1 KORINTIËRS 7:24-40

1 KORINTIËRS 7:24-40 Bybel vir almal (ABA)

My vriende, julle moet vir God dien en aanhou lewe soos julle gedoen het toe Hy julle gekies het. Julle moenie iets anders probeer wees nie. Die Here het nie spesiaal iets gesê vir die jongmense wat nog nie getroud is nie. Maar ek wil vir julle sê wat ek dink julle moet doen. Die Here was goed vir my, julle kan nou vir my glo. Die mense sal baie swaar kry in die tyd wat kom. Daarom dink ek dit is goed as iemand bly soos hy is, getroud of nie getroud nie. As hy getroud is, dan moet hy nie skei nie. As hy nie getroud is nie, dan moet hy nie trou nie. Maar as 'n jongman trou, dan doen hy nie sonde nie. En as 'n jongmeisie trou, dan doen sy nie sonde nie. Maar getroude mense sal swaarkry omdat daar so baie dinge is wat mense moet doen wanneer hulle getroud is, en ek wil nie hê julle moet swaarkry nie. My vriende, ek waarsku julle dat die tyd kort is voordat Christus weer kom. Daarom moet die mense wat getroud is, wees soos mense wat nie getroud is nie. Die mense wat huil, moet wees soos mense wat nie huil nie. Die mense wat bly is, moet wees soos mense wat nie bly is nie. Die mense wat dinge kan koop, moet wees soos mense wat niks het nie. En die mense wat baie besig is in die wêreld, moet wees soos mense wat dink die wêreld is nie belangrik nie. Want die wêreld soos dit nou is, sal verdwyn. Ek wil graag hê julle moenie bekommerd wees oor dinge nie. As 'n man nie getroud is nie, dan het hy tyd om besig te wees met die dinge van die Here. Hy probeer dinge doen waarvan die Here hou. Maar as 'n man getroud is, dan is hy besig met die dinge van die wêreld. Hy probeer dinge doen waarvan sy vrou hou. 'n Getroude man kan nie net aan die Here dink nie, want hy moet ook dink aan sy vrou. Dit is dieselfde vir 'n vrou. As 'n vrou nie meer getroud is nie, of as sy nog nooit getrou het nie, dan kan sy besig wees met die dinge van die Here. Sy wil haar hele lewe aan die Here wy. Maar as 'n vrou getroud is, dan is sy besig met die dinge van die wêreld. Sy probeer dinge doen waarvan haar man hou. Ek sê dit omdat ek probeer om julle te help. Ek wil nie hê dat die lewe vir julle moeilik moet wees nie. Nee, ek wil hê julle moet reg lewe en julle moet julleself heeltemal wy aan die Here, julle moenie dat iets of iemand julle laat dink aan ander dinge nie. As 'n jongman verloof is en hy dink hy doen nie reg aan sy verloofde nie, en hy wil baie graag by haar slaap, dan moet hy met haar trou. Hy doen nie sonde as hy met haar trou nie. Hy en sy verloofde moet trou. As 'n jongman verloof is, maar hy besluit dat hy nie by sy verloofde wil slaap nie, en hy glo vas hy moenie met haar trou nie, dan doen hy reg as hy nie met haar trou nie. Maar niemand moet vir hom sê hy mag nie met haar trou nie. Dit beteken dat as 'n jongman met sy verloofde trou, dan is dit goed. Maar as die jongman nie trou nie, dan is dit beter. As 'n vrou met haar man getroud is, dan mag sy hom nie los nie. Maar as die man sterf, dan kan sy weer met enige iemand trou, maar dit moet iemand wees wat ook in die Here Jesus glo. Maar ek dink so 'n weduwee is gelukkiger as sy nie weer trou nie. En ek dink dat die Gees van God my ook lei om vir julle te sê wat julle moet doen.

1 KORINTIËRS 7:24-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Laat elkeen, broeders, in die staat waarin hy geroep is, daarin bly voor God. In verband met die maagde het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my mening as iemand wat deur die barmhartigheid van die Here betroubaar is. Ek meen dat dit goed is vanweë die aanstaande nood — dat dit goed is vir 'n mens om so te bly. Is jy aan 'n vrou verbonde, moenie losmaking soek nie; is jy los van 'n vrou, moenie 'n vrou soek nie. Maar as jy tog trou, sondig jy nie; en as 'n maagd trou, sondig sy nie. Maar sulke mense sal verdrukking hê vir die vlees, en ek wil julle spaar. Maar dit sê ek, broeders, die tyd is kort; van nou af moet ook die wat vroue het, wees asof hulle nie het nie; en die wat ween, asof hulle nie ween nie; en die wat bly is, asof hulle nie bly is nie; en die wat koop, asof hulle nie besit nie; en die wat hierdie wêreld gebruik, asof hulle dit nie ten volle gebruik nie; want die gedaante van hierdie wêreld gaan verby. En ek wil hê dat julle onbesorg moet wees. Die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here, hoe hy die Here sal behaag, maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe hy die vrou sal behaag. Daar is ook onderskeid tussen 'n vrou en 'n maagd; die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here om heilig te wees na die liggaam sowel as na die gees, maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe sy die man sal behaag. Ek sê dit tot julle eie voordeel, nie om julle van jul vryheid te beroof nie, maar met die oog op 'n welvoeglike en onafgebroke toewyding aan die Here. Maar as iemand meen dat hy onwelvoeglik met sy maagd handel as sy oor die jeugdige leeftyd is, en dit so moet wees, laat hom doen wat hy wil. Hy sondig nie. Laat hulle trou. Maar hy wat in sy hart vasstaan en nie onder dwang verkeer nie, maar mag het oor sy eie wil en dit in sy eie hart besluit het om sy maagd te bewaar, hy doen goed. Daarom, ook hy wat in die huwelik uitgee, doen goed; maar hy wat in die huwelik nie uitgee nie, doen beter. 'n Vrou is deur die wet gebonde so lank as haar man lewe; maar as die man ontslaap het, is sy vry om te trou met wie sy wil, maar net in die Here. Sy is egter gelukkiger as sy so bly, volgens my gevoele. En ek meen dat ek ook die Gees van God het.

1 KORINTIËRS 7:24-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

Broers, elkeen moet God dien in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het. Wat die ongetroudes betref, het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my eie mening as iemand wat deur die genade van die Here betroubaar is. Ek meen dat, met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dit vir 'n mens goed is om te bly soos hy is: as jy getroud is, moenie skei nie; as jy ongetroud is, moenie 'n vrou soek nie. Maar as jy tog trou, doen jy nie verkeerd nie. En as 'n jongmeisie trou, doen sy nie verkeerd nie. Maar sulke mense sal swaar kry in hierdie lewe, en ek wil julle dit bespaar. Ek bedoel dít, broers: die tyd is min. Van nou af moet dié wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie; en dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie; en dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie; dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie. Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken, is aan die verbygaan. Ek wil hê julle moet vry wees van sorge. Die ongetroude man gee aandag aan die dinge van die Here, aan hoe hy die Here kan behaag. Die getroude man gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe hy sy vrou kan behaag, en sy aandag is verdeel. Ook die ongetroude vrou en die jongmeisie gee aandag aan die dinge van die Here, om na liggaam en gees aan Hom toegewy te wees. Maar die getroude vrou gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe sy haar man kan behaag. Dit alles sê ek vir julle eie beswil. Ek wil julle nie aan bande lê nie, maar ek wil hê julle moet in eerbaarheid lewe en in onverdeelde toewyding aan die Here. As iemand meen dat hy teenoor sy verloofde onbehoorlik handel deur nie te trou nie, en sy begeertes te sterk word en hy voel dat hulle behoort te trou, laat hom doen wat hy graag wil: laat hulle gerus trou. Dit is nie verkeerd nie. Maar as iemand in sy eie gemoed oortuig is dat hy nie moet trou nie, en hy nie onder enige dwang verkeer nie, maar volle beheer oor sy eie wil het, en hy by homself besluit het om nie te trou nie, doen hy 'n goeie ding. Dus, hy wat met sy verloofde trou, doen goed. Wie egter nie trou nie, doen beter. 'n Vrou is aan haar man gebind so lank as hy lewe. As hy sterwe, is sy vry om te trou met wie sy wil, mits dit met 'n gelowige is. Tog is sy na my mening gelukkiger as sy ongetroud bly; en ek dink dat ek ook die Gees van God het.

1 KORINTIËRS 7:24-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Broers, laat elkeen voor God bly soos hy was toe hy geroep is. Wat maagdelikheid betref, het ek nie 'n voorskrif van die Here nie, maar ek gee my mening as iemand wat, as begenadigde van die Here, betroubaar is. Weens die nood wat op hande is, meen ek dat dit vir 'n mens goed is om te bly soos jy is. Is jy aan 'n vrou verbonde, moenie die band breek nie; is jy nie aan 'n vrou verbonde nie, moenie 'n vrou soek nie. As jy egter trou, sondig jy nie, en as 'n maagd trou, sondig sy nie. Maar wie trou, sal in hierdie lewe swaarkry – en dit wil ek julle spaar. Wat ek bedoel, broers, is dat die tyd kort geword het. Wie 'n vrou het, moet van nou af so wees asof hulle nie 'n vrou het nie; wie huil, asof hulle nie huil nie; wie bly is, asof hulle nie bly is nie; wie koop, asof hulle nie besit nie; en wie betrokke is by die dinge van die wêreld, asof hulle nie betrokke is nie – want hierdie wêreld in sy huidige vorm is aan die verbygaan. Trouens, ek wil hê julle moet onbesorg leef. Die ongetroude man is besorg oor die belange van die Here, hoe hy die Here kan behaag, terwyl die getroude man besorg is oor die dinge van die wêreld, hoe om sy vrou te behaag; sy aandag is dus verdeeld. Die ongetroude vrou en die maagd is besorg oor die belange van die Here, sodat sy na liggaam en gees geheilig kan wees. Die getroude vrou is egter besorg oor die dinge van die wêreld, hoe om haar man te behaag. Ek sê dit vir julle beswil, nie om julle aan bande te lê nie, maar ter wille van eerbaarheid en onverdeelde toewyding aan die Here. As iemand dink dat hy onbehoorlik teenoor sy maagd optree, as sy begeerte te groot word, en hy oordeel dat dit so moet wees, moet hy sy voorneme uitvoer; hy sondig nie – laat hulle trou. Maar iemand wat in sy hart vas oortuig is – nie uit noodsaak nie, maar deur volle beheer oor sy wil – en in sy hart besluit om sy maagd te eerbiedig, tree reg op. Daarom tree hy wat met sy maagd trou reg op, maar hy wat nie trou nie, sal beter optree. 'n Vrou bly aan haar man verbind solank as wat hy leef; maar as haar man ontslaap het, staan dit haar vry om te trou met wie sy wil, maar slegs as dit in verbondenheid aan die Here is. Tog sal sy, na my mening, gelukkiger wees as sy bly soos sy is. En ek glo dat ook ek die Gees van God het.

1 KORINTIËRS 7:24-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Broeders, laat elke mens waarin hy geroep is, daarin by God bly. En aangaande maagde het ek geen gebod van die Here nie; tog gee ek my oordeel soos een wat barmhartigheid van die Here verkry het om getrou te wees. Ek dink dan dat dit goed is vir die huidige benoudheid, sê ek, dat dit goed is vir 'n mens om so te wees. Is jy aan 'n vrou gebonde? soek om nie losgemaak te word nie. Is jy losgemaak van 'n vrou? soek nie 'n vrou nie. Maar as jy trou, het jy nie gesondig nie; en as 'n maagd trou, het sy nie gesondig nie. Maar sulke mense sal moeilikheid in die vlees hê, maar Ek spaar julle. Maar dit sê ek, broeders, die tyd is min. En die wat ween, asof hulle nie ween nie; en die wat bly is, asof hulle nie bly is nie; en die wat koop, asof hulle nie besit nie; En die wat hierdie wêreld gebruik, as om dit nie te misbruik nie, want die gedaante van hierdie wêreld gaan verby. Maar ek wil hê dat jy sonder omsigtigheid moet wees. Hy wat ongetroud is, sorg vir die dinge wat aan die Here behoort, hoe hy die Here kan behaag: Maar hy wat getroud is, sorg vir die dinge wat van die wêreld is, hoe hy sy vrou kan behaag. Daar is ook 'n verskil tussen 'n vrou en 'n maagd. Die ongetroude vrou sorg vir die dinge van die Here, sodat sy heilig kan wees na liggaam en gees; maar die getroude sorg vir die dinge van die wêreld, hoe sy haar man kan behaag. En dit spreek ek vir julle eie gewin; nie dat ek 'n strik oor julle kan gooi nie, maar oor wat mooi is, en dat julle die Here sonder afleiding kan ag gee. Maar as iemand meen dat hy hom onwelvoeglik teenoor sy maagd gedra, as sy die blom van haar ouderdom verbygaan en dit nodig het, laat hom doen wat hy wil, hy sondig nie; laat hulle trou. Maar hy wat in sy hart standvastig staan sonder dat dit nodig is, maar mag het oor sy eie wil, en so in sy hart besluit het dat hy sy maagd sal bewaar, doen goed. Daarom doen hy wat haar in die huwelik gee, goed; maar hy wat haar nie in die huwelik gee nie, doen beter. Die vrou is deur die wet gebonde solank haar man lewe; maar as haar man dood is, is sy vry om te trou met wie sy wil; net in die Here. Maar sy is gelukkiger as sy so bly na my oordeel; en ek dink ook dat ek die Gees van God het.

1 KORINTIËRS 7:24-40 Die Boodskap (DB)

My liewe vriende, staan julle plek vol juis daar waar julle was toe die Here julle as sy kinders geroep het. God is mos by julle. Julle het ook nog vrae gehad oor die jongmense wat nie getroud is nie. Ook hieroor het die Here nie spesifiek gesê wat ons moet doen nie. Ek gaan maar weer sê wat ek daaroor dink. My opinie is mos nie niks werd nie. Deur die goedheid van die Here kan julle julle maar steur aan wat ek sê. Omdat dit vandag nie so maklik is om ’n Christen te wees nie, is dit beter om nie aan jou situasie te verander nie. Hou dit soos dit is. As jy getroud is, moet jy nie nou skielik wil skei nie. Net so moet jy, as jy ongetroud is, nie nou naarstig na ’n huweliksmaat begin soek nie. Dit beteken natuurlik nie dat as jy wel trou, jy nou ’n groot sonde doen nie. Maar een ding moet jy weet: as jy trou, sal dit net soveel swaarder vir jou wees in hierdie moeilike tye. Ek probeer julle dit maar net spaar. Laat ek dit so stel, my liewe vriende, daar is nie meer baie tyd oor voordat die Here weer kom nie. Die mense wat getroud is, moenie leef asof die huwelik al is wat hulle het om te doen nie, inteendeel. Iemand wat hartseer is, moenie net aan sy hartseer dink nie en wie bly is, moet hom nie daardeur laat voortsleep nie. Dieselfde geld vir jou houding as jy inkopies doen of jou met die alledaagse dinge besig hou. Jy moet nie toelaat dat jou lewe in hierdie soort dinge vasgroei nie. Hierdie wêreld met al die dinge wat ons ken, sal nie vir altyd hou nie. Die einde van die wêreld is naby. Ek wil nie hê dat julle julle onnodig oor allerhande dinge moet sit en kwel nie. As ’n mens byvoorbeeld ongetroud is, het jy baie tyd om aan die Here se dinge af te staan. Jy kan jou aandag daarop toespits om vir die Here te werk. As ’n mens egter ’n gesin het, is dit anders. Dan moet jy tyd afstaan om jou gesin te versorg. Jy moet jou vrou gelukkig hou. Hierdie man moet dan aan baie dinge gelyk dink en dit verdeel sy aandag. ’n Ongetroude vrou kan haar ook lekker toespits op wat vir die Here belangrik is. Haar doel is om met alles wat sy het vir die Here te leef. ’n Getroude vrou kan dit nie doen nie. Sy moet na haar gesin kyk en haar man versorg. Ek wil nie sommer uit snaaksigheid hê dat julle nie moet trou nie, maar wil julle regtig eerder help. Ek wil graag hê dat julle volstoom vir die Here moet leef en doen wat reg is. Sê nou maar iemand is verloof en omdat hy baie tyd aan die Here se werk wil afstaan, kom hy jare lank nie tot trou nie. Dan begin hy die gevoel kry dat hulle maar moet trou omdat die meisie nie meer gelukkig is om vir so ’n lang tyd net verloof te bly nie. Hy moet gerus maar trou. Dit is nie sonde om dit te doen nie. As die persoon egter besluit het om nie met die meisie te trou nie, en dit pla hom nie om sonder ’n vrou te leef nie, doen hy die regte ding as hy nie trou nie. Laat ek dit so stel: as hy met die meisie trou, doen hy goed; as hy nie met die meisie trou nie, doen hy nog beter. ’n Vrou moet by haar man bly solank hy leef. As haar man egter oorlede is, kan sy trou met wie sy wil. Daar is net een voorwaarde: die nuwe man moet ’n kind van die Here wees. Persoonlik dink ek nog dat dit beter vir haar sal wees om nie weer te trou nie. Dit is nie net ’n persoonlike opinie nie, maar die Gees van God wat in my is, ondersteun my.

1 KORINTIËRS 7:24-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dus, broers en susters, bly voor God in die omstandighede waarin julle was toe God julle geroep het. Wat die ongetroude meisies betref, beskik ek nie oor ’n opdrag van die Here nie. Maar die Here het my begenadig om betroubare leiding te gee en daarom gee ek nou my mening aan julle deur. Met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dink ek dis die beste dat julle bly soos julle nou is. As jy aan ’n vrou verbind is, moenie die huwelik probeer beëindig nie. As jy ongetroud is, moenie ’n vrou probeer kry nie. Maar as jy sou trou, doen jy nie sonde nie en as die ongetroude meisie sou trou, doen sy nie sonde nie. Ek wil julle egter die ekstra kwellinge spaar wat die huwelik meebring. Dít wil ek vir julle sê, broers en susters, onthou die tyd wat nog oorbly, is kort. Daarom moet die getroude mans besef dat daar dinge is wat nog belangriker is as hulle huwelik. Om bly of hartseer te wees, of dinge te kan aankoop mag nie in die pad staan van die Here se werk nie. Dié wat gebruik maak van die dinge van hierdie wêreld, moenie daaraan geheg raak nie. Want hierdie bedeling gaan verby. Ek wil hê dat julle in alles wat julle doen, vry moet wees van die kwellinge van hierdie lewe. ’n Ongetroude man is begaan oor die dinge van die Here; oor hoe hy die Here kan gelukkig maak. Maar die getroude man is begaan oor wêreldse dinge, oor hoe hy sy vrou kan gelukkig maak. Sy aandag is verdeeld. Net so kan ’n vrou wat nie langer getroud is nie of nog nooit getroud was nie, haar aandag op die Here toespits om met liggaam en siel aan Hom toegewy te wees. Die getroude vrou is egter oor wêreldse dinge begaan, oor hoe sy haar man kan gelukkig maak. Ek sê hierdie dinge in julle belang, nie om allerlei beperkings op julle te lê nie. Ek wil hê julle moet, sonder dat iets julle aandag aftrek, fatsoenlik en toegewyd vir die Here lewe. Maar as ’n jong man oordeel dat hy oneerbaar teenoor sy meisie optree as hy nie met haar trou nie, of as hy probleme het om sy passie te beheer, moet hy na sy goeddunke handel. Hy doen nie sonde nie. Laat hulle maar trou. Maar as hy innerlik sterk staan en daar geen noodsaaklikheid bestaan om te trou nie; en as hy goeie selfbeheersing het en in sy hart klaar besluit het om sy meisie in haar ongehude staat te laat bly, doen hy ook goed. Hy wat dus met sy meisie trou, doen goed. Maar hy wat nie trou nie, doen beter. ’n Vrou bly aan haar man verbind vir so lank as wat hy lewe. Maar as haar man te sterwe kom, is sy vry om met iemand van haar keuse te trou – mits hy ook ’n Christen is. Ek is egter van opinie dat sy gelukkiger sal wees as sy ongetroud bly. En ek meen dat hierdie advies van my van God se Gees afkomstig is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid