Jeremia 27

27
Aanvaarding van Babilonië se juk
1Aan die begin van Sedekia, seun van Josia, koning van Juda, se regering, het hierdie woord van die Here tot Jeremia gekom: 2“So het die Here vir my gesê: Maak vir jou stroppe en skeie, en sit dit om jou nek; 3stuur dit dan na die koning van Edom, die koning van Moab, die koning van die Ammoniete, die koning van Tirus en die koning van Sidon deur die gesante wat in Jerusalem by Sedekia, koning van Juda, aangekom het. 4Beveel hulle om vir hulle heersers te sê, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “So moet julle vir julle heersers sê, 5 Ek is die een wat deur my groot krag en uitgestrekte arm die aarde gemaak het, ook die mense en diere wat op die aarde is, en Ek gee dit aan wie Ek wil. 6 En nou het Ek self al hierdie lande oorgegee in die hand van Nebukadnesar, die koning van Babilonië, my dienskneg. Ja, Ek het selfs die wilde diere aan hom gegee om aan hom onderhorig te wees. 7 Al die nasies sal hom en sy seun en sy kleinseun dien, totdat ook vir sy land die tyd aanbreek en magtige nasies en groot konings hom verkneg. 8Maar die nasie of koninkryk wat nie aan hom, Nebukadnesar, die koning van Babilonië, onderhorig wil wees nie en sy nek nie onder die juk van die koning van Babilonië, insteek nie – met die swaard, hongersnood en pessiekte sal Ek van daardie nasie rekenskap eis, is die uitspraak van die Here, totdat Ek hulle volledig in sy hand oorgegee het. 9 Maar julle, moenie luister na julle profete, julle voorspellers, julle dromers, die lesers van voortekens of julle towenaars nie, hulle wat met julle praat en sê, ‘Julle sal nie die koning van Babilonië dien nie.’ 10 Want dit is leuens wat hulle vir julle profeteer, en dit sal daartoe lei dat julle van julle grond af verwyder word. Ek sal julle verdryf, en julle sal omkom. 11Maar die nasie wat sy nek onder die juk van die koning van Babilonië insteek en hom dien – Ek sal hulle op hulle grond laat bly, is die uitspraak van die Here, en hulle sal dit bewerk en daarop woon.” ’ ”
12Vir Sedekia, koning van Juda, het ek toe al hierdie woorde gesê: “Steek julle nekke onder die juk van die koning van Babilonië in, en dien hom en sy volk, sodat julle kan leef! 13 Waarom moet julle, jy en jou volk, sterf deur die swaard, hongersnood en pessiekte, soos die Here gesê het oor die nasie wat die koning van Babilonië nie wil dien nie? 14Moenie luister na die woorde van die profete wat vir julle sê, ‘Julle sal nie die koning van Babilonië dien nie,’ want dit is leuens wat hulle vir julle profeteer. 15 Want Ek het hulle nie gestuur nie,” is die uitspraak van die Here, “en hulle profeteer vals in my Naam, wat daartoe sal lei dat Ek julle verdryf, en dat julle sal omkom, julle en die profete wat vir julle profeteer.”
16Vir die priesters en hierdie hele volk het ek gesê: “So sê die Here, ‘Moenie luister na die woorde van julle profete nie, hulle wat vir julle profeteer: “Kyk, die voorwerpe van die huis van die Here sal nou vinnig teruggebring word uit Babel.” Want dit is leuens wat hulle vir julle profeteer. 17Moenie na hulle luister nie; dien die koning van Babilonië, sodat julle kan leef. Waarom moet hierdie stad 'n puinhoop word?’ 18As hulle dan profete is, en as die woord van die Here by hulle is, moet hulle liewer by die Here, Heerser oor alle magte, pleit dat die voorwerpe wat nog oor is in die huis van die Here en in die huis van die koning van Juda en in Jerusalem, nie na Babel gaan nie. 19Want so sê die Here, Heerser oor alle magte, oor die pilare, die See, die verskuifbare staanders en die res van die voorwerpe wat in hierdie stad oorgebly het, 20 wat Nebukadnesar, die koning van Babilonië, nie weggevat het toe hy Jegonja, seun van Jojakim, koning van Juda, uit Jerusalem in ballingskap weggevoer het na Babel saam met al die hoëlui van Juda en Jerusalem nie. 21 Ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, oor die voorwerpe wat oorgebly het in die huis van die Here en in die huis van die koning van Juda en in Jerusalem, 22‘Na Babel sal dit geneem word, en dit sal daar bly tot op die dag dat Ek daaraan aandag gee,’ ” is die uitspraak van die Here. “ ‘Dan sal Ek dit laat haal en dit terugbring na hierdie plek.’ ”

Tans Gekies:

Jeremia 27: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid