Amos 3:1-7

Amos 3:1-7 AFR20

“Luister na hierdie woord wat Ek, die HERE, teen julle uitgespreek het, Israeliete, teen die hele geslag wat Ek uit Egipteland laat optrek het, ‘Net julle, uit al die geslagte van die aarde, het Ek geken; daarom gaan Ek van julle rekenskap eis oor al julle sondeskuld.’ ” Loop twee saam sonder dat hulle afgespreek het? Brul 'n leeu in die bos as daar vir hom geen prooi is nie? Laat 'n jong leeu sy stem hoor uit sy lêplek sonder dat hy iets gevang het? Duik 'n voël af op 'n wip op die grond as daar vir hom geen lokaas is nie? Klap 'n wip toe op die grond as dit glad nie iets vang nie? As 'n •ramshoring in 'n stad geblaas word, bewe mense nie? As daar teenspoed in 'n stad is, het die HERE dit nie gedoen nie? Ja, my Heer, die HERE, doen niks nie, tensy Hy sy vertroulike besluit openbaar aan sy diensknegte, die profete.