Genesis 23

23
Abraham se familiegraf
1Sara het honderd sewe-en-twintig jaar lank geleef – dit was die lewensjare van Sara. 2 Sara het gesterf in die land Kanaän by Kirjat-Arba, dit is Hebron. Abraham het by die tent ingegaan om oor Sara te rou en oor haar te huil.
3Toe het Abraham opgestaan van die plek by sy oorlede vrou. Hy het met die Hetiete gaan onderhandel en gesê: 4 “Ek is 'n •vreemdeling en bywoner by julle; gee vir my 'n begraafplek as eiendom by julle, sodat ek my oorlede vrou kan begrawe en haar kan weglê. ”
5Die Hetiete het Abraham geantwoord deur vir hom te sê: 6“Luister na ons, meneer! U is 'n magtige leier in ons midde. Begrawe u oorlede vrou in die keur van ons grafte. Niemand onder ons sal u sy graf weier, om daar u oorlede vrou te begrawe nie.”
7Abraham het opgestaan, diep gebuig voor die mense van die land, die Hetiete, 8met hulle onderhandel en gesê: “As u daartoe instem dat ek my oorlede vrou begrawe en haar weglê, luister dan na my en doen vir my voorspraak by Efron, seun van Sogar, 9sodat hy die grot van Magpela wat aan hom behoort, en wat aan die rand van sy grond lê, vir my sal gee. Teen die volle koopprys moet hy dit vir my gee, sodat ek tussen u 'n begraafplek as eiendom kan besit.”
10Efron het daar tussen die Hetiete gesit. Efron, die Hetiet, het Abraham toe ten aanhore van die Hetiete, naamlik almal wat deur die dorpspoort ingaan, geantwoord: 11“Nee, meneer, luister na my! Die stuk grond gee ek vir u; en die grot wat daarop is – vir u gee ek dit. Voor die oë van my volksgenote gee ek dit vir u. Begrawe u oorlede vrou.” 12 Abraham het toe weer diep gebuig voor die mense van die land, 13en ten aanhore van die mense van die land met Efron gepraat: “As u maar net asseblief na my sal luister! Ek betaal vir die grond. Aanvaar dit van my, sodat ek my oorlede vrou daar kan begrawe.” 14Efron het Abraham toe geantwoord deur vir hom te sê: 15“Meneer, luister na my! 'n Stuk grond van vierhonderd sikkel silwer, wat is dit nou tussen my en u? Begrawe u oorlede vrou!”
16Abraham het na Efron geluister. Abraham het vir Efron die silwer afgeweeg wat hy ten aanhore van die Hetiete genoem het: vierhonderd sikkel silwer, wat aanvaarbaar is by handelaars. 17So het die stuk grond van Efron wat in Magpela, oos van Mamre, is – die grond en die grot wat daarop is, en al die bome wat op die grond is, binne die hele grens reg rondom – oorgegaan 18na Abraham as gekoopte eiendom, ten aanskoue van die Hetiete, almal wat by die dorpspoort ingaan.
19Daarna het Abraham sy vrou Sara begrawe in die grot op die grond in Magpela, oos van Mamre – dit is Hebron – in die land Kanaän. 20 Die grond en die grot daarop is aan Abraham oorgedra – 'n begraafplek as eiendom vanaf die Hetiete.

Tans Gekies:

Genesis 23: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid