1 Kronieke 26

26
Poortwagte
1 Wat die afdelings van die poortwagte betref: Vir die Koragiete was dit Meselemja, seun van Kore, uit die nageslag van Asaf.
2Meselemja het die volgende seuns gehad:
Sagaria die eersgeborene, Jediael die tweede, Sebadja die derde, Jatniël die vierde, 3Elam die vyfde, Joganan die sesde en Eljehoënai die sewende.
4 Obed-Edom het die volgende seuns gehad:
Semaja die eersgeborene, Josabad die tweede, Joag die derde, Sagar die vierde, Netanel die vyfde, 5Ammiël die sesde, Issaskar die sewende en Peülletai die agtste, want God het hom geseën.
6Vir Semaja, sy seun, is die volgende seuns gebore – heersers van hulle familie omdat hulle dapper krygers was.
7Semaja se seuns was Otni, Refael, Obed en Elsabad.
Sy familielede Elihu en Semagja was onverskrokke.
8Al hierdie manne het van Obed-Edom afgestam. Hulle, hulle seuns en hulle familielede was bekwaam, met die vermoë om die taak te verrig – die 62 van Obed-Edom.
9Meselemja het onverskrokke seuns en familielede gehad – 18 van hulle.
10Gosa, uit die nageslag van Merari, het ook seuns gehad:
Simri was die hoof, al was hy nie die eersgeborene nie. Sy vader het hom egter as hoof aangestel. 11Gilkija was die tweede, Tebalja die derde en Sagaria die vierde.
Gosa se seuns en familielede was altesaam 13.
12Hierdie manne, die afdelings van die poortwagte, het op dieselfde wyse as hulle familielede en ooreenkomstig die getal manne, die verantwoordelikheid gehad om in die huis van die Here diens te doen. 13 Vir elke poort het hulle die lot gewerp volgens hulle families; op dieselfde wyse vir jonk en oud:
14 Aan die oostekant het die lot geval op Selemja.
Sagaria, sy seun, was 'n verstandige raadgewer. Hulle het die lot gewerp, en dit het vir hom op die noordekant geval;
15vir Obed-Edom was dit op die suidekant;
vir sy seuns by die voorraadkamers;
16vir Suppim en Gosa was dit die westekant, saam met die Sallegetpoort by die pad teen die opdraande.
Afdeling vir afdeling was daar:
17aan die oostekant 6 Leviete;
aan die noordekant daagliks 4;
aan die suidekant daagliks 4;
by die voorraadkamers twee-twee;
18en by die buitegeboue aan die westekant, 4 by die pad en 2 by die buitegeboue.
19Dit was dan die afdelings van die poortwagte van die familie van Korag en die familie van Merari.
Toesighouers en ander amptenare
20 Verder, wat die Leviete betref, hulle familielede moes toesig hou oor die skatte van die huis van God. Vir die gewyde skatte 21 was die nageslag van Ladan verantwoordelik, nakomelinge van Gerson deur Ladan. Die familiehoofde wat deur Ladan van Gerson afstam, Jegiël, 22die seuns van Jegiël, Setam en sy broer Joël, moes toesig hou oor die skatte van die huis van die Here.
23Wat die nakomelinge van Amram, Jishar, Hebron en Ussiël betref: 24 Subael, seun van Gersom, seun van Moses, was die leier wat moes toesig hou oor die skatte. 25Sy familielede aan Eliëser se kant, was Eliëser se seun Regabja, sy seun Jesaja, sy seun Joram, sy seun Sigri, en sy seun Selomit. 26 Hierdie Selomit en sy familielede moes toesig hou oor al die gewyde skatte wat koning Dawid en die familiehoofde, naamlik die •aanvoerders van duisend en die aanvoerders van honderd, en die leëraanvoerders aan die Here gewy het – 27as deel van die oorlogsbuit het hulle dit gewy vir die instandhouding van die huis van die Here28 ook alles wat die siener Samuel, wat Saul, seun van Kis, Abner, seun van Ner, en wat Joab, seun van Seruja, gewy het. Alles wat gewy is, was onder beheer van Selomit en sy familielede.
29 Wat die nakomelinge van Jishar betref: Kenanja en sy seuns het buite die •tempel as opsieners en regters oor Israel opgetree.
30 Wat die nakomelinge van Hebron betref: Gasabja en sy familielede, 'n duisend sewehonderd onverskrokke manne, moes die administrasie van Israel in verband met al die werk van die Here en die diens aan die koning behartig, van die Jordaan af weswaarts.
31 Wat die nakomelinge van Hebron betref: Volgens die familiegeskiedenis van die voorouers, was Jerija die hoof van die nakomelinge van Hebron. In die veertigste jaar van Dawid se regering is ondersoek ingestel, en daar is in Jaser in Gilead onder hulle dapper krygers gevind. 32Sy familielede was tweeduisend sewehonderd onverskrokke familiehoofde. Koning Dawid het hulle laat toesig hou oor die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse in verband met enige saak aangaande God of die koning.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid