1 Samuel 9

9
Salwing van Saul as koning
1Daar was 'n man uit Benjamin. Sy naam was Kis, 'n seun van Abiël, seun van Seror, seun van Bekorat, seun van Afiag. Hy was 'n Benjaminiet, 'n vermoënde man. 2Hy het 'n seun gehad met die naam Saul, 'n mooi jong man. Onder die Israeliete was daar niemand aantrekliker as hy nie. Hy het kop en skouers uitgestaan bo die hele volk.
3Donkiemerries van Kis, Saul se vader, het soek geraak. Kis het vir sy seun Saul gesê: “Neem een van die handlangers saam met jou, maak self gereed en gaan soek die donkiemerries.”
4Hulle het oor die heuwelland van Efraim gegaan, ook deur die Salisastreek, maar niks gekry nie. Toe het hulle deur die Saälimstreek gegaan, maar ook daar was niks. Hulle het deur die landstreek van Benjamin gegaan, maar niks gekry nie. 5Toe hulle in die Sufstreek kom, het Saul vir die handlanger wat by hom was, gesê: “Kom ons gaan terug, anders bekommer my pa hom nie meer oor die donkies nie, maar raak besorg oor ons.” 6Die handlanger antwoord hom toe: “Kyk, in hierdie dorp is daar 'n man van God, en dié man word hoog geag. Alles wat hy sê, gebeur werklik. Kom ons gaan nou daarheen. Miskien kan hy vir ons die pad aandui waarop ons moet gaan.”
7Saul sê toe vir sy handlanger: “Kyk, as ons gaan, wat bied ons vir die man aan? Want die brood in ons sakke is gedaan. Hier is ook geen geskenk om vir die man van God aan te bied nie. Wat het ons?” 8Die handlanger het Saul weer geantwoord en gesê: “Kyk, ek het nog 'n kwart sikkel silwer by my. Ek sal dit vir die man van God gee, sodat hy vir ons die pad kan aandui.”
9 Vroeër het die mense in Israel so gesê wanneer hulle gaan om God te raadpleeg: “Kom, laat ons na die siener gaan.” Want die profeet van vandag is vroeër “siener” genoem.
10Saul sê toe vir sy handlanger: “Jou voorstel is goed. Kom ons gaan.” Hulle gaan toe na die dorp waar die man van God was.
11Terwyl hulle oploop na die dorp, teen die opdraand uit, kom hulle meisies teë wat uitgaan om water te skep. Hulle vra toe vir hulle: “Is die siener hier?” 12Die meisies het hulle geantwoord en gesê: “Hy is. Kyk, daar voor u! Maak nou gou! Want hy het juis vandag na die dorp gekom, omdat daar vandag vir die volk 'n •maaltydoffer op die •offerhoogte is. 13Sodra u die dorp binnegaan, sal u hom teëkom voordat hy na die offerhoogte opgaan om te eet; want die mense eet nie voordat hy kom nie, omdat hy die een is wat die offer moet seën. Eers daarna eet die genooides. Gaan dan op, want u sal hom nou daar aantref.”
14Hulle het toe na die dorp opgegaan. Terwyl hulle die dorp binnegaan, kom Samuel juis in hulle rigting uit om na die offerhoogte op te gaan.
15Die Here het dit 'n dag voor die koms van Saul aan Samuel bekend gemaak en gesê: 16“Môre teen hierdie tyd sal Ek 'n man uit die landstreek van Benjamin na jou stuur. Jy moet hom salf as 'n leier oor my volk Israel, sodat hy my volk kan verlos uit die hand van die Filistyne. Want Ek het my volk raakgesien, ja, hulle hulpgeroep het My bereik.”
17Toe Samuel vir Saul sien, het die Here hom verseker: “Hier is die man van wie Ek vir jou gesê het, ‘Dit is hy wat oor my volk beheer sal uitoefen.’ ” 18Saul het Samuel in die dorpspoort genader en gevra: “Sê asseblief vir my waar is die siener se huis?” 19Daarop antwoord Samuel toe vir Saul en sê: “Ek is die siener. Gaan voor my op na die offerhoogte en eet vandag saam met my. Ek sal jou môreoggend wegsien en oor alles wat op jou hart druk, vir jou duidelikheid gee. 20Wat die donkiemerries betref waarna jy vandag drie dae lank al op soek is: Moet jou nie oor hulle bekommer nie, want hulle is gevind. Maar aan wie behoort al die kosbaarhede van Israel? Is dit nie aan jou en jou familie nie?” 21Saul het egter daarop gereageer en gesê: “Is ek nie maar net 'n Benjaminiet, uit die kleinste van die stamme van Israel, en is my familiegroep nie die kleinste van al die familiegroepe van die stam van Benjamin nie? Waarom sê u so iets vir my?”
22Samuel het toe Saul en sy handlanger geneem en hulle in die eetvertrek ingebring. Hy het aan hulle 'n ereplek onder die genooides gegee. Daar was ongeveer dertig man. 23Samuel het vir die kok gesê: “Bring die porsie vleis wat ek vir jou gegee het, en waarvan ek vir jou gesê het, ‘Hou dit by jou.’ ” 24Die kok het die skenkel en die vleis daaraan opgetel en dit voor Saul neergesit. Toe sê Samuel: “Kyk, wat uitgehou is, is voor jou neergesit. Eet dit, want dit is vir hierdie geleentheid vir jou gebêre, al vandat ek gesê het, ‘Ek nooi die volk uit.’ ”
Saul het toe daardie dag saam met Samuel geëet. 25Hulle het daarna van die offerhoogte na die dorp afgegaan. Samuel het op die dak van sy huis met Saul gepraat.
26Hulle het vroeg opgestaan, en toe die dag breek, het Samuel na Saul op die dak geroep: “Staan op, sodat ek jou kan wegsien.” Saul het opgestaan en hulle twee, hy en Samuel, het saam na buite gegaan.
27Terwyl hulle besig was om langs die dorp af te gaan, het Samuel vir Saul gesê: “Sê vir die handlanger hy moet voor ons uit gaan; maar jy moet eers 'n bietjie wag, sodat ek jou die woord van God kan laat hoor.” Die handlanger het toe vooruit gegaan.

Tans Gekies:

1 Samuel 9: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid