Handelinge 14

14
Paulus en Barnabas in Ikonium
1In Ikonium het dit op dieselfde manier gebeur: Hulle het die Joodse •sinagoge binnegegaan en so gepreek dat 'n groot aantal Jode en Grieke gelowig geword het. 2 Maar die ongelowige Jode het die heidene opgesweep en hulle gemoedere vergiftig teen die broers. 3Tog het die •apostels 'n geruime tyd daar deurgebring en met vrymoedigheid gepreek – vol vertroue in die Here, wat die boodskap van sy genade bevestig het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle toedoen gebeur. 4Maar die inwoners van die stad was verdeeld – sommige het hulle by die Jode geskaar en ander by die apostels. 5Toe daar van die heidene sowel as die Jode, en ook hulle leiers, 'n aanslag kom om die apostels aan te rand en te stenig, 6 het hulle dit te wete gekom en na die Likaoniese stede, Listra en Derbe, en die omliggende streke gevlug 7en daar die evangelie bly verkondig.
Paulus en Barnabas in Listra
8In Listra het daar 'n man gesit wat nie sy voete kon gebruik nie. Hy was van sy geboorte af verlam en kon nooit loop nie. 9Hy het na Paulus se woorde geluister. Paulus het stip na hom gekyk, en toe hy sien dat hy die geloof het om genees te word, 10het hy met 'n harde stem uitgeroep: “Staan op, regop op jou voete!” En hy het opgespring en begin rondstap. 11Toe die skare sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het soos mense geword en na ons afgedaal!” 12Vir Barnabas het hulle Zeus genoem en vir Paulus, omdat hy die woordvoerder was, Hermes. 13Die priester van Zeus, wie se tempel net buite die stad was, het bulle en blomkranse na die stadspoorte gebring en wou saam met die skares 'n offer bring. 14Toe die •apostels Barnabas en Paulus daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur, tussen die skare ingespring en geskreeu: 15“Mense, waarom doen julle dit? Ons is ook in alle opsigte mense, net soos julle! Ons verkondig aan julle die evangelie dat julle van hierdie nuttelose dinge moet wegdraai na die lewende God, wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het. 16 Al die heidennasies het Hy in vorige geslagte toegelaat om op hulle eie paaie te gaan, 17 maar tog het Hy geen onduidelike getuienis van Homself gegee nie, deur goeie dinge te doen: Hy het uit die hemel aan julle reën en vrugbare seisoene gegee, en julle liggame met kos en julle harte met vreugde gevul.” 18Maar selfs al het hulle dit gesê, het hulle beswaarlik die skare daarvan weerhou om offers aan hulle te bring.
19Maar daar het Jode uit Antiogië en Ikonium aangekom en die skare oorgehaal. Hulle het Paulus gestenig en hom uit die stad gesleep, omdat hulle gedink het hy is dood. 20Maar toe die dissipels rondom hom gaan staan, het hy opgestaan en die stad binnegegaan. Die volgende dag het hy saam met Barnabas na Derbe vertrek.
Terugkeer na Antiogië in Sirië
21Nadat hulle die evangelie in daardie stad verkondig en 'n redelike aantal dissipels gewerf het, het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië teruggekeer. 22 Hulle het die dissipels geestelik versterk, hulle aangemoedig om in die geloof te volhard en gesê: “Ons moet deur baie ontberings heen in die •koninkryk van God ingaan.” 23Hulle het in elke •gemeente vir hulle ouderlinge aangestel, en nadat hulle gebid en gevas het, hulle opgedra aan die Here in wie hulle nou geglo het. 24Nadat hulle deur Pisidië gereis het, het hulle na Pamfilië gegaan, 25waar hulle in Perge die woord verkondig het. Daarna het hulle na Attalië afgereis, 26en daarvandaan gevaar na Antiogië, waar hulle vroeër aan die genade van God opgedra is vir die werk wat hulle nou voltooi het. 27Met hulle aankoms het hulle die gemeente saamgeroep en vertel van alles wat God met hulle gedoen het, en dat Hy vir die heidene 'n deur tot die geloof oopgemaak het. 28Hulle het 'n lang tyd saam met die dissipels daar deurgebring.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid