1 Korinthiërs 11

11
1 Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van •Christus volg.
Optrede in die erediens
2Ek prys julle, omdat julle altyd aan my dink, en omdat julle vashou aan die tradisies, soos ek dit aan julle oorgelewer het. 3Maar ek wil hê julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus. 4Elke man wat met 'n bedekking op sy kop bid of profeteer, doen sy hoof oneer aan. 5En elke vrou wat met 'n onbedekte kop bid of profeteer, doen haar hoof oneer aan; want dit is presies dieselfde asof haar kop geskeer is. 6Want as 'n vrou nie haar kop bedek nie, moet sy ook maar haar hare kort afsny. As dit vir haar 'n skande is om haar hare kort te sny of haar kop kaal te skeer, moet sy haar kop bedek. 7'n Man behoort nie sy kop te bedek nie, omdat hy die beeld en sieraad van God is, terwyl die vrou die sieraad van die man is. 8 Want die man is nie uit die vrou geneem nie, maar die vrou uit die man; 9 en die man is nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man. 10Daarom moet die vrou, ter wille van die engele, 'n teken van gesag op haar kop hê. 11Nogtans bestaan 'n vrou nie apart van 'n man nie en 'n man nie apart van 'n vrou nie – in die Here – 12want soos die vrou daar is uit die man, so ook is die man daar deur die vrou. Maar alle dinge kom van God. 13Oordeel julle self onder mekaar: Is dit gepas vir 'n vrou om met 'n onbedekte kop tot God te bid? 14Leer juis die natuurlike orde julle nie dat as 'n man sy hare lank dra, dit vir hom 'n oneer is, 15maar as 'n vrou haar hare lank dra, dit vir haar 'n eer is nie? Want lang hare is vir haar as 'n bedekking gegee. 16As iemand egter twisgierig wil wees – ons het nie so 'n gewoonte nie, en die ander •gemeentes van God ook nie.
Voorskrifte oor die Nagmaal
17In my volgende voorskrif prys ek julle nie aan nie, dat wanneer julle bymekaarkom, dit meer kwaad as goed doen. 18Allereers hoor ek dat wanneer julle as •gemeente saamkom, daar verdeling onder julle is; en in 'n mate glo ek dit, 19want daar moet onvermydelik groeperings onder julle kom, sodat dit duidelik kan word wie die beproefdes onder julle is. 20Wanneer julle saamkom, is dit nie werklik om die Here se maaltyd te eet nie; 21want elkeen gaan voort om sy eie maaltyd te eet, en een bly honger, en 'n ander word dronk. 22Het julle dan nie huise waar julle kan eet en drink nie? Of minag julle die gemeente van God, en verneder julle diegene wat niks het nie? Wat kan ek vir julle sê? Sal ek julle prys? Oor hierdie saak prys ek julle nie.
23 Ek het van die Here ontvang, wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem, 24en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam – ter wille van julle. Doen dit om My in herinnering te bring.” 25So ook met die beker ná die ete, met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe verbond deur my bloed. Doen dit, so dikwels as wat julle daaruit drink, om My in herinnering te bring.” 26 Want so dikwels as wat julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here, totdat Hy kom.
27 Daarom, wie op onwaardige wyse die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees teenoor die liggaam en die bloed van die Here. 28Maar laat elkeen homself ondersoek, en daarvolgens van die brood eet en uit die beker drink. 29Want die een wat eet en drink sonder om die liggaam van die Here daarin te onderskei, is besig om 'n oordeel oor homself te eet en te drink. 30Daarom is daar onder julle baie swakkes en siekes, en 'n hele paar het reeds ontslaap. 31Indien ons onsself deeglik sou beoordeel, sou ons nie geoordeel word nie. 32 As ons deur die Here geoordeel word, word ons gedissiplineer, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie.
33Daarom, my broers, wag vir mekaar wanneer julle saamkom om te eet. 34As iemand honger is, laat hy tuis eet, sodat julle nie 'n oordeel oor julle bring wanneer julle saamkom nie. Die oorblywende sake sal ek reël sodra ek kom.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid