Deuteronomium 24

24
Egskeiding en hertrou
1“ As iemand 'n vrou neem en haar man word, en dit dan gebeur dat sy nie meer vir hom aanvaarbaar is nie, omdat hy iets onbehoorliks by haar ontdek het, moet hy vir haar 'n skeibrief skryf, dit in haar hand gee en haar uit sy huis wegstuur. 2As sy dan sy huis verlaat en met 'n ander man gaan trou, 3en hierdie ander man kry 'n weersin in haar, skryf vir haar 'n skeibrief, gee dit in haar hand en stuur haar weg uit sy huis, of as hierdie ander man wat haar vir hom as vrou geneem het, sterf, 4dan het haar eerste man wat haar weggestuur het, nie die reg om haar weer as sy vrou te neem nadat sy verontreinig is nie. Want dit is iets afstootliks vir die Here, en jy mag nie die land wat die Here jou God vir jou as erfdeel gaan gee, in sonde laat verval nie.
5 “As 'n man pas getroud is, hoef hy nie saam met die leër uit te trek of enige verpligting op hom te neem nie. Hy moet vry wees vir sy huis vir 'n volle jaar en die vrou met wie hy getroud is, gelukkig maak.”
Optrede teenoor die naaste
6“ Niemand mag twee maalklippe, of net die boonste maalklip, as pand neem nie, want dit is die lewe self wat hy as pand neem.
7“ As 'n man betrap word dat hy een van sy volksgenote uit die Israeliete ontvoer, hom as sy eiendom beskou en die persoon verkoop, moet daardie ontvoerder sterf. Jy moet die kwaad by jou uitroei.
8“ Wees uiters versigtig in die geval van 'n uitbraak van huidsiekte om op te tree net soos die Levitiese priesters julle sal leer. Wat ek hulle beveel het, moet julle nougeset nakom. 9Onthou wat die Here jou God aan Mirjam gedoen het toe julle op pad was met julle uittog uit Egipte.
10“ As jy aan jou naaste volgens ooreenkoms enigiets leen, mag jy nie in sy huis ingaan om die oorkleed wat hy as pand gee, te neem nie. 11Jy moet buite bly staan, en die man aan wie jy geleen het, moet die pand buitentoe na jou bring. 12As die man arm is, mag jy nie met sy pand gaan slaap nie. 13Jy moet die pand beslis aan hom teruggee teen sononder, sodat hy in sy oorkleed kan slaap. Hy sal jou prys, en dit sal vir jou by die Here jou God geld as 'n regverdige daad.
14“ Jy mag nie 'n dagloner wat magteloos en behoeftig is, uitbuit nie – nie een van jou volksgenote of 'n •vreemdeling wat in jou dorpe in die land is nie. 15Jy moet sy loon nog dieselfde dag betaal, voor die son oor hom ondergaan, want hy is arm en hy sug daarna. Anders beroep hy hom op die Here teen jou en staan jy skuldig.
16“ Ouers mag nie doodgemaak word oor kinders nie, en kinders mag nie doodgemaak word oor ouers nie. Elkeen moet vir sy eie sonde sterf.
17“ Jy mag nie die reg van vreemdelinge en vaderloses verdraai nie, en jy mag nie die bokleed van 'n weduwee as pand neem nie. 18Onthou dat jy 'n slaaf was in Egipte, en dat die Here jou God jou daaruit vrygekoop het. Dit is waarom ek jou beveel om so op te tree.
19 “Wanneer jy jou oes op die land insamel en jy vergeet 'n gerf op die land, mag jy nie teruggaan om dit te kry nie. Dit moet vir die vreemdelinge, vaderloses en weduwees agterbly, sodat die Here jou God al jou handewerk kan seën. 20Wanneer jy jou olywe afslaan, mag jy nie die takke deursoek waar jy klaar is nie. Dit moet vir die vreemdelinge, vaderloses en weduwees agterbly. 21As jy jou wingerd oes, mag jy nie die naoes agter jou afoes nie. Dit moet vir die vreemdelinge, vaderloses en weduwees agterbly. 22Onthou dat jy 'n slaaf was in Egipteland. Daarom beveel ek jou om so op te tree.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid