Joël 3

3
Oordeel oor die nasies
1 “ Ja, wanneer Ek in daardie dae,
in daardie tyd,
die lot van Juda en Jerusalem verander,
2 sal Ek al die nasies versamel
en hulle afbring na die vallei van Josafat!
Ek sal daar met hulle in 'n regstryd tree
oor my volk en my erfdeel,
oor Israel, wat deur hulle
onder die nasies verstrooi is.
Hulle het my land verdeel
3 en oor my volk lootjies getrek.
Hulle het die seuns geruil vir prostitute
en die meisies verkoop vir wyn
en dit uitgedrink.
4 “ Verder, wat het julle met My te doen,
Tirus en Sidon
en al die gebiede van Filistea?
Wil julle julle op My wreek?
As julle My iets wil aandoen,
sal Ek gou, blitsvinnig,
julle dade op julle koppe laat neerkom,
5 omdat julle my silwer
en my goud gevat het;
my kosbare skatte het julle
in julle tempels ingevat
6 en die kinders van Juda en Jerusalem
het julle aan die Grieke verkoop
om hulle ver van hulle
grondgebied weg te neem.
7 Kyk, nou gaan Ek hulle ontbied
uit die plek waarheen julle
hulle verkoop het.
Ek sal julle dade op julle koppe
laat neerkom:
8 Ek gaan julle seuns
en julle dogters verkoop
aan die kinders van Juda,
en hulle sal hulle weer verkoop
aan die Sabeërs,
aan 'n nasie ver hiervandaan.”
Voorwaar, die Here het dit self gesê.
9 Roep dit uit onder die nasies,
berei voor vir 'n heilige oorlog,
ontbied die krygshelde;
laat al die krygsmanne nader kom,
laat hulle optrek.
10 Smee van julle ploegskare swaarde,
en van julle snoeimesse steekspiese,
selfs die swakke moet sê:
“Ek is 'n held!”
11 Maak gou en kom,
maak al die omringende nasies bymekaar.
Here, laat u krygshelde terugkeer!
12 “Die nasies moet in beweging kom
en optrek na die vallei van Josafat,
want dit is waar Ek gaan sit
om al die omringende nasies te oordeel.”
13 Steek die sekel in,
want die oes is ryp!
Klim in, trap,
want die parskuip is vol
en die giskuipe loop oor,
want hulle boosheid is groot!
14 Skares, daar is skares mense
in die dal van beslissing!
Ja, die dag van die Here is naby
in die dal van beslissing!
15 Die son en maan word donker,
die sterre hou hulle glans terug.
16 En die Here, uit Sion brul Hy,
uit Jerusalem verhef Hy sy stem,
sodat hemel en aarde bewe.
Maar die Here is 'n toevlugsoord vir sy volk,
'n skuilplek vir die Israeliete.
17 “Dan sal julle weet dat Ek,
die Here, julle God is,
wat woon op Sion, my heilige berg.
Dan sal Jerusalem 'n heilige plek wees,
en vreemdes sal nie weer
deur haar gebied trek nie.”
Oorvloed en redding in Juda en Sion
18 Op daardie dag sal die berge
drup van die sap van druiwe,
en die heuwels sal vloei van melk,
en al die spruite van Juda
sal stroom van water.
'n Fontein sal uit die huis
van die Here vloei,
en dit sal die Sittimdal natlei.
19 Egipte sal 'n verlate plek word
en Edom 'n verlate woestyn
vanweë die geweld
teen die kinders van Juda,
omdat hulle onskuldige bloed
in Juda vergiet het.
20 Maar Juda sal vir altyd bly,
en Jerusalem van geslag tot geslag.
21 “Ek sal hulle bloed wreek
wat Ek voorheen
nie gewreek het nie.”
Ja, die Here woon in Sion!

Tans Gekies:

Joël 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid