1 Samuel 7

7
1Die manne van Kirjat-Jearim het toe gekom. Hulle het met die ark van die Here opgegaan en dit na die huis van Abinadab op die heuwel geneem. Hulle het Eleasar, sy seun, gewy om die ark van die Here op te pas.
Samuel as rigter
2Vanaf die dag dat die ark in Kirjat-Jearim 'n tuiste gevind het, het daar 'n lang tyd verloop – twintig jaar. Die hele huis van Israel wou toe weer die Here volg.
3Samuel het toe vir die hele huis van Israel gesê: “As julle met julle hele hart na die Here wil terugkeer, verwyder dan die vreemde gode uit julle midde, en ook die Astartes. Rig julle hart op die Here en dien Hom alleen, sodat Hy julle kan red uit die hand van die Filistyne.” 4Die Israeliete het toe die Baäls en die Astartes verwyder en net die Here gedien.
5Samuel sê toe: “Bring die hele Israel by Mispa byeen, dan sal ek vir julle tot die Here bid.” 6Hulle het by Mispa byeengekom, water geskep en dit voor die Here uitgegiet. Hulle het daardie dag gevas en daar bely: “Ons het teen die Here gesondig.” Samuel het die Israeliete by Mispa gerig.
7Toe die Filistyne hoor dat die Israeliete by Mispa byeengekom het, het die heersers van die Filistyne teen Israel opgetrek. Die Israeliete het dit gehoor en bang geword vir die Filistyne. 8Die Israeliete sê toe vir Samuel: “Moet tog nie oor ons stilbly en ophou om tot die Here om hulp te roep nie, sodat Hy ons uit die hand van die Filistyne kan verlos.”
9Samuel het toe 'n suiplam geneem en dit as 'n volledige •brandoffer aan die Here gebring. Samuel het tot die Here om hulp geroep ter wille van Israel, en die Here het hom verhoor. 10Terwyl Samuel nog die brandoffer bring, het die Filistyne nader beweeg vir die geveg teen Israel. Maar die Here het op daardie dag harde donderslae laat dreun oor die Filistyne en hulle verwar. Hulle is toe voor Israel uit verslaan. 11Die manskappe van Israel het uit Mispa getrek en die Filistyne agtervolg en bly neervel, tot onderkant Bet-Kar. 12Toe het Samuel 'n klip geneem en dit tussen Mispa en Sen opgerig. Hy het dit Eben-Haeser genoem en gesê: “Tot hiertoe het die Here ons gehelp.”
13 Die Filistyne is op hulle knieë gedwing en hulle het nie weer in die gebied van Israel gekom nie. Die hand van die Here was teen die Filistyne so lank as wat Samuel geleef het. 14Die stede wat die Filistyne van Israel afgeneem het, van Ekron af tot by Gat, het weer teruggeval na Israel. Ook die omliggende gebiede het Israel uit die hand van die Filistyne geruk. Daar was toe vrede tussen Israel en die Amoriete.
15Samuel het Israel gerig so lank as wat hy geleef het. 16Hy het van jaar tot jaar rondgegaan by Bet-El, Gilgal en Mispa, en Israel op al hierdie plekke gerig 17voordat hy teruggekeer het na Rama; want sy huis was daar. Daar het hy Israel gerig en daar het hy vir die Here 'n altaar gebou.

Tans Gekies:

1 Samuel 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid