Deuteronomium 23

23
1“ 'n Man wie se testikels stukkend gedruk of wie se geslagsorgaan afgesny is, mag nie in die byeenkoms van die Here kom nie.
2“'n Israeliet gebore uit 'n verbode verbintenis mag nie in die geloofsgemeenskap van die Here kom nie, selfs die tiende geslag ná hom mag nie in die geloofsgemeenskap van die Here kom nie. 3'n Ammoniet en Moabiet mag nie in die geloofsgemeenskap van die Here kom nie. Selfs tot die tiende geslag ná hulle mag nooit in die geloofsgemeenskap van die Here kom nie, 4 want hulle het julle, toe julle op pad was met julle uittog uit Egipte, nie met brood en water te hulp gekom nie, en ook omdat hulle Bileam, die seun van Beor, uit Petor in Aram-Naharajim gehuur het om jou te vervloek. 5Maar die Here jou God was nie bereid om na Bileam te luister nie, en die Here jou God het die vloek vir jou in 'n seën verander, omdat die Here jou God jou liefhet. 6Solank as wat jy leef, mag jy nooit hulle voorspoed en welsyn bevorder nie.
7“Jy mag nie 'n afkeer hê van 'n Edomiet nie, want hy is jou broer. Jy mag nie 'n afkeer hê van 'n Egiptenaar nie, want jy was 'n •vreemdeling in sy land. 8Die derde geslag wat van hulle afstam, mag in die geloofsgemeenskap van die Here kom.
9“Wanneer jy met 'n leër uittrek teen jou vyande, moet jy jou weerhou van enigiets onbehoorliks. 10 As daar by jou 'n man is wat nie rein is nie oor iets wat in die nag gebeur het, moet hy uit die kamp uitgaan. Hy mag nie binne-in die kamp wees nie. 11Wanneer dit aand word, moet hy hom met water afspoel en as die son onder is, mag hy in die kamp ingaan.
12“Jy moet 'n plek buite die kamp hê sodat jy daarheen kan uitgaan. 13Daar moet 'n tentpen by jou toerusting wees. Wanneer jy buite op jou hurke wil gaan sit, moet jy daarmee 'n gat grawe en jou ontlasting weer bedek. 14 Die Here jou God is immers saam met jou daar in jou kamp om jou uit te red en jou vyande aan jou oor te gee. Jou kamp moet daarom heilig wees, sodat Hy nie iets onbehoorliks by jou sien en jou die rug toekeer nie.
15“Jy mag nie 'n slaaf wat van sy eienaar af na jou vlug vir sy lewe, aan sy eienaar oorhandig nie. 16By jou mag hy bly, by jou op 'n plek wat hy verkies, in een van jou dorpe wat hom pas. Jy mag hom nie mishandel nie.
17“ Daar mag nie tempelprostitute onder die vroue van Israel wees nie en daar mag ook nie manlike tempelprostitute in Israel wees nie. 18Die verdienste van 'n prostituut en die loon van 'n hond mag nie in die huis van die Here jou God kom om enige gelofte na te kom nie, want albei is vir die Here jou God afstootlik.
19“ Jy mag nie van jou volksgenote rente eis nie, nie vir geld of kos of enigiets anders waarvoor mens rente kan vra nie. 20Van vreemdes mag jy rente eis, maar van jou volksgenote mag jy dit nie eis nie, sodat die Here jou God jou kan seën in alles waaraan jy jou hand waag in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.
21“ Wanneer jy vir die Here jou God 'n gelofte aflê, moet jy nie uitstel om dit na te kom nie, want die Here jou God sal dit sonder twyfel van jou eis, en dan staan jy skuldig. 22As jy jou daarvan weerhou om 'n gelofte af te lê, sal jy nie skuldig staan nie. 23Maar wat oor jou lippe kom, moet jy nakom; jy moet doen soos jy aan die Here jou God beloof het. Dit was uit vrye wil dat jy die gelofte met jou eie mond uitgespreek het.
24 “As jy in jou naaste se wingerd kom, mag jy soveel druiwe eet as wat jy wil, totdat jy versadig is; maar jy mag nie daarvan in jou houer sit nie.
25“As jy in die staande graan van jou naaste kom, mag jy halfryp are met die hand pluk; maar 'n sekel mag jy nie in die staande graan van jou naaste swaai nie.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid