1 Korinthiërs 12

12
Baie gawes maar een liggaam
1Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie. 2Julle weet dat, toe julle heidene was, julle dikwels na die stom afgode meegevoer is, op watter manier julle ook al daartoe verlei is. 3Daarom maak ek aan julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God praat, sê “Jesus is vervloek!” nie, en niemand kan sê “Jesus is die Here!” behalwe deur die Heilige Gees nie.
4Daar is 'n verskeidenheid genadegawes,
maar dit is dieselfde Gees;
5en daar is 'n verskeidenheid dienste,
maar dit is dieselfde Here;
6en daar is 'n verskeidenheid aktiwiteite,
maar dit is dieselfde God
wat al hierdie dinge in almal bewerk.
7Aan elkeen egter word die openbaring van die Gees gegee, met die oog op wat bevorderlik is:
8Aan een word 'n woord van wysheid
deur die Gees gegee,
aan 'n ander 'n woord van kennis
deur dieselfde Gees;
9aan een geloof
deur dieselfde Gees,
aan 'n ander gawes van genesing
deur die één Gees;
10aan een dinamiese kragte,
aan 'n ander weer die gawe van profesie;
aan een die onderskeiding van geeste,
aan 'n ander verskillende soorte tale,
en aan nog 'n ander die uitleg van tale.
11Een en dieselfde Gees bewerkstellig al hierdie dinge, wat Hy aan elkeen afsonderlik uitdeel volgens sy wil.
12Want soos die liggaam 'n eenheid is, maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met •Christus. 13En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk. 14Inderdaad, die liggaam bestaan nie uit een ledemaat nie, maar uit baie.
15As die voet sou sê,
“Omdat ek nie 'n hand is nie,
behoort ek nie
aan die liggaam nie,”
behoort hy daarom nie
aan die liggaam nie?
16En as die oor sou sê,
“Omdat ek nie 'n oog is nie,
behoort ek nie
aan die liggaam nie,”
behoort hy daarom nie
aan die liggaam nie?
17As die ganse liggaam oog was,
waar sou die gehoor wees?
As alles gehoor was,
waar sou die reuk wees?
18Maar nou het God die ledemate, elke enkele een van hulle, in die liggaam geplaas volgens sy besluit. 19As alles een ledemaat was, waar sou die liggaam wees? 20Maar nou is daar wel baie ledemate, maar net een liggaam. 21Die oog kan tog nie vir die hand sê, “Ek het jou nie nodig nie,” of die kop weer vir die voete, “Ek het julle nie nodig nie.” 22Inteendeel, die oënskynlik swakker liggaamsdele is baie meer noodsaaklik; 23en daardie dele van die liggaam wat ons as minder eerbaar beskou, klee ons met meer as die gewone eer, en die minder elegante dele met meer elegansie, 24terwyl ons meer elegante dele dit nie nodig het nie. Maar God het die liggaam so saamgestel, dat Hy meer respek toegewys het aan die deel wat dit die meeste nodig het, 25sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sal wees nie, maar die ledemate in gelyke mate vir mekaar sal sorg. 26As een ledemaat ly, ly al die ledemate saam; as een ledemaat vereer word, is al die ledemate saam bly.
27 Julle is die liggaam van •Christus, en elkeen individueel 'n ledemaat. 28In die •gemeente het God aangewys: eerstens •apostels, tweedens •profete, derdens leraars; daarna kragtige vermoëns, sowel as gawes van genesing, vermoëns om te kan help, om te lei, en verskillende soorte tale. 29Is almal dan apostels? Is almal dan profete, of almal leraars? Het almal miskien kragtige vermoëns? 30Het almal miskien gawes van genesing? Spreek almal dalk in tale? Kan almal dit dalk uitlê? 31 Julle lê julle toe op die belangriker genadegawes, maar ek wys julle die heel beste weg.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid