Jeremia 29

29
Jeremia se brief aan die ballinge
1Dit is die woorde van die brief wat die profeet Jeremia uit Jerusalem gestuur het na die res van die oudstes in ballingskap en na die priesters, die profete en die hele volk wat Nebukadnesar uit Jerusalem in ballingskap weggevoer het na Babel, 2 nadat koning Jegonja, die koninginmoeder en die eunugs, die •hoë amptenare van Juda en Jerusalem, die vakmanne en metaalwerkers reeds uit Jerusalem vertrek het, 3deur bemiddeling van Elasa, seun van Safan, en Gemarja, seun van Gilkija, hulle wat deur Sedekia, koning van Juda, na Babel, na Nebukadnesar, die koning van Babilonië, gestuur is:
4So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, aan al die ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel in ballingskap weggevoer het: 5 “Bou huise en bewoon dit; plant tuine aan en eet die vrugte daarvan! 6Neem vroue en verwek seuns en dogters, en kry vir julle seuns vroue en gee julle dogters aan mans, sodat hulle seuns en dogters kan kry. Word daar meer en moenie minder word nie. 7Bevorder die voorspoed van die stad waarheen Ek julle in ballingskap laat gaan het, en bid tot die Here vir die stad, want in sy voorspoed is daar ook voorspoed vir julle.” 8 Ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Moenie dat julle profete en die voorspellers in julle midde julle mislei nie, en moenie aandag gee aan die drome wat julle hulle laat droom nie. 9Want dit is leuens wat hulle vir julle profeteer in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie,’ is die uitspraak van die Here.
10 Ja, so sê die Here: “As sewentig jaar vir Babel verloop het, sal Ek aan julle aandag gee en my goeie belofte aan julle gestand doen, om julle na hierdie plek toe terug te bring. 11 Ja, Ek ken die planne wat Ek vir julle het,” is die uitspraak van die Here. “Dit is planne van voorspoed, en nie teenspoed nie, om aan julle 'n toekoms en hoop te gee. 12Julle sal My aanroep, en kom en tot My bid, en Ek sal na julle luister. 13 Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg. 14Ek sal My deur julle laat vind,” is die uitspraak van die Here, “en Ek sal julle lot verander en julle bymekaarmaak uit al die nasies en al die plekke waarheen Ek julle verdryf het,” is die uitspraak van die Here, “en Ek sal julle terugbring na die plek waarvandaan Ek julle in ballingskap weggevoer het.”
15“Ek skryf dit omdat julle gesê het, ‘Die Here het vir ons profete in Babel laat opstaan.’
16“ Ja, so sê die Here oor die koning wat op die troon van Dawid sit en oor die hele volk wat in hierdie stad woon, julle volksgenote wat nie saam met julle in ballingskap gegaan het nie – 17 ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Kyk, Ek gaan die swaard, hongersnood en pessiekte onder hulle instuur. Ek gaan hulle maak soos verrotte vye wat nie meer geëet kan word nie, omdat dit te sleg is. 18 Ek gaan hulle met die swaard, hongersnood en pessiekte agtervolg en Ek gaan van hulle 'n skrikwekkende voorbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde, 'n voorbeeld van vervloeking, 'n skrikbeeld, die rede vir 'n gefluit en 'n bespotting onder al die nasies waarheen Ek hulle verdryf het, 19 omdat hulle nie na my woorde geluister het nie,’ is die uitspraak van die Here, ‘toe Ek my dienaars, die profete, aanhoudend na hulle gestuur het, en hulle nie geluister het nie,’ is die uitspraak van die Here.
20“Maar julle, hoor die woord van die Here, al die ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel weggestuur het! 21So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, oor Agab, seun van Kolaja en oor Sedekia, seun van Maäseja, wat vir julle in my Naam leuens profeteer, ‘Kyk, Ek gaan hulle oorgee in die hand van Nebukadresar, koning van Babilonië, en hy sal hulle voor julle oë neervel. 22 En daarvan sal 'n vervloeking afgelei word deur al die ballinge van Juda wat in Babel is, naamlik: “Mag die Here met jou maak soos met Sedekia en Agab, wat deur die koning van Babilonië in die vuur laat braai is!” – 23 omdat hulle 'n gruweldaad gepleeg het in Israel: Hulle het met die vroue van hulle medemense owerspel gepleeg en in my Naam vals woorde verkondig wat Ek hulle nie beveel het nie. Ek is die Een wat weet en 'n getuie is,’ is die uitspraak van die Here.”
Boodskap aan Semaja
24“Vir Semaja, uit Negelam, moet jy sê: 25So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Dit is jy wat in jou eie naam briewe gestuur het aan die hele volk wat in Jerusalem is, en aan die priester Sefanja, seun van Maäseja, en aan al die priesters, met die woorde:
26 Die Here het jou as priester aangestel in die plek van die priester Jojada, sodat daar opsieners in die huis van die Here kan wees om elkeen wat kranksinnig is en as profeet optree, in die blok en in die gevangenis te sit. 27En nou, waarom het jy nie vir Jeremia uit Anatot, wat vir julle as 'n profeet optree, tereggewys nie? 28 Op stuk van sake is dit waarom hy aan ons in Babel 'n boodskap gestuur het wat lui: “Dit gaan lank duur; bou huise en bewoon dit, plant tuine aan en eet die vrugte daarvan!” ’ ”
29Maar die priester Sefanja het hierdie brief ten aanhore van die profeet Jeremia voorgelees. 30Toe het die woord van die Here tot Jeremia gekom: 31“ Stuur 'n boodskap aan al die ballinge, ‘So sê die Here oor Semaja, uit Negelam: “Omdat Semaja vir julle geprofeteer het, terwyl Ek hom nie gestuur het nie, en hy julle op leuens laat vertrou het, 32daarom, so sê die Here, ‘Kyk, Ek gaan van Semaja, uit Negelam, rekenskap eis, en ook van sy nageslag. Daar sal vir hom niemand wees wat tussen hierdie volk woon nie; en hy sal nie die goeie beleef wat Ek aan my volk gaan doen nie,’ is die uitspraak van die Here, ‘want hy het valshede oor die Here verkondig.’ ” ’ ”

Tans Gekies:

Jeremia 29: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid