Jesaja 5

5
Verskrikking en vertroue
1 Ek wil oor my geliefde sing:
my geliefde se lied
oor sy wingerd.
My geliefde het 'n wingerd gehad
op 'n vrugbare heuwel.
2Hy het dit bewerk,
die klippe uitgehaal
en edeldruiwe daar geplant.
Hy het 'n toring gebou
in die middel daarvan,
en ook 'n giskuip daarin uitgekap.
Hy het verwag dat dit druiwe
sou dra,
maar dit het wilde druiwe gelewer.
3“ Daarom, inwoners van Jerusalem
en manne van Juda,
besleg tog tussen My en my wingerd.
4 Wat moet nog aan my wingerd
gedoen word wat Ek nie reeds
daarin gedoen het nie?
Waarom het Ek verwag
dat dit druiwe sou dra,
maar dit het wilde druiwe gelewer?
5 Daarom wil Ek aan julle
bekend maak wat Ek
aan my wingerd gaan doen:
Ek gaan sy doringheining verwyder,
sodat dit bewei word.
Ek gaan sy gepakte klipmuur afbreek,
sodat dit 'n vertrapte plek word.
6 Ek sal dit 'n verwoeste plek maak;
dit sal nie gesnoei
en nie geskoffel word nie.
Doringstruike en onkruid sal opskiet,
en aan die wolke sal Ek opdrag gee
om nie 'n druppel daarop
te laat reën nie.”
7Ja, die wingerd van die Here,
Heerser oor alle magte,
is die huis van Israel;
en die manne van Juda is die plante
waarin Hy Hom verlustig.
Hy het gewag op reg,
maar kyk, daar was regskending,
op geregtigheid,
maar kyk, daar was hulpgeroep.
8 Wee hulle wat huis by huis voeg,
wat ploegland by ploegland voeg,
totdat daar geen plek meer is nie,
en julle alleen in die land woon.
9 Met my eie ore het ek
die Here, Heerser oor alle magte,
hoor sweer:
“Baie huise sal 'n skrikbeeld word –
die grotes en mooies
is sonder inwoner.
10'n Wingerd op grond
wat in tien dae met twee beeste
geploeg kan word,
sal een bat lewer,
en 'n gomer saad
sal 'n efa lewer.”
11 Wee hulle wat vroeg
in die môre opstaan,
naarstig soek na sterk drank,
en wat teen skemeraand sloer,
dat die wyn hulle kan warm maak.
12Daar is lier en harp,
tamboeryn en fluit,
en wyn by hulle feesmaaltye.
Maar op dit wat die Here doen,
slaan hulle nie ag nie,
en die werk van sy hande
sien hulle nie raak nie.
13 Daarom gaan my volk
in ballingskap
vanweë 'n gebrek aan kennis;
sy geëerdes word mense
wat honger is,
en sy gepeupel raak uitgedor
van die dors.
14Daarom het die •doderyk
sy keel wyd oopgemaak,
en sy mond oopgesper sonder perk.
Die stad se luisterrykes en gespuis,
die lawaaimakers
en uitbundiges in haar
sal daarin afdaal.
15 Mense sal neergebuig word,
manne sal verneder word,
hovaardiges sal hulle oë
moet neerslaan.
16Die Here, Heerser oor alle magte,
is verhewe in sy regspraak;
die heilige God betoon Hom heilig
deur geregtigheid.
17Jong ramme sal wei
asof dit hulle weiveld is;
en die ruïnes van vetgevoerdes –
vreemdes sal daar eet.
18 Wee hulle wat sondeskuld
saamsleep met bande van bedrog,
en sonde soos met die toue
van 'n wa –
19hulle wat sê:
“Hy moet gou maak,
sy werk moet vinnig gebeur,
sodat ons dit kan sien;
die plan van die Heilige van Israel
moet ontvou, in vervulling gaan,
sodat ons dit kan weet.”
20 Wee hulle wat die slegte dinge
goed noem,
en die goeie dinge sleg,
hulle wat die duisternis tot lig maak
en die lig tot duisternis,
wat bitter soet maak
en soet bitter.
21 Wee hulle wat wys is
in hulle eie oë,
en hulleself as verstandig beskou.
22 Wee hulle wat helde is
by die drink van wyn,
en wat bekwame manne is
by die meng van sterk drank,
23 wat goddeloses
regverdig verklaar
vir 'n omkoopgeskenk,
en regverdiges hulle reg ontneem.
24 Daarom, soos wanneer strooi
deur tonge van vuur verteer word,
en droë gras in vlamme wegsink,
so sal hulle wortel wees
soos iets wat verrot,
en hulle bloeisel sal as stof opstyg;
want hulle het die wet van die
Here, Heerser oor alle magte,
verwerp,
en die woord van die Heilige
van Israel het hulle geminag.
25 Daarom het die toorn van die
Here teen sy volk ontbrand.
Hy het sy hand teen hulle uitgestrek
en hulle geslaan.
Die berge het gebewe,
en hulle lyke was soos vullis
in die strate.
Ondanks dit alles het sy toorn
nie bedaar nie,
en bly sy hand steeds uitgestrek.
26 Hy hef 'n banier op vir 'n nasie
wat van ver af kom,
en fluit vir een aan die einde
van die aarde.
Kyk, hierdie nasie kom vinnig, haastig.
27 By hom is niemand uitgeput nie,
en niemand struikel nie.
Hy sluimer nie in en slaap nie;
die skorte om sy heupe
is nie losgemaak nie,
en sy sandaalriempies
nie losgeskeur nie.
28Sy pyle is skerpgemaak,
en al sy boë is gespan;
die hoewe van sy perde
is so hard soos vuurklip,
en sy strydwawiele kom aan
soos 'n stormwind.
29Sy brul is soos dié van 'n leeu.
Hy brul soos jong leeus,
hy grom en gryp prooi;
hy sleep weg,
en daar is niemand wat kan red nie.
30 Op daardie dag
sal hy oor sy prooi grom
soos 'n bulderende see.
Iemand sal na die land staar,
en kyk, daar is 'n beklemmende
donkerte;
die lig is verduister vanweë
die wolke oor die land.

Tans Gekies:

Jesaja 5: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid