Handelinge 14:21-28
Handelinge 14:21-28 AFR20
Nadat hulle die evangelie in daardie stad verkondig en 'n redelike aantal dissipels gewerf het, het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië teruggekeer. Hulle het die dissipels geestelik versterk, hulle aangemoedig om in die geloof te volhard en gesê: “Ons moet deur baie ontberings heen in die •koninkryk van God ingaan.” Hulle het in elke •gemeente vir hulle ouderlinge aangestel, en nadat hulle gebid en gevas het, hulle opgedra aan die Here in wie hulle nou geglo het. Nadat hulle deur Pisidië gereis het, het hulle na Pamfilië gegaan, waar hulle in Perge die woord verkondig het. Daarna het hulle na Attalië afgereis, en daarvandaan gevaar na Antiogië, waar hulle vroeër aan die genade van God opgedra is vir die werk wat hulle nou voltooi het. Met hulle aankoms het hulle die gemeente saamgeroep en vertel van alles wat God met hulle gedoen het, en dat Hy vir die heidene 'n deur tot die geloof oopgemaak het. Hulle het 'n lang tyd saam met die dissipels daar deurgebring.



