1 Samuel 8

8
Versoek om 'n koning
1Toe Samuel oud geword het, het hy sy seuns as rigters oor Israel aangestel. 2Sy eersgebore seun se naam was Joël en sy tweede seun se naam was Abia. Hulle was rigters in Berseba. 3Sy seuns het egter nie in sy voetspore gevolg nie. Hulle was uit op winsbejag, het omkoopgeskenke aanvaar en het die reg verdraai.
4Al die oudstes van Israel het toe byeengekom en na Samuel in Rama gegaan. 5Hulle het vir hom gesê: “Kyk, u het oud geword, en u seuns volg nie in u voetspore nie. Stel dan nou vir ons 'n koning aan om ons te rig, soos dit by al die nasies is. ”
6Dit was egter verkeerd in die oë van Samuel dat hulle gesê het: “Gee vir ons 'n koning om ons te rig.” Samuel het toe tot die Here gebid. 7Die Here het vir Samuel gesê: “Luister na die volk in alles wat hulle vir jou sê, want dit is nie jou wat hulle verwerp het nie, maar My het hulle verwerp om oor hulle koning te wees. 8Dit stem ooreen met al die dade wat hulle gedoen het, van die dag dat Ek hulle uit Egipte laat optrek het tot vandag toe: Hulle het My verlaat en ander gode gedien. Presies so maak hulle nou ook met jou. 9Luister dan nou na hulle. Maar jy moet hulle net ernstig waarsku, en aan hulle die regte verduidelik van die koning wat oor hulle gaan regeer. ”
10Samuel het al die woorde van die Here oorgedra aan die volk wat van hom 'n koning gevra het. 11Hy het gesê: “Dit sal die regte van die koning wees wat oor julle gaan regeer: Julle seuns sal hy vat en hulle vir hom aanstel by sy strydwa en sy span perde. Hulle sal voor sy strydwa uit moet hardloop. 12Hy sal hulle vir hom aanstel as •aanvoerders oor duisend en aanvoerders oor vyftig, om sy ploegland te ploeg, sy oes in te samel en om toerusting vir sy oorloë en vir sy strydwaens te maak. 13Julle dogters sal hy vat as salfmengers en as kokke en bakkers. 14 Julle beste landerye, wingerde en olyfboorde sal hy vat en aan sy amptenare gee. 15Van julle graanoes en wingerdoes sal hy 'n tiende vat en vir sy paleisamptenare en dienaars gee. 16Julle slawe en slavinne, die keur van julle jong manne en donkies sal hy vat en vir sy eie werk gebruik. 17Van julle kleinvee sal hy 'n tiende vat. Julle self sal sy slawe wees. 18 Julle sal op daardie dag om hulp roep oor julle koning wat julle vir julle verkies het, maar die Here sal julle op daardie dag nie verhoor nie.”
19 Die volk het egter geweier om na Samuel te luister. “Nee,” het hulle gesê, “maar daar moet 'n koning oor ons wees! 20Ons wil ook soos al die nasies wees, ons koning moet oor ons regeer, hy moet voor ons uit trek en ons oorloë vir ons voer.”
21Samuel het na al die woorde van die volk geluister en dit aan die Here voorgelê. 22Die Here het vir Samuel gesê: “Luister na hulle en stel vir hulle 'n koning aan.”
Samuel het daarna vir die mense van Israel gesê: “Gaan elkeen dan nou na sy stad toe!”

Tans Gekies:

1 Samuel 8: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid