1 Petrus 3

3
Huweliksverhoudings
1 Net so, vroue, moet julle aan julle eie mans onderdanig wees, sodat, selfs indien sommige aan die woord ongehoorsaam is, ook hulle, sonder 'n woord, gewen kan word deur die manier waarop julle leef 2omdat hulle julle rein, eerbiedige leefwyse raaksien.
3 Julle skoonheid moet nie op uiterlike dinge berus nie – soos die vleg van hare, die dra van goue juwele, of die aantrek van elegante klere nie; 4maar op dit wat in die mens se hart verborge is – die onverganklike skoonheid van 'n saggeaarde en rustige gees, wat in God se oë baie kosbaar is. 5So het ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself immers destyds versier deur aan hulle eie mans onderdanig te wees – 6soos Sara aan Abraham gehoorsaam was, toe sy hom as “heer” aangespreek het. Julle het haar dogters geword, as julle doen wat goed is, en julle nie deur enige dreigement laat afskrik nie.
7Net so, mans, moet julle in julle lewe saam met julle vroue begrip toon vir hulle, as die swakker geslag, en hulle, as mede-erfgename van die gawe van die lewe, met respek behandel, sodat julle gebede deur niks belemmer word nie.
Riglyne vir optrede
8Ten slotte: Wees almal eensgesind, meelewend, vol broederliefde, vol ontferming, nederig, 9mense wat nie kwaad met kwaad vergeld of skeldtaal met skeldtaal nie; maar, inteendeel, wees mense wat seën, omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.
10 Immers, “wie die lewe wil liefhê,
en goeie dae wil beleef –
laat hy sy tong weerhou van wat sleg is,
en sy lippe daarvan om bedrog te spreek,
11en laat hy afwyk van die kwaad,
en die goeie doen,
laat hy vrede soek en dit najaag;
12want die oë van die Here
is op die regverdiges,
en sy ore is oop
vir hulle gebedsversoeke,
maar die aangesig van die Here
is teen dié wat verkeerde dinge doen.”
13Verder, wie sal julle sleg behandel as julle julle beywer vir wat goed is? 14Maar selfs al sou julle ly ter wille van wat reg is, gelukkig is julle. Moenie hulle intimidasie vrees, of ontsteld raak nie. 15Inteendeel, eerbiedig •Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. 16Doen dit egter met beskeidenheid en respek, met 'n goeie gewete, sodat, wanneer julle beswadder word, dié wat smalend is oor julle goeie leefwyse in Christus, beskaamd kan staan. 17Dit is immers beter, as dit God se wil sou wees, dat julle ly omdat julle goed doen, as dat julle ly omdat julle kwaad doen.
18Immers, ook Christus
het eens en vir altyd vir sondes gely,
Hy, die Regverdige,
ter wille van onregverdiges,
sodat Hy julle na God kon bring.
Hy is wel liggaamlik doodgemaak,
maar deur die Gees is Hy lewend gemaak.
19Deur die Gees het Hy ook gegaan
en dit vir die geeste in gevangenskap aangekondig.
20 Daardie geeste was destyds ongehoorsaam, toe God in Noag se dae geduldig bly wag het, terwyl die ark gebou is. In die ark is net 'n paar mense, altesaam agt, deur die vloedwaters heen gered. 21Die doop, wat 'n teenbeeld hiervan is, red ook julle nou. Die doop dien nie as 'n verwydering van die vuilheid van die liggaam nie, maar as 'n smeekgebed tot God om 'n skoon gewete, op grond van die opstanding van Jesus Christus –
22 Hy wat aan die regterhand van God is,
nadat Hy die hemel binnegegaan het,
en engele, magte en kragte aan Hom onderwerp is.

Tans Gekies:

1 Petrus 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid