Daniël 11

11
1“ ‘ Wat my betref, in die eerste regeringsjaar van Darius, die Meder, het ek vasgestaan as 'n ondersteuner, as 'n vesting vir hom. 2 En nou deel ek jou die waarheid mee: Kyk, nog drie konings gaan opstaan vir Persië. Die vierde sal groter rykdom byeenbring as al die ander. En wanneer hy deur sy rykdom sterk word, sal hy almal aanhits teen die koninkryk van Jawan. 3 Dan sal 'n heldhaftige koning opstaan. Hy sal met baie mag heers en doen wat hy wil. 4Maar hy sal pas 'n staanplek hê, dan sal sy koninkryk opgebreek en verdeel word in die vier windstreke van die hemel. Dit sal nie aan sy nakomelinge behoort nie, en dit sal nie wees soos die magsgebied waaroor hy geheers het nie, want sy koninkryk sal opgebreek word en, met uitsluiting van sy nageslag, aan ander behoort.
5“ ‘Die koning van die Suide sal sterk word, maar een van sy •aanvoerders sal die oorhand oor hom kry en dan heers. Sy heerskappy sal 'n heerskappy met baie mag wees. 6 Ná verloop van jare sal hulle 'n bondgenootskap sluit, en die koning van die Suide se dogter sal na die koning van die Noorde kom om die ooreenkoms te bekragtig. Maar sy sal nie die militêre mag behou nie. Die koning van die Suide se mag sal ook nie standhou nie. Sy sal in dié tyd oorgelewer word – sy en haar gevolg, sowel as hy wat haar verwek het, en hy wat haar ondersteun het. 7Dan sal een van die spruite uit haar wortels in sy plek opstaan. Hy sal teen die leër optrek en die vesting van die koning van die Noorde binnedring; hy sal teen hulle optree en hulle oorweldig. 8Ook hulle gode met hulle gegote beelde en hulle kosbare voorwerpe – silwer en goud – sal hy wegvoer na Egipte; en jare lank sal hy die koning van die Noorde met rus laat. 9Dié sal dan die koninkryk van die koning van die Suide binneval, maar hy sal na sy land terugkeer.
10“ ‘Sy seuns sal vir oorlog gereedmaak en 'n menigte groot leërs byeenbring. Dié menigte sal die land binneval; hulle sal binneval, instroom en oorstroom, dan terugval, en daarna deurdring tot by sy vesting. 11Die koning van die Suide sal briesend kwaad wees. Hy sal uittrek en teen hom, die koning van die Noorde, veg. Dié sal weer 'n groot menigte op die been bring, maar die menigte sal in sy teenstander se hand oorgegee word. 12Wanneer die menigte uit die weg geruim is, sal die koning van die Suide verwaand raak en tienduisende neerwerp, maar nie sterk bly nie.
13“ ‘Dan sal die koning van die Noorde terugkeer en 'n menigte op die been bring, meer as die eerste keer. Ná verloop van tyd, ná jare, sal hy beslis kom met 'n groot leër en met baie toerusting. 14In daardie tydperke sal baie in opstand kom teen die koning van die Suide. Die gewelddadiges van jou volk sal hulle laat geld om 'n visioen te verwerklik, maar hulle sal tot 'n val kom. 15Die koning van die Noorde sal kom, 'n beleëringswal ophoop en 'n versterkte stad inneem. Die magte van die Suide sal nie standhou nie, ook nie die keurtroepe nie, en daar sal geen krag meer wees om weerstand te bied nie. 16Hy wat teen die Suide optrek, sal doen net wat hy wil, en niemand sal voor hom standhou nie. Hy sal hom vestig in die land van die Sieraad en volslae vernietiging sal in sy hand wees. 17Hy sal hom voorberei om met die volle mag van sy koninkryk te kom, maar sal tog 'n ooreenkoms aangaan en 'n dogter van een van sy vroue aan die koning van die Suide gee om die koninkryk te vernietig. Maar dit sal nie slaag nie, en dit sal nie tot sy voordeel strek nie. 18Dan sal hy sy aandag vestig op die eilande en baie daarvan inneem, maar 'n •aanvoerder sal sy onbeskaamdheid vir hom tot 'n einde bring; sy onbeskaamdheid sal hy hom vergeld. 19Daarna sal die koning van die Noorde draai teen die vestings in sy eie land, maar hy sal tot 'n val kom. Hy sal val en nie meer gevind word nie.
20“ ‘ In sy plek sal iemand opstaan wat 'n belastinggaarder rondstuur om die koninklike weelde in stand te hou; maar binne enkele dae sal hy verpletter word, egter nie deur toorn of deur oorlog nie.
21“ ‘ Dan sal 'n veragtelike persoon in sy plek opstaan aan wie die mense geen koninklike waardigheid toegeken het nie. Hy sal onverhoeds kom en op 'n slinkse wyse die koningskap oorneem. 22Die instromende magte sal voor hom weggespoel en verpletter word, selfs die leier van die verbond. 23Nadat 'n bondgenootskap met hom aangegaan is, sal hy bedrog pleeg; so sal hy met min mense opgang maak en sterk word. 24Hy sal onverwags in die ryk dele van 'n provinsie ingaan en doen wat sy vaders en grootvaders nie gedoen het nie: Buit, geroofde goed en besittings sal hy vir hulle uitdeel. Teen versterkte stede sal hy sy planne beraam, maar net vir 'n tyd lank.
25“ ‘Hy sal krag en moed bymekaarskraap om met 'n groot leër teen die koning van die Suide op te trek. Die koning van die Suide sal gereedmaak vir die geveg met 'n groot en besonder sterk leër; maar hy sal nie staande bly nie, want hulle sal planne teen hom beraam. 26Hulle wat van sy kos eet, sal hom breek; sy leër sal oorweldig word, en baie gewondes sal val. 27En die twee konings, hulle albei, sal kwaad beplan in hulle harte, en terwyl hulle aan dieselfde tafel is, mekaar belieg. Maar dit sal nie slaag nie, want die einde sal eers op die vasgestelde tyd wees. 28 Die koning van die Noorde sal terugkeer na sy land met baie besittings, maar sy hart sal teen die heilige verbond gerig wees. So sal hy optree en terugkeer na sy land.
29“ ‘ Op die vasgestelde tyd sal hy weer na die Suide gaan, maar dit sal die tweede keer nie wees soos die eerste keer nie. 30Skepe van die Kittiërs sal teen hom opruk, en hy sal bang word. Hy sal omdraai en 'n vervloeking uitspreek teen die heilige verbond, en dienooreenkomstig optree. Hy sal terugkeer en aandag gee aan hulle wat die heilige verbond versaak het. 31 Strydmagte deur hom byeengebring, sal opstaan en die heiligdom, die vesting, ontheilig, die gereelde offer afskaf en die verfoeilike afgodsbeeld wat verwoesting veroorsaak, oprig. 32 Dié wat skuldig staan teenoor die verbond, sal hy met slinkse woorde afvallig maak; maar die volk wat hulle God ken, sal sterk weerstand bied. 33 Die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring, maar hulle sal struikel deur die swaard en vlamme, deur gevangenskap en plundering, vir 'n tyd lank. 34 Terwyl hulle struikel, sal hulle 'n klein bietjie hulp ontvang, maar baie sal slinks by hulle aansluit. 35 Sommige van die verstandiges sal struikel. Dit is om hulle te louter, uit te sif en te suiwer tot die eindtyd; want dit sal steeds op die vasgestelde tyd wees.
36“ ‘ Die koning sal doen wat hy wil. Hy sal homself verhef en hom groot waan teen elke god; en teen die God van die gode sal hy verstommende dinge kwytraak. Hy sal voorspoedig wees totdat die vervloeking tot 'n einde kom, want dit is vooruitbepaal; dit sal uitgevoer word. 37 Op die gode van sy voorouers sal hy geen ag slaan nie; op die geliefde van vroue of op enige ander god sal hy nie ag slaan nie, want bo hulle almal sal hy hom groot waan. 38In plaas van aan hulle, sal hy aan die god van vestings eer bewys. Aan die god wat sy voorouers nie geken het nie, sal hy eer bewys met goud, silwer, edelstene en ander kosbaarhede. 39Hy sal optree teen versterkte stede met die hulp van 'n vreemde god. Wie aan hom erkenning gee, sal hy oorlaai met eerbewyse. Hy sal hulle laat heers oor baie, en grond uitdeel as beloning.
40“ ‘ Maar in die eindtyd sal die koning van die Suide met hom kragte meet, en die koning van die Noorde sal hom bestorm met strydwaens, perderuiters en baie skepe. Hy sal lande binneval, instroom en oorstroom. 41 Hy sal die land van die Sieraad binneval, en baie sal val. Maar die volgende sal vrykom uit sy hand: Edom, Moab en die belangrikstes van die Ammoniete. 42Hy sal sy hand uitstrek teen lande. Vir Egipteland sal daar nie wegkomkans wees nie. 43 Hy sal beheer hê oor die skatte van goud en silwer, ja, oor al die kosbaarhede van Egipte, terwyl Libiërs en Kussiete sy gevolg sal wees. 44Gerugte uit die ooste en noorde sal hom verskrik, en hy sal met groot woede uittrek om baie te verdelg en aan volledige vernietiging oor te gee. 45 Hy sal sy koninklike tente opslaan tussen die see en die berg van die heilige Sieraad, maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal geen helper vir hom wees nie.

Tans Gekies:

Daniël 11: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid