Eksodus 12:31-40

Eksodus 12:31-40 AFR20

Hy het Moses en Aäron in die nag ontbied en gesê: “Maak gereed, trek weg onder my volk uit, julle en ook die Israeliete. Gaan dien die HERE soos julle gesê het. Neem julle kleinvee en ook julle grootvee, soos julle gesê het, en gaan! Maar seën my ook!” Die Egiptenare het by die volk daarop aangedring om gou te maak, sodat hulle hulle uit die land kon wegstuur; “want”, het hulle gesê, “almal van ons gaan sterf.” Toe sit die volk die deeg, voor dit nog ingesuur is, op hulle skouers – hulle knieskottels was in hulle kledingstukke toegedraai. Die Israeliete het gemaak soos Moses gesê het, en hulle het van die Egiptenare silwer- en goue voorwerpe en klere geëis. Dit was die HERE wat gesorg het dat die Egiptenare die volk goedgesind is, en die Egiptenare het aan hulle eise toegegee. So het hulle buit geneem van die Egiptenare. Die Israeliete het van Ramses af weggetrek op pad na Sukkot, ongeveer seshonderdduisend man te voet, afgesien van die afhanklikes. Ook 'n groot groep mense van ander afkoms het saam met hulle opgetrek; en ook nog kleinvee en beeste, baie groot troppe vee. Die Israeliete het van die deeg wat hulle uit Egipte saamgeneem het, ongesuurde roosterkoeke gebak, want die deeg was nie ingesuur nie. Omdat hulle uit Egipte weggejaag is, kon hulle nie talm nie, en selfs nie vir hulle padkos voorberei nie. Die tyd wat die Israeliete in Egipte gebly het, was vierhonderd-en-dertig jaar.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid