Genesis 21

21
Isak en Ismael
1 Die Here het na Sara omgesien soos Hy gesê het, en die Here het aan haar gedoen soos Hy beloof het. 2 Sara het swanger geword en vir Abraham op sy oudag 'n seun in die wêreld gebring. Dit was op die bestemde tyd, soos God hom beloof het. 3 Abraham het die seun wat vir hom gebore is, wat Sara vir hom in die wêreld gebring het, Isak genoem. 4 Abraham het sy seun Isak besny toe hy agt dae oud was, soos God hom beveel het. 5 Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak vir hom in die wêreld gebring is. 6 Sara het gesê: “'n Lag het God vir my beskik. Elkeen wat dit hoor, sal my toelag.” 7Verder sê sy: “Wie sou vir Abraham kon aankondig, ‘Sara laat kinders aan haar drink’? Want ek het vir hom op sy ouderdom 'n seun in die wêreld gebring.”
8Die kind het gegroei en is gespeen. Abraham het op die dag toe Isak gespeen is, 'n groot feesmaal gehou. 9 Sara sien toe dat Hagar, die Egiptiese vrou, se seun, wat sy vir Abraham in die wêreld gebring het, spottend lag. 10 Sy het vir Abraham gesê: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun, saam met Isak, erf nie.” 11 Maar die saak was heeltemal verkeerd in Abraham se oë, omdat dit sy seun was. 12 God het egter vir Abraham gesê: “Laat die saak van die seun en jou slavin nie verkeerd wees in jou oë nie. Alles wat Sara vir jou sê – luister na haar! Want daar sal na jou nageslag met die naam van Isak verwys word. 13 Maar ook die seun van die slavin sal Ek tot 'n nasie maak, omdat hy jou nageslag is.”
14Abraham het die môre vroeg opgestaan. Hy neem toe brood en 'n sak water, en gee dit vir Hagar. Hy het dit op haar skouer gesit en ook die kind, en haar toe weggestuur. Sy het vertrek, en in die woestyn van Berseba rondgedwaal.
15Toe die water in die sak opraak, het sy die kind onder een van die struike neergesit. 16 Sy loop toe en gaan sit aan die ander kant, so ver weg as wat mens met 'n pyl kan skiet, want sy het gedink: “Ek wil nie die dood van die kind aanskou nie.” Terwyl sy so daar sit, het sy hardop begin huil. 17 God het die seun se gehuil gehoor. Toe roep die •Engel van God na Hagar uit die hemel en vra vir haar: “Wat is fout, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die gehuil van die seun, daar waar hy is, gehoor. 18Staan op, tel die seun op en hou hom styf vas, want tot 'n groot nasie wil Ek hom maak.” 19 God maak toe haar oë oop, en sy sien 'n put! Sy loop toe, maak die watersak vol en laat die seun drink.
20 God was met die seun, en hy het opgegroei. Hy het in die woestyn gewoon, en hy het 'n boogskutter geword. 21Hy het in die Paranwoestyn gewoon, en sy moeder het vir hom 'n vrou uit Egipteland geneem.
Verdrag by Berseba
22 In daardie tyd het Abimeleg en Pigol, die bevelvoerder van sy leër, vir Abraham gesê: “God is met jou in alles wat jy doen. 23 Daarom, sweer hier vir my by God dat jy my, my kinders en my nageslag nie sal bedrieg nie. In ooreenstemming met die trou wat ek aan jou bewys het, moet jy ook aan my en aan die land waarin jy as •vreemdeling woon, trou bewys.” 24Abraham het gesê: “Ek sweer.” 25 Maar Abraham het Abimeleg tereggewys oor 'n put waarop Abimeleg se dienaars beslag gelê het. 26Abimeleg het geantwoord: “Ek weet nie wie so iets sou doen nie. Jy het my nie daaroor ingelig nie, en ook het ek nie daarvan gehoor nie, tot vandag toe nie.”
27 Abraham het toe kleinvee en beeste geneem en dit vir Abimeleg gegee, en hulle twee het 'n verdrag gesluit. 28Abraham het egter sewe ooilammers uit die kleinvee eenkant gehou. 29Abimeleg vra toe vir Abraham: “Wat beteken hierdie sewe ooilammers wat jy eenkant hou?” 30Hy het geantwoord: “Ek doen dit omdat jy sewe ooilammers uit my hand moet aanvaar, sodat dit vir my as getuienis kan dien dat ek hierdie put gegrawe het.”
31 Daarom word daardie plek Berseba genoem, want daar het hulle twee 'n eed afgelê. 32Nadat hulle by Berseba 'n verdrag gesluit het, het Abimeleg en Pigol, die bevelvoerder van sy leër, gereedgemaak en teruggekeer na die land van die Filistyne. 33Abraham het 'n tamarisk in Berseba geplant en daar die Naam van die Here, die Ewige God, aangeroep. 34Abraham het 'n lang tyd as vreemdeling in die land van die Filistyne gewoon.

Tans Gekies:

Genesis 21: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid