EKSODUS 12:31-40

EKSODUS 12:31-40 Bybel vir almal (ABA)

Die farao het daardie nag vir Moses en Aäron geroep en vir hulle gesê: “Julle moet van my mense weggaan, julle en die ander Israeliete. Gaan dien die Here, soos julle gevra het. Neem ook julle skape en bokke en julle beeste, soos julle gevra het. Gaan weg. Dan sal dit met my ook goed gaan.” Die Egiptenaars het vir die Israeliete gesê hulle moet gou weggaan uit die land. Hulle het gesê: “Ons sal almal sterf as julle nie weggaan nie.” Die Israeliete het hulle brood-deeg saamgeneem. Daar was nog nie suurdeeg in die deeg nie. Hulle het hulle skottels toegedraai met hulle klere en hulle het dit op hulle skouers gedra. Die Israeliete het gedoen wat Moses gesê het. Hulle het silwergoed en goue goed en klere vir die Egiptenaars gevra. Die Here het die Egiptenaars vriendelik gemaak met die Israeliete. Die Egiptenaars het alles gegee wat die Israeliete gevra het. So het die Israeliete die Egiptenaars se goed weggedra. Die Israeliete het van die stad Rameses na die stad Sukkot gegaan. Daar was 600 000 mans. Hulle het nie die vroue en kinders ook getel nie. Baie ander mense wat nie Israeliete was nie, het ook saam met hulle getrek. Die Israeliete het baie skape en bokke en beeste saamgeneem. Hulle het ongesuurde brood gebak van die deeg wat hulle saamgebring het uit Egipte. Daar was nie suurdeeg in die brood nie, want die Egiptenaars het hulle uit Egipte weggejaag en daar was nie tyd om padkos te maak nie. Die Israeliete het 430 jaar lank in Egipte gewoon.

EKSODUS 12:31-40 Die Boodskap (DB)

Terwyl dit nog nag was, het die farao Moses en Aäron laat kom. Hy het by hulle gepleit: “Loop asseblief weg uit my land uit! Gee tog pad van my volk af, julle en al wat ’n Israeliet is! Loop aanbid die Here soos julle aangehou het om te vra. Vat al julle kleinvee en al julle beeste saam waarop julle so aangedring het om saam met julle te vat. Gaan tog net weg. Moenie my verder iets toewens wat sleg is nie.” Ook al die Egiptenaars het by die volk gepleit dat hulle tog so gou moontlik moet weggaan. “Anders,” het hulle gesê, “sal ons nog almal doodgaan.” Die volk het die deeg wat hulle vir die brood geknie het, net so sonder suurdeeg in broodpanne gesit. Hulle het dit in klere toegedraai en op hulle skouers gesit om dit weg te vat. Die Israeliete het gemaak soos Moses vir hulle gesê het. Hulle het die Egiptenaars gedwing om vir hulle silwer en goue juweliersware en klere te gee. Die Here het gemaak dat die Egiptenaars gewillig was om dit vir hulle te gee. Hulle het nie omgegee om vir die Israeliete alles te gee wat die volk van hulle gevra het nie. Die Israeliete het die Egiptenaars behoorlik kaal uitgetrek. Die Israeliete het te voet van Rameses af begin loop in die rigting van Sukkot. As hulle afhanklikes nie bygereken word nie, was daar altesaam 600 000 mans. Daar het ook ’n hele klomp mense saam met hulle getrek wat nie Israeliete was nie. Daar was ook ’n groot klomp kleinvee en beeste. Hulle het brood gebak met die deeg wat hulle uit Egipte saamgebring het. Daar was nie suurdeeg in nie. Hulle moes so vinnig uit Egipte padgee dat daar nie nog tyd was om eers padkos te maak nie. Die tyd wat Israel in Egipte gebly het, was altesaam 430 jaar.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid