Jesaja 7

7
Oordeel en redding
1 In die tyd van Agas, seun van Jotam, seun van Ussia, die koning van Juda, het Resin, die koning van Aram, asook Peka, seun van Remalja, die koning van Israel, teen Jerusalem opgetrek vir oorlog. Hulle was egter nie in staat om teen haar te veg nie. 2Toe die berig aan die huis van Dawid gebring is, “Aram het by Efraim aangesluit, ” het Agas se hart en die hart van sy volk gebewe soos die bome van 'n bos voor wind bewe. 3 Die Here het vir Jesaja gesê: “Gaan tog uit om Agas te ontmoet, jy en Sjear-Jasjoeb, jou seun, by die einde van die watervoor na die boonste dam wat aan die pad na die Bleikveld geleë is. 4 Sê vir hom, ‘Wees versigtig, maar bly kalm! Moenie bang wees nie! Moenie lafhartig raak oor hierdie twee rokende houtstompe nie, oor die brandende toorn van Resin en die Arameërs en die seun van Remalja nie, 5omdat Aram teen jou kwaad beplan het, ook Efraim en die seun van Remalja, met die woorde: 6“Laat ons teen Juda optrek, hulle die skrik op die lyf jaag en dit dan vir ons verower. Laat ons dan 'n koning daarin aanstel, die seun van Tabeal.” ’
7“ So sê my Heer, die Here,
‘Dit sal nie tot stand kom nie,
dit sal nie gebeur nie.
8 Immers, die hoof van Aram
is Damaskus,
en die hoof van Damaskus
is Resin.
Nog vyf-en-sestig jaar,
dan is Efraim vernietig
en nie meer 'n volk nie.
9Die hoof van Efraim is Samaria,
en die hoof van Samaria
is die seun van Remalja.
As julle nie vertroue het nie,
sal julle beslis nie behoue bly nie.’ ”
10Die Here het weer met Agas gepraat en gesê: 11 “Vra vir jou 'n teken van die Here jou God; vra diep af na die •doderyk, of hoog na bo. ” 12 Maar Agas het geantwoord: “Ek sal nie vra nie, en ek sal die Here nie uitdaag nie.”
13Daarop sê Jesaja: “Luister tog, huis van Dawid! Is dit nie vir julle genoeg om mense te vermoei nie, dat julle ook my God moet vermoei? 14 Daarom sal my Heer self vir julle 'n teken gee: Kyk, die jong vrou is swanger, en gaan 'n seun in die wêreld bring. Sy sal hom Immanuel noem. 15 Dikmelk en heuning sal hy eet, sodat hy kan weet om die kwaad te verwerp en die goeie te kies. 16 Ja, nog voordat die kind sal weet om die kwaad te verwerp en die goeie te kies, sal die grondgebied van die twee konings oor wie jy verskrik is, verlate lê. 17Die Here sal egter dae soos daar nie was sedert die tyd toe Efraim van Juda weggebreek het nie, laat aanbreek oor jou, jou volk en jou familie: die koning van Assirië!
18“ Op daardie dag
sal die Here fluit vir die vlieë
wat aan die einde van die
strome van Egipte is,
en vir die bye
wat in die land Assirië is.
19Hulle sal kom en almal gaan sit
in die dale by die kranse,
in die rotsskeure,
en op al die doringbosse
en by al die drinkplekke.
20“ Op daardie dag sal my Heer
met 'n skeermes wat gehuur is
anderkant die Rivier,
met die koning van Assirië,
die kop en hare van die voete
afskeer;
dit sal ook die baard verwyder.
21“ Op daardie dag
sal iemand 'n jong koei
en twee stuks kleinvee
aan die lewe hou;
22en vanweë die oorvloed van melk
wat hulle gee,
sal hy dikmelk eet.
Ja, dikmelk en heuning sal almal eet
wat in die land oorgebly het.
23“ Op daardie dag
sal elke plek waar daar
duisend wingerdstokke is,
wat duisend silwerstukke werd is,
aan die doringstruike
en onkruid behoort.
24Met pyl en boog sal mens
daar moet ingaan.
Ja, van doringstruike en onkruid
sal die hele land oortrek wees.
25Al die heuwels
wat met 'n ploegskaar bewerk is –
jy sal daar nie ingaan nie,
uit vrees vir die doringstruike
en onkruid.
Dit sal dien as weiplek vir beeste
en as 'n plek wat vertrap word
deur kleinvee.”

Tans Gekies:

Jesaja 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid