Deuteronomium 25

25
Strawwe
1“ As daar tussen manne 'n geskil is en hulle kom voor die regbank, en die regters vel die vonnis deur die regverdige gelyk te gee en die skuldige te veroordeel, 2dan moet die regter, as die skuldige tot lyfstraf gevonnis is, hom laat lê en daar voor hom die getal houe laat toedien wat sy oortreding verdien. 3Veertig houe mag hy hom laat toedien, nie meer as dit nie. Anders laat hy hom dalk baie meer houe as hierdie getal toedien, en word jou volksgenoot voor jou oë verkleineer.
4 “Jy mag 'n bees nie muilband wanneer hy graan trap nie.”
Plig as swaer en ander bepalings
5“ As broers by mekaar woon en een van hulle sterf sonder dat hy 'n seun nalaat, dan mag die vrou van die oorledene nie buite die familie aan 'n vreemde man behoort nie. Haar swaer moet by haar ingaan, haar as sy vrou neem en sy plig as swaer nakom. 6Die eersgebore seun wat sy in die wêreld bring, moet die naam van sy oorlede broer in stand hou, sodat sy naam nie uit Israel verdwyn nie. 7Maar as die man nie kans sien om sy skoonsuster as vrou te neem nie, moet sy na die oudstes in die poort gaan en vir hulle sê, ‘My swaer weier om vir sy broer 'n naam te laat voortleef in Israel. Hy wil nie sy plig as swaer met my nakom nie’, 8dan moet die oudstes van die dorp hom laat roep en hom aanspreek. As hy egter vasstaan en sê, ‘Ek sien nie kans om haar as vrou te neem nie’, 9dan moet sy skoonsuster, ten aanskoue van die oudstes, na hom gaan, sy sandaal van sy voet aftrek, in sy gesig spuug en getuig en sê, ‘So word gemaak met die man wat nie sy broer se huis wil opbou nie.’ 10In Israel kry hy dan die naam Huis van die Uitgetrekte Sandaal.
11“As manne met mekaar veg en die een se vrou kom nader om haar man te red van die een wat hom slaan, en sy steek haar hand uit en gryp daardie man aan sy geslagsdele, 12dan moet jy haar hand afkap. Jy mag haar nie jammer kry nie.
13 “Jy mag nie in jou sak verskillende gewigte, swares en ligtes, hê nie. 14Jy mag ook nie in jou huis verskillende efas, 'n groter en 'n kleiner een, hê nie. 15Die gewigte wat jy gebruik, moet eg en reg wees; die efa wat jy gebruik, moet ook eg en reg wees, sodat jy lank kan leef op die grond wat die Here jou God vir jou gaan gee. 16Ja, elkeen wat oneerlik optree, wat sulke dinge doen, is vir die Here jou God afstootlik.”
Uitdelging van die Amalekiete
17 “Onthou wat die Amalekiete aan jou gedoen het toe julle op pad was met julle uittog uit Egipte, 18dat hulle jou op die pad oorval het, en almal wat agter jou uitgesak het, neergevel het; en dit terwyl jy moeg en uitgeput was. Hulle het God nie gevrees nie. 19Wanneer die Here jou God dan vir jou rus gee van al jou vyande rondom jou in die land wat die Here jou God vir jou gaan gee om as erfdeel in besit te neem, moet jy die naam Amalek onder die hemel uitwis. Jy mag dit nie vergeet nie.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid