1 Korinthiërs 7

7
Vrae oor die huwelik
1Verder, met verwysing na waaroor julle geskryf het: “Dit is goed vir 'n man om nie met 'n vrou omgang te hê nie.” 2Maar om onsedelikheid te voorkom, laat elke man sy eie vrou hê en elke vrou haar eie man. 3Laat die man sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so die vrou teenoor haar man. 4Die getroude vrou het nie seggenskap oor haar eie liggaam nie, maar haar man wel; net so het die man ook nie seggenskap oor sy eie liggaam nie, maar sy vrou wel. 5Moet julle nie van mekaar weerhou nie, behalwe as julle ooreenkom om dit vir 'n tyd lank te doen om julle aan gebed te kan wy. En kom dan weer bymekaar, sodat Satan julle nie verlei as gevolg van julle gebrek aan selfbeheersing nie. 6Dit sê ek as toegewing, nie as voorskrif nie. 7 Ek wens alle mense kon soos ek wees; maar elkeen het 'n eie gawe van God ontvang, die een dit, die ander iets anders.
8Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek dat dit vir hulle goed is om ook soos ek te bly. 9Maar as hulle nie hulleself kan beheer nie, laat hulle trou, want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand.
Geen egskeiding vir gelowiges nie
10Aan dié wat getroud is, gee ek die opdrag – nie ek nie, maar die Here – dat 'n vrou nie van haar man mag skei nie. 11As sy tog skei, laat sy ongetroud bly of haar met haar man versoen. 'n Man mag ook nie van sy vrou skei nie.
12Maar aan die ander sê ek – nie die Here nie: As 'n broer 'n ongelowige vrou het wat instem om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie, 13en 'n vrou met 'n ongelowige man wat instem om by haar te bly, moet nie van hom skei nie. 14 Die ongelowige man is immers deur sy gelowige vrou geheilig, en die ongelowige vrou is deur haar gelowige man geheilig; anders sou hulle kinders •onrein wees, maar nou is hulle heilig. 15As die ongelowige egter wil skei, laat hy skei; in sulke gevalle is die broer of suster nie gebonde nie. God het julle egter geroep om in vrede te leef. 16Want hoe weet jy, vrou, of jy nie jou man sal red nie? Of hoe weet jy, man, of jy nie jou vrou sal red nie?
Lewenswyse volgens roeping
17Hoe ook al, laat elkeen leef in ooreenstemming met wat die Here aan hom toegedeel het, soos God elkeen geroep het. En so reël ek ook in al die •gemeentes. 18Iemand wat besny was toe hy geroep is, moet dit nie ongedaan laat maak nie. Iemand wat onbesny was toe hy geroep is, moet hom nie laat besny nie. 19 Die besnydenis beteken nie iets nie, die onbesnedenheid beteken nie iets nie, maar wel die gehoorsaamheid aan God se gebooie. 20Laat elkeen bly in die situasie waarin hy was toe hy geroep is. 21Is jy geroep toe jy 'n slaaf was, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy tog kan vry word, maak ten alle koste daarvan gebruik. 22Want die slaaf wat deur die Here geroep is, is 'n vrygemaakte van die Here; net so is die een wat as 'n vry mens geroep is, 'n slaaf van •Christus. 23Julle is duur gekoop; moenie langer slawe van mense wees nie. 24Broers, laat elkeen voor God bly soos hy was toe hy geroep is.
Oor ongetroudes
25Wat maagdelikheid betref, het ek nie 'n voorskrif van die Here nie, maar ek gee my mening as iemand wat, as begenadigde van die Here, betroubaar is. 26Weens die nood wat op hande is, meen ek dat dit vir 'n mens goed is om te bly soos jy is. 27Is jy aan 'n vrou verbonde, moenie die band breek nie; is jy nie aan 'n vrou verbonde nie, moenie 'n vrou soek nie. 28As jy egter trou, sondig jy nie, en as 'n maagd trou, sondig sy nie. Maar wie trou, sal in hierdie lewe swaarkry – en dit wil ek julle spaar.
29Wat ek bedoel, broers, is dat die tyd kort geword het. Wie 'n vrou het, moet van nou af so wees asof hulle nie 'n vrou het nie; 30wie huil, asof hulle nie huil nie; wie bly is, asof hulle nie bly is nie; wie koop, asof hulle nie besit nie; 31en wie betrokke is by die dinge van die wêreld, asof hulle nie betrokke is nie – want hierdie wêreld in sy huidige vorm is aan die verbygaan. 32Trouens, ek wil hê julle moet onbesorg leef. Die ongetroude man is besorg oor die belange van die Here, hoe hy die Here kan behaag, 33terwyl die getroude man besorg is oor die dinge van die wêreld, hoe om sy vrou te behaag; 34sy aandag is dus verdeeld. Die ongetroude vrou en die maagd is besorg oor die belange van die Here, sodat sy na liggaam en gees geheilig kan wees. Die getroude vrou is egter besorg oor die dinge van die wêreld, hoe om haar man te behaag. 35Ek sê dit vir julle beswil, nie om julle aan bande te lê nie, maar ter wille van eerbaarheid en onverdeelde toewyding aan die Here.
36As iemand dink dat hy onbehoorlik teenoor sy maagd optree, as sy begeerte te groot word, en hy oordeel dat dit so moet wees, moet hy sy voorneme uitvoer; hy sondig nie – laat hulle trou. 37Maar iemand wat in sy hart vas oortuig is – nie uit noodsaak nie, maar deur volle beheer oor sy wil – en in sy hart besluit om sy maagd te eerbiedig, tree reg op. 38Daarom tree hy wat met sy maagd trou reg op, maar hy wat nie trou nie, sal beter optree.
39 'n Vrou bly aan haar man verbind solank as wat hy leef; maar as haar man ontslaap het, staan dit haar vry om te trou met wie sy wil, maar slegs as dit in verbondenheid aan die Here is. 40 Tog sal sy, na my mening, gelukkiger wees as sy bly soos sy is. En ek glo dat ook ek die Gees van God het.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid