Genesis 22

22
Opdrag om Isak te offer
1 Ná verloop van tyd het God Abraham op die proef gestel. “Abraham!” het Hy vir hom gesê; en hy het geantwoord: “Hier is ek.” 2 Toe sê God: “Neem jou seun Isak, jou enigste, wat jy liefhet; gaan dan na die gebied van Moria, en offer hom daar as •brandoffer op een van die berge wat Ek vir jou sal wys.”
3 Abraham het vroeg die oggend sy donkie opgesaal, twee van sy dienaars met hom saamgeneem, en ook sy seun Isak. Hy het die hout vir 'n brandoffer gekloof, gereedgemaak en vertrek na die plek waaroor God met hom gepraat het. 4Op die derde dag het Abraham opgekyk en die plek in die verte gesien. 5Toe sê Abraham vir sy dienaars: “Bly julle hier met die donkie! Ek en die seun wil daarheen gaan. Ons wil aanbid en sal dan na julle terugkom.”
6 Abraham het die hout vir die brandoffer geneem en dit op sy seun Isak se skouer gesit; hy het die kole vuur en die mes gevat. So het hulle twee saam geloop. 7Isak sê toe vir Abraham, sy vader: “Pa!” En hy antwoord: “Ja, my seun?” Toe sê hy: “Hier is die kole vuur en die hout, maar waar is die lam vir die brandoffer?” 8 Abraham het geantwoord: “God sal vir Homself die lam vir 'n brandoffer voorsien, my seun.” So het hulle twee saam geloop.
9 Toe hulle aankom by die plek wat God vir hom gewys het, het Abraham daar 'n altaar gebou en die hout reggepak. Hy het sy seun, Isak, vasgebind en hom op die altaar neergelê, bo-op die hout. 10Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag. 11 Maar die •Engel van die Here het na hom uit die hemel geroep en gesê: “Abraham, Abraham!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” 12 “Moenie jou hand na die seun uitsteek nie,” het Hy gesê, “en moenie enigiets aan hom doen nie! Want nou weet Ek dat jy vir God ontsag het. Jy het nie jou seun, jou enigste, van My teruggehou nie.”
13Toe Abraham opkyk, sien hy: Daar is 'n enkele ram wat aan sy horings vasgevang is in 'n bos! Abraham gaan toe en neem die ram. Hy het hom as 'n brandoffer gebring in die plek van sy seun. 14Abraham het daardie plek genoem, Die Here voorsien, sodat vandag nog gesê word: “Op die berg van die Here sal voorsien word. ”
15Die Engel van die Here het daarna 'n tweede keer uit die hemel na Abraham geroep 16 en gesê: “By Myself sweer Ek,” is die uitspraak van die Here, “omdat jy dit gedoen het en nie jou seun, jou enigste, van My teruggehou het nie, 17 sal Ek jou ryklik seën, en jou nageslag so geweldig vermeerder soos die sterre aan die hemelruim en soos die sand wat langs die seestrand is. Jou nageslag sal die stadspoorte van hulle vyande in besit neem. 18 Al die nasies van die aarde sal wens om so geseënd te wees soos jou nageslag, omdat jy na my stem geluister het.”
19Abraham het toe teruggekeer na sy dienaars, en hulle het opgestaan en saam met hom na Berseba gegaan. Abraham het in Berseba bly woon.
Nahor se nakomelinge
20 Ná hierdie gebeure het Abraham berig ontvang: “Kyk, ook Milka het seuns in die wêreld gebring vir jou broer Nahor: 21Us, sy eersgeborene, Bus, sy broer, en Kemuel, die vader van Aram, 22ook Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel.” 23 Betuel het Rebekka verwek. Hierdie agt seuns het Milka vir Nahor, Abraham se broer, in die wêreld gebring. 24Sy byvrou, wie se naam Reüma was, ook sy het kinders in die wêreld gebring: Tebag, Gagam, Tagas en Maäga.

Tans Gekies:

Genesis 22: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid