Jesaja 6

6
Jesaja se taak as profeet
1 In die sterfjaar van koning Ussia het ek my Heer sien sit op 'n hoë en verhewe troon. Die some van sy kleed het die •tempel gevul. 2 Serafs het bo Hom gereedgestaan. Elkeen het ses vlerke gehad: Met twee vlerke het elkeen sy gesig bedek, met twee het hy sy voete bedek en met twee kon hy vlieg. 3Hulle het na mekaar geroep en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid.” 4 Die deurpenne in die drumpel het gebewe van die geluid van die een wat roep. Die tempel het vol rook geword.
5 Ek het gesê:
“Wee my, want ek is verlore!
Want ek is 'n mens
met onrein lippe,
en by 'n volk met onrein lippe
woon ek.
Ja, my oë het die Koning,
die Here, Heerser oor alle magte,
gesien.”
6Een van die serafs het na my toe gevlieg met 'n gloeiende kool by hom wat hy met 'n tang van die altaar af geneem het. 7 Hy het my mond aangeraak en gesê:
“Kyk, dit het jou lippe aangeraak,
jou sondeskuld het gewyk,
daar is vir jou sonde
versoening gedoen.”
8 Toe hoor ek die stem van my Heer wat sê:
“Wie sal Ek stuur
en wie sal vir ons gaan?”
Ek sê toe:
“Hier is ek, stuur my!”
9 Hy het gesê:
“Gaan sê vir hierdie volk,
‘Luister goed,
maar moenie verstaan nie;
kyk goed,
maar moenie begryp nie.’
10 Maak die harte van hierdie volk
ongevoelig,
maak hulle ore doof
en smeer hulle oë toe,
sodat hulle nie sien met hulle oë,
met hulle ore nie hoor,
en met hulle hart nie verstaan,
en nie terugdraai
en genees word nie!”
11 Daarop vra ek:
“Tot wanneer, my Heer?”
Hy het geantwoord:
“Totdat die dorpe vervalle lê
sonder inwoners,
die huise sonder mense is,
die land verval tot 'n woesteny,
12en die Here die mense
ver wegdryf,
en die verlatenheid in die land
groot is.
13 As daar nog 'n tiende
in die land is,
sal die land weer aan
verwoesting uitgelewer wees.
Tog sal by hulle 'n stomp oorbly,
soos van 'n •terebintboom en 'n eikeboom
wanneer hulle neergevel is.
Die stomp van die land
is 'n heilige geslag. ”

Tans Gekies:

Jesaja 6: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid