Eksodus 11

11
Waarskuwing aan die farao
1 Die Here het vir Moses gesê: “Nog een plaag gaan Ek oor die farao en oor Egipte bring. Daarna sal hy julle van hier af laat gaan. Wanneer hy julle laat gaan, sal hy julle beslis met alles wat julle het, van hier af wegjaag. 2Stel dit duidelik aan die volk dat elke man van sy buurman en elke vrou van haar buurvrou silwer- en goue voorwerpe eis.” 3Die Here het gesorg dat die Egiptenare die volk goedgesind is. Ook Moses was 'n man wat hoë aansien geniet het in Egipteland, in die oë van die farao se amptenare en in die oë van die volk.
4 Moses het gesê: “So sê die Here, ‘Teen middernag gaan Ek dwarsdeur Egipte trek. 5 Dan sal al die eersgeborenes in Egipteland sterf, van die eersgeborene van die farao wat op sy troon sit, tot die eersgeborene van die slavin agter die maalklippe, ook al die eersgeborenes van die vee. 6 Deur die hele Egipteland sal daar 'n harde geskreeu opklink, soos daar nog nooit was nie, en soos daar nooit weer sal wees nie. 7Maar by al die Israeliete sal nie eers 'n hond grom nie, vir geen mens of dier nie, sodat julle kan besef dat die Here onderskeid tref tussen Egipte en Israel. 8Dan sal al hierdie amptenare van u na my afkom en diep voor my buig en sê: “Trek weg, jy en die hele volk wat jou volg.” Eers daarna sal ek wegtrek.’ ” Toe het hy van die farao af weggegaan, briesend kwaad.
9 Die Here het vir Moses gesê: “Die farao sal nie na julle luister nie, sodat my tekens in Egipteland nog meer kan word.”
10Moses en Aäron het al hierdie tekens voor die farao gedoen, maar die Here het die farao se hart verhard, sodat hy nie die Israeliete uit sy land wou laat gaan nie.

Tans Gekies:

Eksodus 11: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid