Hosea 1

1
Opskrif
1 Dit is die woord van die Here aan Hosea, seun van Beëri. Dit was in die tyd van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda, en in die tyd van Jerobeam, seun van Joas, koning van Israel.
Hosea se huwelik en kinders
2 Die begin van wat die Here deur Hosea gesê het.
Die Here het vir Hosea gesê:
“Gaan neem vir jou as vrou
'n prostituut wat hoerkinders het,
want die land hou aan hoereer,
weg van die Here af.”
3Hy het gegaan en Gomer, dogter van Diblajim, as vrou geneem. Sy het swanger geword en vir hom 'n seun in die wêreld gebring. 4 Die Here sê toe vir hom:
“Noem hom Jisreël,
want nog 'n klein rukkie,
dan roep Ek die huis van Jehu
tot verantwoording
oor die bloedbad by Jisreël.
Ek gaan 'n einde maak
aan die koninkryk
van die huis van Israel.
5Op daardie dag sal Ek
die boog van Israel breek
op die vlakte van Jisreël.”
6 Sy het weer swanger geword en geboorte gegee aan 'n dogter. Die Here sê toe vir hom:
“Noem haar Lo-Rugama,
want Ek gaan My nie langer
ontferm oor die huis van Israel nie,
ja, Ek sal hulle geensins vergewe nie.
7 Maar oor die huis van Juda
sal Ek my ontferm.
Ek sal hulle verlos
deur die Here hulle God;
Ek sal hulle nie deur boog
en swaard en oorlogstuig,
deur perde en ruiters verlos nie.”
8Toe sy Lo-Rugama gespeen het, het sy swanger geword en geboorte gegee aan 'n seun. 9Die Here sê toe:
“Noem hom Lo-Ammi,
want julle is nie my volk nie,
en Ek is nie ‘Ek Is’
vir julle nie.”
10 “Maar die kinders van Israel
sal so veel wees soos die sand
van die see wat nie afgemeet
en getel kan word nie.
Op die plek waar vir hulle gesê is,
‘Julle is Lo-Ammi,’
sal vir hulle gesê word,
‘Kinders van die lewende God.’
11 Die kinders van Juda
en die kinders van Israel sal saamkom,
en vir hulle een hoof aanstel.
Hulle sal uit die grond opskiet,
want groot is die dag van Jisreël.
12 Sê vir julle broers, ‘Ammi, ’
en vir julle susters: ‘Rugama. ’ ”

Tans Gekies:

Hosea 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid