1 Petrus 4

4
Lyding na die voorbeeld van Christus
1Omdat •Christus dan liggaamlik gely het, moet julle ook julleself bewapen met dieselfde insig, naamlik dat iemand wat liggaamlik gely het, met die sonde klaar is. 2Daarom laat hy hom, gedurende die oorblywende tyd van sy liggaamlike bestaan, nie langer deur menslike begeertes lei nie, maar wel deur die wil van God. 3 Immers, julle het in die tyd wat verby is, al oorgenoeg deel gehad aan dit wat die heidene wil doen: uitspattigheid, begeerte, dronkenskap, brassery, drinkpartytjies en verfoeilike afgodediens. 4Hulle verstom hulle daaroor dat julle nie meer meedoen aan hierdie selfde stroom losbandigheid nie, en sê lasterlike dinge – 5hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat gereed staan om oor lewendes en dooies te oordeel. 6Dit is immers waarom die evangelie ook aan hulle wat reeds dood is, verkondig is, sodat, al sou hulle wel volgens menslike maatstaf na die liggaam geoordeel word, hulle volgens die maatstaf van God na die gees kan leef.
Nabyheid van die einde
7Die einde van alle dinge is op hande. Daarom moet julle selfbeheersd en nugter wees, met die oog op gebed. 8Bo alles moet julle mekaar innig liefhê, omdat “die liefde 'n menigte sondes bedek”. 9Wees gasvry teenoor mekaar, sonder om te mor. 10As goeie bestuurders van die veelvoudige genade van God, moet julle mekaar bedien, in ooreenstemming met die genadegawe wat elkeen ontvang het: 11As iemand aan die woord is, laat dit soos woorde van God wees; as iemand dien, laat dit wees vanuit die krag wat God voorsien, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus •Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort, vir ewig en ewig. •Amen.
Toekomstige lyding van gelowiges
12Geliefdes, moenie verbaas wees wanneer 'n vurige beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie; 13wees eerder bly, namate julle deel het aan die lyding van •Christus, sodat julle ook by die bekendmaking van sy heerlikheid uitbundig sal kan jubel. 14As julle ter wille van Christus se Naam beledig word – gelukkig is julle, omdat die Gees van heerlikheid, dit is die Gees van God, op julle rus. 15Niemand van julle moet immers as moordenaar of dief of kwaaddoener of bemoeisieke ly nie; 16as iemand egter ly omdat hy 'n Christen is, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik op grond van hierdie Naam. 17Dit is immers tyd dat die oordeel begin, en wel by die huishouding van God. As dit by ons begin, wat sal dan die uiteinde wees van hulle wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?
18Want: “As die •regverdige
beswaarlik verlos word,
wat sal van die goddelose
en sondaar word?”
19Dus moet ook hulle wat, in ooreenstemming met die wil van God, ly, hulle lewe aan die getroue Skepper toevertrou deur te doen wat goed is.

Tans Gekies:

1 Petrus 4: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid