel wat met olyfolie gemeng is as graanoffer, 'n log olyfolie daarby, 22en twee tortelduiwe of twee jong duiwe – wat hy ook al kan bekostig – een as reinigingsoffer en die ander as brandoffer. 23Hy moet dit op die agtste dag van sy reiniging na die priester bring by die ingang van die Tent van Ontmoeting, daar voor die Here. 24Die priester moet die jong ram vir die hersteloffer en die log olyfolie neem en dit voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. 25 Die man moet die jong ram vir die hersteloffer keelaf sny en die priester moet van die bloed van die hersteloffer neem en dit aan die een wat hom wil laat reinig se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon smeer. 26Die priester moet van die olyfolie in sy linkerhandpalm uitgooi 27en met sy regterwysvinger moet hy van die olyfolie in sy linkerhandpalm sewe maal voor die Here sprinkel. 28 Die priester moet van die olyfolie wat in sy handpalm is aan die een wat hom wil laat reinig se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon, bo-oor die bloed van die hersteloffer, smeer. 29Die res van die olyfolie in die priester se handpalm moet hy aan die persoon wat hom wil laat reinig, se kop smeer en sodoende vir hom versoening doen voor die Here. 30Die priester moet een elk van die tortelduiwe of van die jong duiwe as offer bring – wat die man ook al kan bekostig – 31een as 'n reinigingsoffer en die ander as 'n brandoffer, saam met die graanoffer. So doen die priester vir die persoon wat hom wil laat reinig versoening voor die Here. 32Dit is die voorskrifte vir iemand met velsiekte wat nie die offers vir sy reiniging kan bekostig nie.”
Reinigingsvoorskrifte vir onrein huise
33Die Here het met Moses en Aäron gepraat en vir hulle gesê: 34“ Wanneer julle in Kanaän kom, die land wat Ek vir julle as besitting gaan gee, en Ek tref 'n huis in dié land van julle met 'n skimmelplaag, 35moet die persoon aan wie die huis behoort, kom en vir die priester sê, ‘Dit lyk vir my daar is 'n skimmelplaag in die huis.’ 36Die priester moet opdrag gee dat die huis ontruim word voordat hy daar ingaan om die skimmelplaag te ondersoek, om te verhoed dat alles wat in die huis is, onrein word. Daarna kan die priester ingaan om die huis te ondersoek. 37As hy die skimmelplaag ondersoek en vind dat dit teen die mure van die huis groenerige of rooierige holtes maak wat lyk of dit onder die muur se oppervlak lê, 38moet die priester by die huis uitgaan na die ingang van die voorhof, en die huis sewe dae lank toesluit. 39Op die sewende dag moet die priester terugkeer. As hy die huis ondersoek en vind dat die skimmelplaag teen die mure van die huis versprei het, 40moet die priester opdrag gee dat die klippe waarop die skimmelplaag is, verwyder en buite die stad op 'n onrein plek weggegooi word. 41Die huis se mure moet hy aan die binnekant reg rondom laat afskraap en die afgeskraapte grond moet buite die stad op 'n onrein plek weggegooi word. 42Dan moet hulle ander klippe neem en in die plek van daardie klippe inbou. Hulle moet ook ander klei neem en die huis daarmee pleister.
43“Maar as die skimmelplaag weer in die huis uitslaan nadat die klippe uitgebreek en die huis afgeskraap en oorgepleister is, 44moet die priester in die huis ingaan. As hy die huis ondersoek en vind dat die plaag versprei het, is daar skadelike skimmel in die huis; dit is onrein. 45Die huis moet afgebreek word en die klippe, die hout en al die los grond van die huis moet buite die stad op 'n onrein plek weggegooi word. 46Enigiemand wat die huis binnegaan gedurende die tyd wat dit gesluit is, sal tot die aand toe onrein wees. 47Iemand wat in die huis slaap, moet sy klere was en iemand wat in die huis eet, moet ook sy klere was.
48“As die priester egter in die huis ingaan en dit ondersoek en vind dat die skimmelplaag, nadat die huis gepleister is, nie versprei het nie, moet hy die huis rein verklaar omdat die skimmelplaag opgeklaar het. 49 Om die huis te reinig, moet hy twee voëls, 'n stukkie sederhout, 'n karmosynrooi toutjie en 'n marjoleintakkie neem. 50Die een voël se kop moet hy oor 'n kleipot met vars water afsny. 51Hy moet die stukkie sederhout, die marjoleintakkie, die karmosynrooi toutjie en die lewendige voël neem en dit doop in die vars water en die bloed van die voël waarvan die kop afgesny is. Hy moet dan die huis sewe keer besprinkel. 52So moet hy die huis reinig met die bloed van die voël en die vars water, met die lewendige voël, die stukkie sederhout, die marjoleintakkie en die karmosynrooi toutjie. 53Die lewendige voël moet hy buite die stad in die oop veld loslaat. So sal hy versoening doen vir die huis. Dit sal dan rein wees.
54“ Dit is die voorskrifte vir enige geval van velsiekte en uitslag, 55 vir skimmel op klere en in 'n huis, 56 vir 'n swelsel, 'n skurwe plek en 'n ligte vlek, 57om te kan vasstel wanneer iets onrein is en wanneer dit rein is.
“Dit dan wat betref die voorskrifte oor velsiekte en skimmel. ”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid