Handelinge 13

13
Eerste sendingreis: Uitstuur van Barnabas en Saulus
1In die plaaslike •gemeente in Antiogië was daar profete en leermeesters, onder andere Barnabas, Simeon bekend as Niger, Lucius van Sirene, Manaen, 'n jeugvriend van Herodes die tetrarg, en Saulus. 2Toe hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waartoe Ek hulle geroep het.” 3Toe die gemeente klaar gevas en gebid het, het hulle hulle die hande opgelê en weggestuur.
Barnabas en Saulus se prediking op Ciprus
4So is Barnabas en Saulus deur die Heilige Gees gestuur, en hulle het afgereis na Seleukië en daarvandaan weggevaar na Ciprus. 5Toe hulle in Salamis aankom, het hulle die woord van God in die Joodse •sinagoges verkondig, met Johannes as hulle helper. 6Hulle het deur die hele eiland gereis tot in Pafos, waar hulle 'n sekere Joodse towenaar aangetref het, 'n vals profeet met die naam Barjesus. 7Hy was die metgesel van die prokonsul Sergius Paulus, wat 'n verstandige man was. Die prokonsul het Barnabas en Saulus laat roep, omdat hy graag die woord van God wou hoor. 8 Maar die towenaar Elimas – want so word die naam Barjesus vertaal – het hulle teengestaan, omdat hy die prokonsul van die geloof wou weghou. 9Maar Saulus, oftewel Paulus, het hom stip aangekyk en, vervul met die Heilige Gees, 10gesê: “O, kind van die Duiwel, vyand van alle •geregtigheid, en vol allerlei listighede en elke soort bedrog – sal jy nie ophou om die reguit paaie van die Here te verdraai nie? 11 Maar kyk, nou gaan die hand van die Here jou tref en jy sal 'n ruk lank blind wees en die son nie sien nie.” Onmiddellik het 'n mistigheid en duisternis hom oorval en hy het rondgestrompel en mense gesoek om hom aan die hand te lei. 12Toe die prokonsul sien wat gebeur het, het hy, verstom oor die leer van die Here, gelowig geword.
Paulus en Barnabas in Antiogië en Pisidië
13Paulus en sy reisgenote het van Pafos af weggevaar en Perge in Pamfilië bereik. Daar het Johannes hulle verlaat en na Jerusalem teruggekeer. 14Hulle het van Perge verder gegaan en by Antiogië in Pisidië aangekom, en op die Sabbat die •sinagoge binnegegaan en gaan sit. 15Ná die voorlesing van die Wet en die Profete, het die leiers van die sinagoge 'n boodskap na hulle gestuur met die woorde: “Broers, as julle 'n woord van bemoediging vir die volk het, sê dit!” 16Paulus het opgestaan, 'n handgebaar gemaak en gesê:
“Israeliete en godvresendes, luister! 17 Die God van hierdie volk Israel het ons voorouers uitverkies, en het hulle tydens hulle verblyf as •vreemdelinge in Egipteland tot 'n volk verhef, hulle met 'n uitgestrekte arm daar uitgelei, 18 en hulle ongeveer veertig jaar lank in die woestyn verduur. 19 In die land Kanaän het Hy sewe nasies uitgedelg en hulle land as erfdeel aan ons voorouers gegee. 20Dit het ongeveer vierhonderd-en-vyftig jaar geduur. En daarna het Hy rigters gegee, tot by die profeet Samuel. 21Hierna het hulle aangedring op 'n koning, en God het Saul, die seun van Kis, 'n man uit die stam van Benjamin, vir veertig jaar aan hulle gegee. 22Nadat God hom as koning verwyder het, het Hy Dawid tot hulle koning gemaak. Oor hom het Hy soos volg getuig, ‘In Dawid, die seun van Isai, het Ek 'n man na my hart gevind, wat al my wilsbesluite sal uitvoer. ’ 23 Uit hierdie man se nageslag het God vir Israel, in ooreenstemming met sy belofte, Jesus as Verlosser voortgebring. 24 Voor Jesus se openbare optrede het Johannes aan die hele volk Israel die doop van bekering verkondig. 25Toe Johannes aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê, ‘Wie dink julle is ek? Ek is nie Hy nie! Maar kyk, ná my kom iemand wie se sandale ek nie werd is om van sy voete los te maak nie. ’
26“Broers, kinders van Abraham se geslag, en die godvresendes onder julle, aan ons is die boodskap van hierdie verlossing gestuur. 27 Want die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het Hom nie herken nie; en deur Hom te veroordeel, het hulle die uitsprake van die profete, wat elke Sabbatdag gelees word, in vervulling laat gaan. 28Alhoewel hulle geen grond vir die doodstraf kon vind nie, het hulle tog by •Pilatus daarop aangedring dat Hy tereggestel word. 29Toe hulle alles uitgevoer het wat oor Hom geskryf staan, het hulle Hom van die kruishout afgehaal en in 'n graf neergelê. 30 Maar God het Hom uit die dood opgewek. 31In die loop van baie dae het Hy verskyn aan hulle wat saam met Hom van Galilea na Jerusalem gereis het en wat nou as sy getuies teenoor die volk optree. 32En ons verkondig aan julle die goeie boodskap dat God die belofte wat aan die voorvaders gemaak is, 33vir ons, hulle kinders, vervul het deurdat Hy Jesus laat opstaan het, soos daar in die tweede psalm geskryf staan:
“ ‘Jy is my Seun;
vandag het Ek jou verwek.’
34“En omdat Hy Hom uit die dood sou opwek, sodat Hy nooit weer na ontbinding terugkeer nie, het Hy soos volg gesê:
“ ‘Ek sal aan julle die heilige
en betroubare beloftes van Dawid gee.’
35“Daarom sê Hy ook in 'n ander psalm:
“ ‘U sal u Heilige nie ontbinding
laat beleef nie.’
36“Want Dawid het, nadat hy sy eie geslag volgens God se raadsbesluit gedien het, gesterf, en is by sy voorvaders begrawe – en hy het ontbinding beleef; 37maar Hy vir wie God opgewek het, het nie ontbinding beleef nie. 38-39Julle moet dus weet, broers, dat dit deur hierdie Man is dat die vergewing van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die •Wet van Moses nie geregverdig kon word nie. 40Sorg dat wat in die Profete gesê is, nie met julle gebeur nie:
41 “ ‘Kyk, julle spotters,
staan verstom en gaan ten gronde!
Want in julle tyd doen Ek iets,
'n daad wat julle beslis nie sal glo
as iemand dit vir julle vertel nie.’ ”
42Toe Paulus en Barnabas buite kom, het die mense gesmeek dat hierdie dinge op die volgende Sabbat ook aan hulle vertel word. 43Toe die sinagoge verdaag het, het baie van die Jode en die godsdienstige proseliete Paulus en Barnabas gevolg, wat met hulle gepraat en hulle oortuig het om in die genade van God te bly leef.
Paulus na die heidene
44Die volgende Sabbat het byna die hele stad byeengekom om die woord van die Here te hoor. 45 Toe die Jode die skare sien, is hulle vervul met naywer, en het hulle dit wat Paulus gesê het, teengestaan en belaster. 46Maar Paulus en Barnabas het prontuit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan júlle verkondig word. Maar aangesien julle dit verwerp en julleself nie die ewige lewe werd ag nie, kyk, nou wend ons ons tot die heidennasies. 47Want so het die Here dit aan ons opgedra:
“ ‘Ek het jou aangewys
as 'n lig vir die nasies,
sodat jy verlossing kan bring
tot aan die uiteindes van die aarde.’ ”
48 Toe die heidene dit hoor, was hulle bly en vol lof oor die woord van die Here. En diegene wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. 49Die woord van die Here het deur die hele landstreek versprei. 50Die Jode het egter die godsdienstige vroue uit die vooraanstaande kringe en ook die leiers van die stad aangehits, en hulle het 'n vervolging teen Paulus en Barnabas ontketen en hulle uit hulle gebied verdryf. 51Hulle het toe die stof van hulle voete afgeskud as getuienis teen die stad en na Ikonium vertrek. 52Die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid