Amos 5:1-9
Amos 5:1-9 AFR20
Luister na hierdie woord, huis van Israel, wat ek as 'n treurlied oor julle aanhef: “Sy het geval, die jongvrou Israel sal nie weer opstaan nie. Verlate lê sy op haar grond met niemand wat haar ophelp nie.” Ja, so sê my Heer, die HERE: “Die stad wat uittrek met duisend, hou honderd oor; en die een wat uittrek met honderd, hou tien oor vir die huis van Israel.” Ja, so sê die HERE vir die huis van Israel: “Soek My, dan sal julle leef. Moet Bet-El nie besoek nie; na Gilgal mag julle nie gaan nie en na Berseba die grens nie oorsteek nie. Want Gilgal sal beslis in ballingskap gaan en Bet-El sal 'n nietigheid word.” Soek die HERE, dan sal julle leef – anders vlam Hy op soos 'n vuur in die huis van Josef; die vuur sal verteer en daar is niemand wat dit vir Bet-El kan blus nie – julle wat die reg verander in wildeals, en geregtigheid teen die grond gooi. Hy wat die Sewester en Orion maak, wat stikdonker verander in môre en dag in nag laat verdonker; wat die water van die see roep en dit uitgiet oor die oppervlakte van die aarde – HERE is sy Naam. Dit is Hy wat verwoesting laat losbars oor 'n vesting, ja, verwoesting kom oor 'n versterkte stad.


