Handelinge 4

4
Petrus en Johannes voor die Joodse Raad
1Terwyl hulle nog besig was om die volk toe te spreek, het die priesters en die bevelvoerder van die tempelwag en die •Sadduseërs op hulle afgekom, 2hewig ontsteld omdat hulle die volk onderrig en in Jesus die opstanding uit die dood verkondig. 3Hulle het hulle toe gevange geneem en onder bewaking geplaas tot die volgende môre, omdat dit reeds aand was. 4 Baie van die mense wat die toespraak gehoor het, het egter tot geloof gekom, sodat die getal manne tot ongeveer vyfduisend aangegroei het.
5Die volgende dag het hulle leiers en familiehoofde en skrifkenners in Jerusalem bymekaargekom – 6ook Annas, die hoëpriester, en Kajafas en Johannes en Aleksander, en almal wat tot die hoëpriesterlike familie behoort het. 7Hulle het •Petrus en Johannes in die middel laat staan en vir hulle gevra: “Deur watter krag of deur watter naam het julle dit gedoen?” 8Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Leiers van die volk en familiehoofde, 9as ons vandag verhoor word oor 'n goeie daad aan 'n siek man waardeur hy gesond geword het, 10moet julle almal en die hele volk van Israel weet dat hierdie man gesond voor julle staan deur die Naam van Jesus Christus van Nasaret
“wat julle gekruisig het,
wat God uit die dood opgewek het.
11“Hy is
“ ‘die klip wat deur julle, die bouers, geminag is,
en die hoeksteen geword het.’
12“Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie. ” 13Toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien en besef dat hulle ongeleerd en leke is, was hulle verbaas en het hulle hulle herken as mense wat saam met Jesus was. 14Maar omdat hulle die man wat gesond gemaak is, by hulle sien staan het, kon hulle niks daarteen sê nie. 15 Hulle het hulle toe beveel om die raadsaal te verlaat, en met mekaar beraadslaag: 16“Wat gaan ons met hierdie mense doen? Dit is immers vir al die inwoners van Jerusalem duidelik dat 'n onmiskenbare teken deur hulle toedoen plaasgevind het. Ons kan dit nie ontken nie. 17 Maar om te verhoed dat dit verder onder die volk versprei, laat ons hulle dreig, sodat hulle nie meer met enige mens in hierdie Naam praat nie.” 18Hulle het hulle toe teruggeroep en hulle beveel om hoegenaamd nie meer in die Naam van Jesus te praat of onderrig te gee nie. 19 Petrus en Johannes het hulle egter geantwoord en gesê: “Of dit reg is voor God om eerder na julle te luister as na God, moet julle self oordeel; 20want ons kan nie swyg oor wat ons gesien en gehoor het nie.” 21Nadat hulle Petrus en Johannes nog meer gedreig het, het hulle hulle vrygelaat omdat hulle as gevolg van die volk se houding nie 'n manier kon vind om hulle te straf nie; want almal het God verheerlik oor wat gebeur het. 22Die man oor wie hierdie teken van genesing gekom het, was immers ouer as veertig jaar.
Gebed om vrymoedigheid
23Ná hulle vrylating het Petrus en Johannes na hulle eie mense gegaan en hulle vertel wat die leierpriesters en die familiehoofde alles vir hulle gesê het. 24Toe hulle dit hoor, het hulle God eensgesind aangeroep en gesê: “Here, U is die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het, 25wat by monde van ons vader Dawid, u dienskneg, deur die Heilige Gees gesê het:
“ ‘Waarom gaan die heidennasies tekere,
en bedink die volke nietige dinge?
26Die konings van die aarde
neem stelling in,
en die leiers span saam
teen die Here en teen sy Gesalfde.’
27“Want inderdaad, in hierdie stad het hulle – Herodes en Pontius •Pilatus, saam met die heidennasies en die volke van Israel – saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het 28 om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur. 29En nou, Here, slaan ag op hulle dreigemente, en gee dat u diensknegte u boodskap met alle vrymoedigheid verkondig, 30deur u hand uit te strek tot genesing, en deurdat tekens en wonders deur die Naam van u heilige Dienskneg Jesus plaasvind.” 31Terwyl hulle gebid het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud en almal is vervul met die Heilige Gees, en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig.
Gemeenskaplike besit
32Die menigte wat gelowig geword het, was een van hart en •siel, en niemand het na enige van sy besittings as sy eie verwys nie, maar hulle het alles gemeenskaplik besit. 33Die •apostels het ook kragtig getuig oor die opstanding van die Here Jesus, en groot genade het oor hulle almal gekom. 34 Daar was inderdaad niemand onder hulle wat gebrek gely het nie, aangesien almal wat grond of huise besit het, dit verkoop het en die opbrengs van die verkope gebring 35en aan die voete van die apostels neergelê het. En aan elkeen is dan uitgedeel in ooreenstemming met wat hy nodig gehad het. 36Josef, 'n Leviet afkomstig uit Ciprus, wat by die apostels die bynaam Barnabas gekry het – as dit vertaal word, beteken dit Seun van Vertroosting – 37het 'n stuk grond besit en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid