In die seshonderdste jaar van Noag se lewe, in die tweede maand, op die sewentiende dag van die maand, op daardie dag, het al die fonteine van die groot •oerwater oopgebreek, en die vensters van die hemel is oopgemaak. Daar was stortreën op die aarde, veertig dae en veertig nagte lank. Op daardie selfde dag het Noag, Noag se seuns Sem, Gam en Jafet, en Noag se vrou en sy drie seuns se vroue saam met hulle, die ark binnegegaan, hulle en al die soorte wilde en al die soorte mak diere, al die soorte kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg, en al die soorte voëls – al die voëls, al die gevleueldes. Hulle het na Noag toe die ark binnegegaan, twee-twee van alle diere waarin die asem van lewe was. Dié wat ingegaan het, as manlik en vroulik uit alle diere het hulle ingegaan, soos God hom beveel het. Die HERE het die ingang agter hom gesluit.
Die vloed was veertig dae lank oor die aarde. Die water het meer geword, en dit het die ark opgelig, sodat dit hoog bo die grond was. Die water het die oorhand gekry en geweldig vermeerder oor die aarde. Die ark het op die oppervlakte van die water rondgedryf. Die water het heeltemal die oorhand gekry oor die aarde. Al die hoë berge onder die ganse hemel is bedek. Vyftien el bo hulle het die water gestyg, sodat die berge bedek was. Alle diere wat rondbeweeg op die aarde het omgekom – voëls, mak diere, wilde diere, al die diere wat op die aarde wemel, en ook al die mense. Alles wat lewensasem in hulle neuse gehad het, alles wat op droë grond was, het gesterf. Hy het alles wat bestaan, wat op die aardbodem was, uitgewis, mense sowel as diere, ook kruipende diere en die voëls van die hemel; hulle is op die aarde uitgewis. Net Noag en dié wat saam met hom in die ark was, het oorgebly. Die water het honderd-en-vyftig dae lank die oorhand oor die aarde gehad.