Daniël 12

12
1“ ‘ En in dié tyd sal Migael opstaan,
die groot vors, wat die mense
van jou volk bystaan.
Dit sal 'n tyd van verdrukking wees,
soos daar nog nie was
sedert 'n nasie ontstaan het,
en tot in hierdie tyd nie.
Maar in hierdie tyd
sal jou volk gered word,
elkeen wie se naam
gevind word waar dit
in die •boekrol opgeskryf is.
2 Baie van hulle wat slaap
in die stof van die aarde,
sal wakker word –
sommige vir die ewige lewe,
en ander tot skande, tot ewige afsku.
3 Die verstandiges sal skyn
soos die glans van die hemelkoepel,
en hulle wat baie gelei het
tot regverdige optrede,
sal skyn soos die sterre –
vir altyd en altyd.
4 “ ‘En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boekrol tot die tyd van die einde. Baie sal rondswerf, sodat die kennis kan vermeerder.’ ”
5 Ek, Daniël, het gesien: Kyk, daar staan twee ander, een aan hierdie kant op die wal van die stroom, en een aan daardie kant op die wal van die stroom. 6Die een sê toe vir die man geklee in linne wat aan die bokant van die stroom water was: “Hoe lank nog voor die einde van die verstommende gebeure aanbreek?” 7 Ek hoor toe die man geklee in linne wat aan die bokant van die stroom water was, sê, terwyl hy sy regter- en sy linkerhand ophef na die hemele en sweer by die Ewig Lewende: “Dit is vir 'n vasgestelde tyd, tye en 'n halwe tyd. Sodra die verbryseling van die mag van die heilige volk tot 'n einde kom, sal al hierdie dinge ophou.”
8Ek het dit self gehoor, maar nie verstaan nie. Toe vra ek: “My heer, wat is die uiteinde hiervan?” 9 Daarop het hy geantwoord: “Gaan, Daniël! Want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde. 10 Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar goddeloses sal goddeloos optree. Geeneen van die goddeloses sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan. 11 Vanaf die tyd dat die gereelde offer afgeskaf word, en vanaf die oprigting van 'n verfoeilike afgodsbeeld wat verwoesting veroorsaak, sal 'n duisend tweehonderd-en-negentig dae verloop. 12 Gelukkig is hy wat geduldig wag en duisend driehonderd vyf-en-dertig dae bereik. 13 En jy, gaan voort tot die einde! Jy sal rus en daarna opstaan vir jou bestemming aan die einde van die dae.”

Tans Gekies:

Daniël 12: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid