Genesis 20

20
Abraham en Sara in Gerar
1 Abraham het daarvandaan na die gebied van die Negev getrek en tussen Kades en Sur gaan woon. Terwyl hy as •vreemdeling in Gerar gewoon het, 2 het Abraham oor Sara, sy vrou, gesê: “Sy is my suster.” Abimeleg, die koning van Gerar, het Sara laat haal. 3 Maar God het in 'n nagtelike droom na Abimeleg gekom en vir hom gesê: “Kyk, jy gaan sterf oor die vrou wat jy geneem het, want sy behoort aan 'n man.” 4Abimeleg het egter nog nie naby haar gekom nie, en vra toe: “My Heer, sal U dan selfs 'n regverdige nasie ombring? 5 Het hy self dan nie vir my gesê, ‘Sy is my suster’ nie? En sy, ook sy het gesê, ‘Hy is my broer.’ Met 'n eerlike hart en met rein hande het ek hierdie ding gedoen.” 6God het vir hom in sy droom gesê: “Ook Ek weet dat jy hierdie ding met 'n eerlike hart gedoen het. En Ek het jou dan ook daarvan weerhou om teen My te sondig. Daarom het Ek jou nie toegelaat om aan haar te raak nie. 7 Gee nou die man se vrou terug. Hy is immers 'n profeet, en hy sal vir jou bid, sodat jy kan bly leef. Maar as jy haar nie teruggee nie – weet dan dat jy beslis sal sterf, jy en almal wat aan jou behoort.”
8Abimeleg het vroeg die oggend opgestaan en al sy dienaars ontbied. Voor hulle ore het hy die hele gebeure oorvertel. Die manne het baie bang geword. 9 Toe ontbied Abimeleg vir Abraham en vra vir hom: “Wat het jy ons aangedoen? Wat het ek teen jou verkeerd gedoen dat jy oor my en my koninkryk so 'n groot skuld gebring het? Dinge wat nie moes gebeur nie, het jy my aangedoen.” 10Abimeleg het verder vir Abraham gevra: “Wat het jy voor oë gehad toe jy hierdie ding gedoen het?” 11 Abraham het geantwoord: “Dit is omdat ek gedink het daar is beslis geen ontsag vir God op hierdie plek nie, en dat hulle my sal doodmaak oor my vrou. 12 Bowendien, sy is inderdaad my suster, sy is die dogter van my vader, net nie die dogter van my moeder nie; en sy het my vrou geword. 13 En toe God my laat rondswerf het, weg van my familie, het ek vir haar gesê, ‘Dit is jou trou wat jy aan my moet bewys; op elke plek waar ons kom, moet jy van my sê: “Hy is my broer.” ’ ”
14 Abimeleg het kleinvee, beeste, slawe en slavinne geneem en dit vir Abraham gegee; en hy het Sara, sy vrou, aan hom terugbesorg. 15 Abimeleg het gesê: “Kyk, my land lê oop voor jou. Woon waar ook al dit goed is in jou oë.” 16Vir Sara het hy gesê: “Kyk, ek gee vir jou broer duisend silwerstukke. Kyk, dit is 'n teken van jou eerbaarheid vir almal wat by jou is. By almal is jy geregverdig.”
17 Abraham het toe tot God gebid, en God het Abimeleg genees, ook sy vrou en sy slavinne, en hulle kon weer kinders kry; 18 want die Here het elke moederskoot in Abimeleg se huis volkome gesluit oor Sara, Abraham se vrou.

Tans Gekies:

Genesis 20: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid