1 Petrus 5

5
Toesig deur ouderlinge
1Ek doen dan nou 'n ernstige beroep op die ouderlinge onder julle, ek, julle mede-ouderling en getuie van die lyding van •Christus, en julle deelgenoot in die heerlikheid wat geopenbaar sal word: 2Versorg soos herders die kudde van God in julle midde; hou toesig – nie uit plig nie, maar vrywillig, in ooreenstemming met die wil van God; nie uit skandelike winsbejag nie, maar geesdriftig; 3nie baasspelerig oor hulle wat aan julle toevertrou is nie, maar as voorbeeld vir die kudde. 4En wanneer die Groot Herder verskyn, sal julle die erekrans van heerlikheid ontvang, wat nooit sal verwelk nie.
Opdragte aan jongmense en gemeente
5Net so moet julle wat jonk is, ondergeskik wees aan ouer mense. Beklee julle almal met nederigheid teenoor mekaar, want
“God weerstaan hoogmoediges,
maar aan nederiges gee Hy genade.”
6 Daarom, verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog, 7deur al julle bekommernis op Hom te werp; want Hy gee om vir julle.
8Wees nugter, wees waaksaam! Julle teenstander, die Duiwel, loop rond “soos 'n brullende leeu”, op soek na wie hy kan verslind. 9Hom moet julle teenstaan, standvastig in die geloof, in die wete dat julle medegelowiges oor die hele wêreld dieselfde soort lyding verduur. 10Maar al moes julle vir 'n kort tydjie ly, sal die God van alle genade, wat julle tot sy ewige heerlikheid in •Christus Jesus geroep het, julle herstel, bemagtig, versterk en stewig vestig. 11Aan Hom die krag tot in ewigheid. •Amen.
Laaste opmerkings en seëngroet
12Ek het deur Silvanus, na my oordeel 'n getroue broer, kortliks aan julle geskryf om julle te bemoedig, en julle nadruklik te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan vas daarin!
13Julle mede-uitverkorene in Babilon, en Markus, my seun, groet julle. 14Groet mekaar met 'n soen van liefde.
Vrede vir julle almal wat in •Christus is!

Tans Gekies:

1 Petrus 5: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid