Jeremia 30

30
Herstel van Israel en Jerusalem
1Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het: 2“So sê die Here, die God van Israel, ‘Skryf vir jou al die woorde wat Ek met jou gepraat het in 'n •boekrol. 3 Want kyk, daar kom dae,’ is die uitspraak van die Here, ‘dat Ek die lot van my volk Israel en van Juda sal verander,’ sê die Here. ‘Ek sal hulle terugbring na die land wat Ek aan hulle voorouers gegee het, en hulle sal dit in besit neem.’ ”
4Dit is die woorde wat die Here oor Israel en Juda gesê het: 5“ So sê die Here,
‘Ons het 'n angskreet gehoor,
daar is vrees, en geen vrede nie!
6Vra maar en kyk
of 'n man geboorte kan gee?
Waarom sien ek dan elke man
met sy hande op sy heupe
soos 'n vrou wat geboorte gee?
Waarom het al die gesigte verbleek?
7 Helaas, want daardie dag
is groot en sonder gelyke!
Dit is 'n tyd van benoudheid vir Jakob,
maar hy sal daaruit verlos word.
8 Op daardie dag,’
is die uitspraak van die Here,
Heerser oor alle magte,
‘sal Ek sy juk van jou nek af breek
en jou stroppe uitmekaar ruk.
Vreemdes sal hom nie langer verkneg nie.
9 Hulle sal die Here, hulle God dien,
en Dawid, hulle koning wat Ek
vir hulle sal laat opstaan.
10 En jy, my dienskneg Jakob,
moenie bang wees nie!’
is die uitspraak van die Here.
‘Moet jou nie laat afskrik nie, Israel!
Want kyk, Ek gaan jou verlos
uit 'n ver plek,
jou nageslag uit die land
van hulle gevangenskap.
Jakob sal terugkeer;
hy sal stil en rustig wees,
en niemand sal hom opjaag nie.
11Ja, Ek is by jou,’
is die uitspraak van die Here,
‘om jou te verlos;
want Ek sal 'n einde maak
aan al die nasies
waarheen Ek jou verdryf het;
net aan jou sal Ek geen einde maak nie.
Ek sal jou matig straf,
maar jou beslis nie ongestraf laat nie.’
12“Ja, so sê die Here,
‘Ongeneeslik is jou verwonding,
jou wond word nie gesond nie.
13Daar is niemand wat jou regsaak
behartig nie.
Vir die wond is daar geen medisyne nie;
daar is geen herstel vir jou nie.
14Al jou minnaars het jou vergeet,
hulle vra nie eers na jou nie;
want met die wonde van 'n vyand
het Ek jou getref.
Dit was 'n genadelose bestraffing,
omdat jou sondeskuld so groot is,
jou sondes so talryk is.
15Waarom roep jy om hulp
oor jou verwonding?
Jou smart is ongeneeslik.
Omdat jou sondeskuld so groot is,
jou sondes so talryk is,
het Ek jou hierdie dinge aangedoen.
16 Daarom, almal wat jou verslind,
sal verslind word;
al jou teenstanders sal saam
in ballingskap gaan.
Hulle wat jou beroof,
is bestem om beroof te word;
en almal wat jou plunder,
gee Ek oor om geplunder te word.
17 Ja, Ek sal vir jou herstel beskik,
jou van jou wonde genees,’
is die uitspraak van die Here,
‘al noem hulle jou die een wat weggejaag is –
Sion, die een oor wie niemand
navraag doen nie.’
18“So sê die Here:
‘Kyk, Ek gaan die lot van Jakob
se tente verander,
oor sy wonings gaan Ek My ontferm.
Dorpe sal op hulle puinhope herbou word,
en vestings sal staan waar hulle hoort.
19 Uit hulle sal dankliedere opklink,
en die geluid van mense wat dans.
Ek sal hulle baie maak;
hulle sal nie minder word nie.
Ek sal eer aan hulle gee;
hulle sal nie gering wees nie.
20 Jakob se kinders sal weer
soos voorheen wees;
sy volksvergadering sal voor My
bestendig wees.
Ek sal van almal wat hom verdruk
rekenskap eis.
21 Sy maghebber sal uit eie geledere kom;
sy heerser sal uit sy midde voortkom.
Ek sal hom laat nader kom,
en hy sal tot My nader.
Ja, wie is die een wat dit sal waag
om tot My te nader?’
is die uitspraak van die Here.
22 ‘Julle sal vir My 'n volk wees,
en Ek sal vir julle 'n God wees.’ ”
23 Daar kom die Here se stormwind!
Woede het losgebreek – 'n werwelstorm!
Dit kolk bo die koppe van goddeloses.
24 Die brandende toorn van die Here
sal nie bedaar nie,
totdat Hy die planne van sy hart uitgevoer,
dit tot stand gebring het.
Aan die einde van die dae
sal julle dit verstaan.

Tans Gekies:

Jeremia 30: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid