1 Korinthiërs 7:24-40

1 Korinthiërs 7:24-40 AFR20

Broers, laat elkeen voor God bly soos hy was toe hy geroep is. Wat maagdelikheid betref, het ek nie 'n voorskrif van die Here nie, maar ek gee my mening as iemand wat, as begenadigde van die Here, betroubaar is. Weens die nood wat op hande is, meen ek dat dit vir 'n mens goed is om te bly soos jy is. Is jy aan 'n vrou verbonde, moenie die band breek nie; is jy nie aan 'n vrou verbonde nie, moenie 'n vrou soek nie. As jy egter trou, sondig jy nie, en as 'n maagd trou, sondig sy nie. Maar wie trou, sal in hierdie lewe swaarkry – en dit wil ek julle spaar. Wat ek bedoel, broers, is dat die tyd kort geword het. Wie 'n vrou het, moet van nou af so wees asof hulle nie 'n vrou het nie; wie huil, asof hulle nie huil nie; wie bly is, asof hulle nie bly is nie; wie koop, asof hulle nie besit nie; en wie betrokke is by die dinge van die wêreld, asof hulle nie betrokke is nie – want hierdie wêreld in sy huidige vorm is aan die verbygaan. Trouens, ek wil hê julle moet onbesorg leef. Die ongetroude man is besorg oor die belange van die Here, hoe hy die Here kan behaag, terwyl die getroude man besorg is oor die dinge van die wêreld, hoe om sy vrou te behaag; sy aandag is dus verdeeld. Die ongetroude vrou en die maagd is besorg oor die belange van die Here, sodat sy na liggaam en gees geheilig kan wees. Die getroude vrou is egter besorg oor die dinge van die wêreld, hoe om haar man te behaag. Ek sê dit vir julle beswil, nie om julle aan bande te lê nie, maar ter wille van eerbaarheid en onverdeelde toewyding aan die Here. As iemand dink dat hy onbehoorlik teenoor sy maagd optree, as sy begeerte te groot word, en hy oordeel dat dit so moet wees, moet hy sy voorneme uitvoer; hy sondig nie – laat hulle trou. Maar iemand wat in sy hart vas oortuig is – nie uit noodsaak nie, maar deur volle beheer oor sy wil – en in sy hart besluit om sy maagd te eerbiedig, tree reg op. Daarom tree hy wat met sy maagd trou reg op, maar hy wat nie trou nie, sal beter optree. 'n Vrou bly aan haar man verbind solank as wat hy leef; maar as haar man ontslaap het, staan dit haar vry om te trou met wie sy wil, maar slegs as dit in verbondenheid aan die Here is. Tog sal sy, na my mening, gelukkiger wees as sy bly soos sy is. En ek glo dat ook ek die Gees van God het.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Korinthiërs 7:24-40

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid